Showing posts with label Dalene Cronjé. Show all posts
Showing posts with label Dalene Cronjé. Show all posts

Sunday, 18 May 2025

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Die hart se toegangshek

Groete en Vrede!!!

So teen die middel van Meimaand, sal vroegoggend temperature luidkeels vertel dat die winter aan die kom is. Wel, die spesifieke Woensdagoggend het ‘n geniepsige en ysige suidewindjie ‘n groepie vroue skuins na ontbyttyd ons kuierkombuis ingejaag. Daar het hulle al te snoesig so kuier-kuier, elkeen met 'n beker stomende koffie, stadig maar seker van die koue begin vergeet. My terloopse opmerking so in die verbyloop, veroorsaak dat ‘n iedere ene met groot wit oë, eers na die Mooiste Mooi en daarna na my kyk.

Skok en verbasing is duidelik in hoofletters asook uitroeptekens op hierdie groepie Kalahari-bewoners se gesigte geskryf. Opeens begin almal in die kuierkombuis praat terwyl die meeste se arms woes rondswaai. Hoe meer hulle beduie, hoe harder weerklink hulle stemme. Sommer dwarsdeur ons hele huis. Heel vergete is die vrede en rustigheid wat hulle kom opsoek het, want my terloopse opmerking ‘n jakkals in hulle skaapkraal losgelaat. Niemand kan ‘n woord uitmaak van wat gesê word nie omrede elkeen van die kuiergaste het dit op haar geneem om my van plan te verander.

Met haar streng Graad 1-dissiplinêre stem dring die Mooiste Mooi aan op stilte. Skielik raak dit stil om die kuierkombuis se tafel. Dit ten spyte van elkeen se woer-woer emosies. Marja en Engeltjie probeer nog om ‘n laaste woord in te kry maar die kyk in die Mooiste Mooi se oog maak dat hulle opslag hulle woorde insluk. Soos net ‘n goeie onderwyseres kan, verduidelik die Mooiste Mooi baie rustig dat ek - soos gewoonlik - hulle alweer gekoggel het. My terloopse opmerking dat ons dit ernstig oorweeg om ‘n beroep na ‘n voorwêreld gemeente te aanvaar, was net ‘n grap.

Stadig maar seker raak dit weer rustig om die kuierkombuis se tafel maar die klompie woestynbewoners kyk my wantrouig aan. Weer verduidelik die Mooiste Mooi dat ons nêrens heen gaan nie. Ons gaan net hier bly. Hier op Noenieput. “Ai pastoor,” sê Ousa lateraan terwyl sy haar beker versigtig vir Koba aangee, “ek het nou my koffie koud geskrik.” Koba soek die Mooiste Mooi se oog vir toestemming op en staan dan stadig op om die fluitketeltjie weer vol reënwater te maak. Daarna steek sy die gasstoof brand.

Terwyl almal vir die keteltjie wag om te fluit, gesels en vertel die klompie vrouens spontaan hoe hulle lewens verander het vandat ek en die Mooiste Mooi in die Kalahari is. "Julle mag nie weggaan nie, mevrou,” beduie Vytjie wie se woordeskat gewoonlik ‘n groot droogte beleef, “onse lewens is dan so geseënd vandat julle hier by ons op Noenieput kom adres gemaak het.” Vytjie se woorde is skaars ons ore in toe Ousa saggies sê: “Ja, en dit is hoekom pastoor en mevrou nie mag weggaan nie. Niemand het ons nog ooit met die Skeppergod se liefde raak geleef soos julle nie.”

Opeens besef ek dat Vytjie en Ousa se woorde weerspieël iets wat Laban van ouds saam met Jakob (dis nou Isak se seun en Abraham se kleinseun) beleef het. As iemand wat nie 'n verhouding met die Here gehad het nie, het Laban in ‘n oomblik van rou eerlikheid erken en verklaar dat hy geseën word as gevolg van Jakob. Hierdeur getuig Laban onwillekeurig van die Skepper se goedheid en almag. Hy besef dat as Jakob en sy gesin gaan aanskuif soos wat Jakob te kenne gegee het, gaan hy wat Laban is, se seëninge opdroog.

