Dit was Vrydagoggend laat toe die Genadewa onder Lemoenkolk se oop stoor staning gemaak het. Lemoenkolk, is ‘n Kalahari-plaas wat so stukkie oos van die potloodstreepgrensdraad tussen Suid-Afrika en Namibië lê.
Kort ná die vriendelik groet is ons sagte stoele toe en is die gasstoof brand gesteek. Maar dié oggend was daar veel meer as net drinkgoed. Saam met die koffiebekers en natuurlik 'n tee koppie vir die Mooiste Mooi word kleinbordjies en koekvurkies ook heel deftig uitgepak. Vandag is spesiaal want vandag eet ons wortelkoek vir die heel eerste keer op Lemoenkolk.
Ek sal die smaak van daardie wortelkoek nie gou kan of wíl vergeet nie … selfs tot in my kierieloopdae. Die enigste woord om hierdie smaaksensasie te beskryf is “perfek!” Alles omtrent hierdie wortelkoek was perfek. Versigtig steek ek so ’n klein hoekie af en sit dit in my mond. Met skilpadspoed smelt die stukkie wortelkoek weg. Dis sekerlik hoe die Hemel moet proe, dink ek by myselwers, want die smaak is hemels. Ek kan nie besluit of die stukkie hemelgeskenk bekyk, geruik of geëet moet word nie. Die aroma, die tekstuur, die vogbalans, die versiering asook die aanbieding was onverbeterlik. Vir ‘n tweede keer sit ek weer ‘n klein stukkie in my mond en vir ‘n tweede keer smelt die wortelkoek bietjie vir bietjies weg.
Die resep; ek moet hierdie wortelkoek se resep kry. Alles draai tog mos maar om die resep. Van die vroegste tye af word resepte al gedeel, uitgeruil en oor en weer gestuur. Dit verseker dat die lekkerte wyd oor die vlak kan loop.
Selfs die Skeppergod het ’n resep uitgedeel. Hy het vir die 99-jarige Abram ’n resep vir voorspoed, beskerming en guns gegee. ’n Resep met net twee bestanddele wat in bykans enige verhouding gemeng kan word. Die eerste is om voor Hom te leef en die tweede om onberispelik te wees Net dit. Niks meer en niks minder nie.
Goddelike voorspoed, beskerming en guns vra geen formule, geen reëls, geen wette, geen ordonnansies of regulasies wat nagekom moet word nie. Al wat nodig is vir hierdie Godgegewe lekkerte, is om voor Hom of in Sy teenwoordigheid te leef en om onberispelik te wees. So maklik soos dit. Vir Hom is dit genoeg, meer as genoeg, want Hy weet alles en Hy verstaan alles.
Deesdae probeer ek nie eers Lemoenkolk se wortelkoek bak nie. Nee wat, ek bêre daardie smaaksensasie vir elke keer as ek en die Mooiste Mooi die voorreg het om op Lemoenkolk wortelkoek te kan eet. En klokslag as ons op Lemoenkolk oorstaan en bederf word met wortelkoek, dink ek aan die bejaarde Abram se resep wat die Skeppergod vir die mensegoed gegee het. ’n Resep vir voorspoed, beskerming en guns met slegs twee bestanddele. Leef voor Hom en wees onberispelik.
Gen 17 vers 1 (Afr 20) = "Toe Abram nege-en-negentig jaar oud was, het die Here aan Abram verskyn en vir hom gesê: “Ek is God, die Almagtige. Leef voor My, en wees onberispelik!”
Sandkorrel baie seëninge.
Los jou voetspore as jy wil by:
Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549
Klik HIER om meer van ons doen en late te lees. Kontak ons gerus en sit ons op jou gebedslysie, asb.
[Dankie, Valerie, wat so gereeld hierdie wonderlike WATERDRUPPELS met ons deel. Dit is só spesiaal en mag hierdie voetspore ook hulle pad vind na waar die behoefte die grootste is.]
No comments:
Post a Comment