Showing posts with label C Louis Leipoldt. Show all posts
Showing posts with label C Louis Leipoldt. Show all posts

Friday, 3 July 2026

Gedig: Die Hantam

As ouderdom, wat alles breek, sy volmag oor my kry,
Dan gaan ek na die Hantam waar ek hoort
En dra demoedig wat ‘n mens van ouderdom moet ly,
Voordat hy aanklop by die hemelspoort.
Dit lyk vir my die Hantam is die vredevolste plek
Hieronder op die wêreld wat ons het
Hoe lank die somersdae daar hul warm goud sonskyn rek,
Hoe jubel daar die vinke in hul pret,
Hoe skitter daar die voorjaarsprag in kleure honderdtal,
Hoe verf die najaarberge met sy bruin,
En in die koue winterstyd hoe raas die waterval
En blink kapok op elke berg se kruin.
Die wilde bok wat voel sy krag verminder as hy stry
Soek rustyd in die skuiltes van sy soort.
As ouderdom, wat alles breek, ‘n houvas oor my kry,
Dan vlug ek na die Hantam waar ek hoort.

[C. Louis Leipoldt]

Friday, 26 June 2026

Gedig: Siembamba

Woorde: Tradisioneel en C.J. LANGENHOVEN: Vers 1, 2, 3, 4, 5
Musiek: S.A. Volkswysie; verwerk: H. PIETER VAN DER WESTHUIZEN, 1978

Siembamba, mama se kindjie,
Siembamba, mama se kindjie
--draai sy nek om, gooi hom in die sloot;
trap op sy kop dan is hy dood.

[C.J. Langenhoven]

Siembamba, Siembamba,
Mame se kindjie, Siembamba!
Vou maar jou handjies saam, my kind:
Hoor tog hoe huil die noordewind!
Hier in die kamp is alles stil,
Net maar die wind waai soos hy wil;
Net maar jy self kan kreun en steun:
Niemand sal hoor nie, niemand, seun!
Almal is besig! Oor die land
Drywe 'n wolk van die noordekant -
Swart soos die rook uit die skoorsteen puil,
Swart soos die nag, en nes roet so vuil:
Vou maar jou handjies dig tesame
Sluit maar jou ogies, en se ame!

Siembamba, Siembamba,
Mame se kindjie, Siembamba!
Jy, wat die hoop van ons nasie is;
Jy, wat ons volk so min kan mis;
Jy, wat moet opgroei tot 'n man;
Jy, wat moet plig doen, as jy kan:
Jy, wat geen deel aan die oorlog het;
Jy, wat moet sing uit pure pret -
Jy moet verkwyn in 'n kinderkamp,
Jy moet vir vrede word uitgestamp:
Vou maar jou handjies dig tesame,
Sluit maar jou ogies, en se ame!

Siembamba, Siembamba,
Mame se kindjie, Siembamba!
Kinkhoes en tering, sonder melk:
Bitter vir jou is die lewenskelk!
Daar is jou plek, by die graffies daar -
Twee in een kussie, 'n bruilofspaar!
Alles vir ons wat die oorlog hou -
Alles vir ons, en niks vir jou:
Jy het van ons jou plig geërwe -
Plig om as kind vir ons land te sterwe!
Al wat jy wen, is dat ons onthou:
Meer was die vryheid as kind of vrou!
Vou maar jou handjies dig tesame,
Sluit maar jou ogies, en se - ame!

[C. Louis Leipoldt [1880-1947]

[Klik HIER vir meer inligting.]