Terselfdertyd besef ek dat ons as mensegoed diep in ons harte ‘n groot stuk hoop het dat daar in ons lewens ook êrens 'n Jakob is. Iemand wie se verhouding met die Skeppergod my en jou tot voordeel sal strek. Iemand wat God se toegangshek na ons harte is. En tog ... tog wil ek en jy mos nie maklik iemand anders se toegangshek wees nie. Dit is mos nie hoe ons dink se drade aan mekaar gekoppel is nie. Inteendeel, ons jaag eerder ons eie seëninge want daarin is satisfaksie en genoegdoening opgesluit.
 
As lojale en pligsgetroue dienskneg, het Jakob vir 14 jaar - sonder materiële vergoeding - gewerk, geswoeg en gevare trotseer. Hierdeur het hy het meer van 'n verhouding met die Here gedemonstreer as wat 'n swetterjoel woorde ooit kan doen. Hy het nie gepreek, gebid, gesalf of duiwels en demone rondgejaag nie. Inteendeel, Jakob het bloot net vir Laban raak geleef. Hy het gedoen wat van hom verwag was ... dag vir dag, maand vir maand, vir 14 jaar aaneen. Jakob was God se toegangshek na Laban se hart sodat hy wat Laban is, daaroor kon getuig.

‘n Rukkie later sak ‘n vredevolle stilte in die kuierkombuis neer toe Ousa die kombuisdeur agter die klompie vroue toetrek. Steeds eggo Vytjie en Ousa se woorde in my hart. En so besef ek hoe kosbaar en spesiaal dit is om die Skepper van hemelgoed en stofaarde se toegangshek na iemand se hart te wees. ‘n Toegangshek sodat Hy ander kan seën.

Gen 30 vers 27 (Afr20) = “Laban het hom geantwoord: “As jy my asseblief net goedgesind sal wees! Ek het uit die voortekens te wete gekom dat die Here my geseën het om jou ontwil.”

Sandkorrel baie seëninge.

Los jou voetspore as jy wil by:

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549

Klik HIER om meer van Divine Life Bediening se doen en late te lees. Kontak hulle gerus en sit hulle op jou gebedslysie, asb.

['n Spesiale dankie, Valerie, wat so gereeld hierdie wonderlike WATERDRUPPELS met ons lesers deel. Dit is só spesiaal en mag hierdie voetspore ook hulle pad vind na waar die behoefte die grootste is.]

Sunday, 2 March 2025

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Die resep

Groete en Vrede!!!

Dit was Vrydagoggend laat toe die Genadewa onder Lemoenkolk se oop stoor staning gemaak het. Lemoenkolk, is ‘n Kalahari-plaas wat so stukkie oos van die potloodstreepgrensdraad tussen Suid-Afrika en Namibië lê.

Kort ná die vriendelik groet is ons sagte stoele toe en is die gasstoof brand gesteek. Maar dié oggend was daar veel meer as net drinkgoed. Saam met die koffiebekers en natuurlik 'n tee koppie vir die Mooiste Mooi word kleinbordjies en koekvurkies ook heel deftig uitgepak. Vandag is spesiaal want vandag eet ons wortelkoek vir die heel eerste keer op Lemoenkolk.

Ek sal die smaak van daardie wortelkoek nie gou kan of wíl vergeet nie … selfs tot in my kierieloopdae. Die enigste woord om hierdie smaaksensasie te beskryf is “perfek!” Alles omtrent hierdie wortelkoek was perfek. Versigtig steek ek so ’n klein hoekie af en sit dit in my mond. Met skilpadspoed smelt die stukkie wortelkoek weg. Dis sekerlik hoe die Hemel moet proe, dink ek by myselwers, want die smaak is hemels. Ek kan nie besluit of die stukkie hemelgeskenk bekyk, geruik of geëet moet word nie. Die aroma, die tekstuur, die vogbalans, die versiering asook die aanbieding was onverbeterlik. Vir ‘n tweede keer sit ek weer ‘n klein stukkie in my mond en vir ‘n tweede keer smelt die wortelkoek bietjie vir bietjies weg.

Die resep; ek moet hierdie wortelkoek se resep kry. Alles draai tog mos maar om die resep. Van die vroegste tye af word resepte al gedeel, uitgeruil en oor en weer gestuur. Dit verseker dat die lekkerte wyd oor die vlak kan loop.

Selfs die Skeppergod het ’n resep uitgedeel. Hy het vir die 99-jarige Abram ’n resep vir voorspoed, beskerming en guns gegee. ’n Resep met net twee bestanddele wat in bykans enige verhouding gemeng kan word. Die eerste is om voor Hom te leef en die tweede om onberispelik te wees Net dit. Niks meer en niks minder nie.

Goddelike voorspoed, beskerming en guns vra geen formule, geen reëls, geen wette, geen ordonnansies of regulasies wat nagekom moet word nie. Al wat nodig is vir hierdie Godgegewe lekkerte, is om voor Hom of in Sy teenwoordigheid te leef en om onberispelik te wees. So maklik soos dit. Vir Hom is dit genoeg, meer as genoeg, want Hy weet alles en Hy verstaan alles.

Deesdae probeer ek nie eers Lemoenkolk se wortelkoek bak nie. Nee wat, ek bêre daardie smaaksensasie vir elke keer as ek en die Mooiste Mooi die voorreg het om op Lemoenkolk wortelkoek te kan eet. En klokslag as ons op Lemoenkolk oorstaan en bederf word met wortelkoek, dink ek aan die bejaarde Abram se resep wat die Skeppergod vir die mensegoed gegee het. ’n Resep vir voorspoed, beskerming en guns met slegs twee bestanddele. Leef voor Hom en wees onberispelik.

Gen 17 vers 1 (Afr 20) = "Toe Abram nege-en-negentig jaar oud was, het die Here aan Abram verskyn en vir hom gesê: “Ek is God, die Almagtige. Leef voor My, en wees onberispelik!”

Sandkorrel baie seëninge. 

Los jou voetspore as jy wil by:

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549

Klik HIER om meer van ons doen en late te lees. Kontak ons gerus en sit ons op jou gebedslysie, asb.

[Dankie, Valerie, wat so gereeld hierdie wonderlike WATERDRUPPELS met ons deel. Dit is só spesiaal en mag hierdie voetspore ook hulle pad vind na waar die behoefte die grootste is.]

Sunday, 22 December 2024

WATERDRUPPEL vir die WEEK = ‘n Maand vol dankbaarheid

Groete en Vrede!!!

Desember is spesiaal. Desember is baie spesiaal want Desember is ‘n maand vol dankbaarheid.

‘n Maand om jou te verbeel
Dat elke sonstraal wat jou ontblote vel warm streel,
Jou oortuig van ‘n sagte soen
Wat Vader liefderik en aanhoudend doen.

‘n Maand waar Sy liefde as warm herinnering
Lewegewende reënwolke van Bo af bring,
‘n Genademantel wolksambreel
Wat jy met almal na aan jou moet deel.

Ek en die Mooiste Mooi wil ook dankie sê vir soveel mense wat êrens in die loop van die jaar by die binnevoerings van ons harte stilgestaan het. Mense soos jy!!! Dankie vir die wete dat daar spesiale voorwêreld mensegoed soos jy is. Mensegoed wat belangstel in die meeste van ons doen en late en natuurlik aan ons dink voordat jy in jou binnekamer met die Skepper van hemelgoed en stofaarde oor ons praat. Ek en die Mooiste Mooi woon, werk en kerk in ‘n uitgestrekte wêreld vol sand, son en klip. En tog is die wete dat jy aan ons dink veel kosbaarder as koel soetwater in ‘n dorre woestyn. Voorwaar ‘n voorreg ... voorwaar ‘n spesiale voorreg!

Desember se sonsteek dae sal stadig maar seker aanskuif net om weer een oggend aan te kondig dat dit Kersfees is. Vir sommige bring dit oorweldigende vreugde, terwyl ander se slagare rooipers sal bult van omgekrap wees. Kom ek en jy wees eerder stil en staan weg van die geveg af. Laat ons eerder die Kripkind dank en daarop fokus dat geen Vrede en Genade enigsins moontlik sou wees sonder Jesus as God die Kêrelkind se geboorte nie. 

Neem tog ook asseblief kennis dat hierdie ook my laaste geskrif is vir 2024. As alles mooi uitwerk soos ek en die Mooiste Mooi hoop en beplan, behoort jy weer een Maandagoggend vroeg – dit is nou kort voor 2025 se Januarie klaarmaak – ‘n Waterdruppel vir die Week te ontvang.

Wel, alvorens hierdie jaar se Groot dae aan ons voordeur klop, moet daar heelwat doendinge eers afgehandel word. Mag die jaar wat kom, ‘n besondere geloofsjaar vir jou en jou hartsmense wees. Mag julle verhouding met die Skepper van hemelgoed en stofaarde veel meer intenser en intiemer wees as wat jy ooit sou dink of droom. En tot 2025 met al sy potensiaal en beloftes deel van ons menswees is ... rus goed, slaap diep, kuier lekker, los mooi spore en moet tog nie vergeet om te onthou dat daar iewers agter sandduine mense woon wat vir jou omgee omrede jy kosbaar en spesiaal is nie. 

Kol 2 vers 7 (NLV) = "Bly in Christus geanker en bou op Hom, standvastig in die geloof soos julle geleer is, en loop oor van dankbaarheid.

Sandkorrel baie seëninge.

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549
Klik HIER om meer van ons doen en late te lees. Kontak ons gerus en sit ons op jou gebedslysie, asb.

[Dankie, Valerie, wat so gereeld hierdie wonderlike WATERDRUPPELS met ons deel. Dit is só spesiaal en mag hierdie voetspore ook hulle pad vind na waar die behoefte die grootste is.]

Sunday, 15 December 2024

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Kies jou geskenk

Groete en Vrede!!!

Met die “groot dae” aan die kom en die ergste hittigheid van ons wêreld op sy snykant, beweeg die Kalahari se mensegoed gewoonlik so bietjie stadiger. Die bietjie meer as twintigtal Bybelskoolstudente weet ook dat daar kort duskant Desember gewoonlik afsluiting gehou word. Afsluiting om die jaar behoorlik toe te maak. Maar dit is nie sommer net ‘n afsluiting nie. Die tafels kreun gewoonlik van al die kossigheid, yskoue koeldrank, stroopsoet poeding, oorvol lekkergoed pakkies, ‘n verskeidenheid van terte. Daar is ook kleurvolle bewoningsertifikate en natuurlik geskenke. Dit is al waaroor daar gepraat en gewonder word. Die afsluiting ... en alles wat daardie dag geëet en gedrink gaan word en natuurlik die verrassingspakkies wat toegedraai is in kleurvolle geskenkpapier.
 
Hierdie jaar het die Mooiste Mooi haar behoorlik afgesloof om te sorg dat die Ark ‘n kleurvolle lushof vir die oog is. Haar handewerk vertel onomwonde 'n storie van behoorlike feesvieringe. As die nie amptelike moeder van die gemeenskap het sy behoorlik seker gemaak dat die Bybelskoolstudente behoorlik getrakteer word met helder liggies, vrolike musiek en keurig versierde tafels. Daar is natuurlik genoeg kossigheid en amper te veel yskoue koeldrank. Genoeg om selfs Egipte se onthaallokale en kostafels koeskop te laat staan. En natuurlik die geskenke - moet tog samblief nie van die geskenke vergeet nie. Verrassingspakkies wat toegedraai is in kleurvolle geskenkpapier
So sit ons 2024 se saak laas week in die sakkie. Ons eet en drink en lag en gesels. Ons onthou die mooi en die minder mooi, die lekker en die onlekker, die uitdagings en die oorwinnings asook die oorvloed sowel as gebrek. En natuurlik moes elkeen iets vertel van wat die Bybelskool die afgelope jaar vir hom of haar beteken het.
 
Sommer kort nadat die poedingbakkies in die Ark se wasbak gesit is, breek die groot oomblik aan. Geskenketyd. Die oomblik waaroor daar so baie gepraat, gewonder en selfs gehoop is. Veral nadat ek al vroeër die jaar met skimpe en leidrade vertel het wat moontlik in die pakkies mag wees.
 
Die atmosfeer in die Ark is botterdik. Almal se oë is op die Mooiste Mooi gevestig wat baie versigtig en tydsamig ‘n naam uit ‘n hoed trek. Sodra die naam uitgelees is, kon hy of sy ‘n geskenk uitsoek. ‘n Geskenk wat in bont papier toegedraai is. ‘n Geskenk wat op daardie stadium gekies maar nog nie oopgemaak mag word nie. En as ‘n geskenk uitgesoek is, moes die Mooiste Mooi weer ‘n naam trek. Al te versigtig en al te tydsamig.
 
Ek staan so half eenkant en drink die gebeure wat voor my afspeel, in. Meteens besef ek dat, desondanks die rou werklikheid dat geeneen van hulle enige seggenskap of besluit gehad het in die geskenkpakkies nie, blydskap en dankbaarheid uit almal se binneste binne stroom. Sien, hierdie klompie Kalahari mensegoed kon kies watter geskenkpakkie hulle wil hê, maar nie een kon kies wat daarin is nie. Daarvoor was hulle totaal en al aan my en die Mooiste Mooi se guns en goedhartigheid uitgelewer. Ons het besluit wat in elke pakkie toegedraai moes word.
 
Verdermeer besef ek ook dat dit nie die geval is wanneer die bekende storie van die verlamde man langs Betesda se "gesond-word-water" gelees word nie. In Johannes 5 (waar die storie opteken is) bied Jesus ‘n geskenk op ‘n onverwagte en onrealistiese wyse aan ‘n kreupel man. As die Geskenkgewer wat goed vertroud is met die man se siekte die afgelope 38 jaar, vra Jesus hom of hy gesond wil word. By implikasie vra God se Kêrelkind - wat weet van die verlamde man se hoop, sy drome, sy ideale en natuurlik ook sy verwagtinge - wat hom bly sal maak. As ontvanger kan hy kies wat sy geskenk moet wees. ‘n Geskenk wat meer as net sy lewe onherroeplik verander. ‘n Geskenk wat ook die koninkryk van God help uitbrei.
 
Dit is 2024 en niks het regtig verander nie. Net mooi niks nie. Die Kêrelkind van God weet steeds alles van my en van jou. Daarmee saam weet Hy ook van elke mensegoed se kopseer, seer lyf, vernielde binnevoering, gebroke verhoudinge en natuurlik ons beursies. Hy is ook deeglik bewus van alle mensegoed se hartsbegeertes, drome, ideale en verwagtinge. Niks en absoluut niks is vir Hom weggesteek nie.

En net soos vir die verlamde kreupele langs Betesda se "gesond-word-water", vra die Skeppergod se Geskenkgewer vandag vir my en jou wat ons as geskenk wil hê. Ons kan kies. Ons kan ons eie geskenk kies. ‘n Kleurvolle kosbare geskenk wat meer as net ons individuele lewens onherroeplik sal verander. Dié geskenk sal ook tot voordeel van Sy koninkryk wees. Ons moet net kies.
 
Joh 5 vers 6 (NLV) = "Jesus het hom daar sien lê. Hy het geweet dat die man al lank siek was en vra hom toe: “Wil jy graag gesond word?”"

Sandkorrel baie seëninge.

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549
Klik HIER vir verdere inligting.


[Dankie, Valerie, vir die deel van hierdie stukkie. Waardeer. Indien jy as leser wil en betrokke kan raak by hierdie uitreiking, maak asseblief gebruik van die kontakdetail hierbo.]