Showing posts with label Die Taalgenoot. Show all posts
Showing posts with label Die Taalgenoot. Show all posts

Friday, 6 September 2024

Vrydag-terugflits: Geitjie in die Boeing

Wys my 'n meisiekind met sproete en oranjerooi hare en ek wys vir jou 'n geitjie, sê 'n mooi vrou met swart hare en bottelkuite in die vertreksaal van die lughawe.

Sy sê dit op 'n goedige manier, want die rooikop met die sproete na wie ons sit en kyk, is nie ouer as ses nie.

'n Geitjie - as iemand nie dié uitdrukking ken nie - is 'n parmantige meisiekind, soos die een wat haar verloofde in die woonstel bokant myne met die konfytkant van 'n sny brood geklap het.

Eintlik ken ek heelparty stories van rooikoppe, soos van die enetjie in Australië wat paljas op ons toebroodjies wou smeer omdat ons in haar eetplek Afrikaans gepraat het, maar dit is 'n lang storie.

Nietemin. Soos dit dikwels gebeur wanneer 'n mens in die vertreksaal na iemand sit en kyk, beland ek en die geitjie in die vliegtuig langs mekaar; ek met my koerant en sy met haar handsakkie van plastiek.

Sy ken die vliegtuigryery, want sy gord vas en kyk by die venster uit voordat ek kan aanbied om haar te help. Sy draai eintlik haar rug na my toe, asof sy daarmee wil sê sy het nie geselskap nodig nie.

Die Boeing trek al hier by 6000 meter toe sy terugdraai en 'n peperment uit die handsakkie haal. Toe kyk sy vir die eerste keer na my - na my hande, my das, my kraag, my bril en my hare en terug tot by die hande.

"Wanneer kom die koeldrank?" vra sy.

Op dié manier raak ons darem so half aan die gesels, al steur sy haar nie aan vrae nie en doen sy self die vrae-werk. "Waar's jou vrou?" wil sy weet. Hoekom vlieg sy nie saam nie? Hoeveel kinders het julle? Hoe oud is hulle? Wat's hulle name?"

Sy vra 'n Sprite en twee pakkies grondboontjies toe die lugwaardin verbykom.

"Lees jy by die huis ook heeltyd koerant?" vra sy toe ek naderhand die agterstallige leeswerk probeer inhaal.

"Kyk jy saans televisie of speel jy met jou kinders?"

Toe ons oor die Grootrivier vlieg, wys ek haar die blink lint en sê dit is waar ek grootgeword het.

"Woon jou ma-hulle nog daar?" hervat sy haar ondervraging.

"Wanneer gaan jy vir hulle kuier? Gaan jou kinders saam? Is jou ma-hulle lief vir jou kinders?"

Toe die ete bedien word, weet ek nog nie eens wat haar naam is nie, en sy weet omtrent alles van my, behalwe my banknommer.

Sy hoop ons kry nie hoender nie, want die hoender in 'n vliegtuig is nie soos Kentucky nie, sê sy. As ek nie my kaas en sjokolade wil hê nie, sal sy dit vat.  Sy vat altyd vir haar ouma 'n stukkie vliegtuigkaas en die stukkie sjokolade.

Nou weet ek darem sy gaan by haar ouma kuier.

Nadat sy haar kaas en sjokolade geëet het en myne in die handsakkie gebêre het, waag ek dit om haar oor haar ouma uit te vra. Dié woon in Belville, wat nie ver van die see af is nie, maar te ver om te stap.

Eers toe die vliegtuig oor die Kaapse Vlakte sak, sê sy haar naam is Mariaan en sy word so vies wanneer haar ouma Marie-jaan sê. Haar ouma en oupa wat dood is, het ook so Marie-jaan gesê.   

Die Boeing hardloop al op die aanloopbaan toe ek verneem sy woon in Johannesburg by haar oupa en sy nuwe vrou, wat baie jonger as haar ouma is, maar nooit tyd het om te gesels nie. Dit is dié dat sy dikwels vir haar ouma in die Kaap gaan kuier.

Iets sê vir my, nou weet ek soveel van haar soos ek behoort te weet. Dit is die rede hoekom ek nie verder uitvra nie.

Toe die passasiers begin toustaan om af te stap, klim die geitjie oor my bene om in die paadjie te kom. Sy sê dankie vir die kaas en die sjokolade en sy hoop ek gaan gou terug huis toe, want my kinders sal verlang.

Ek sit en wag maar dat die mense begin uitstap terwyl die een vraag in my brand; die vraag wat ek te bang was om te vra.

Sy stap eers 'n entjie saam met die tou, maar toe draai sy om en kom fluister in my oor voordat sy wegskarrel: "My pa het my ma geskiet en nou sit hy in die tronk, want hy's 'n moordenaar."

Gerhard Burger

[Die Taalgenoot - Kortom - Gerhard Burger - Julie 1992] 

Klik HIER en word deel van Die Taalgenoot-familie. 

Tuesday, 25 June 2024

Terugflits: Kimberley Jim en die perde

Dit kan 'n liegstorie ook wees, maar 'n man wat grys sou gewees het as hy nie bles was nie, vertel nou die dag in 'n vliegtuig 'n interessante storie.

Agt maande gelede, sê hy, staan een van sy kollegas, wat Kimberley Jim genoem word, een môre voor 'n plek waar mense geld op die perde verwed.

Kimberley Jim, wat dikwels wens hy kan vinnig ryk word, soos die delwers by Kimberley, vroetel in sy voorsakkie en haal R14 uit.

Hy staan nog so met die R14 en wonder of hy moet of liewer nie, toe staan 'n ou tannie van maklik 75 langs hom.

Sy wil haar nie met sy sake bemoei nie, sê sy, maar as hy die winste met haar deel, sal sy die geld gaan verwed volgens 'n stelsel wat sy van haar oorlede man geleer het.

Kimberley Jim is die soort mens wat grys tannies vertrou, met die gevolg dat hy die geld aan haar gee en 'n afspraak maak om haar die middag ná die wedrenne op dieselfde plek te kry.

Dit is toe dat hy sy eerste R350 000 gewen het.

Die ou vroutjie was sesuur daar met die wedkaartjie in haar hand en hulle het saam-saam die R700 000 gaan opeis.

Die volgende twee weke het Kimberley Jim haar elke wedrendag daar in die straat gaan soek, maar dit was eers in die derde week toe hy met R250 in sy hand voor die wedplek staan, dat sy skielik weer langs hom opduik.

Sy het R25 geneem en hom gedwing om die ander geld in sy sak te steek. Toe hulle dié middag sesuur weer voor die wedplek staan, was hulle elk R400 000 ryker. 

Na nog ses weke, sê die bleskop, was Kimberley Jim 'n man met byna R2 miljoen in die bank, maar met geen benul van wie die ou tannie is nie.

Al wat sy wou sê, is dat sy die Booysens-bus huis toe haal en nie saam met vreemde mans in motors ry nie.

Eers ná hul tweede groot geluk het hy sy vrou van die ou vrou se rol in sy geldwennery vertel. Hy het toe al vir sy vrou 'n nuwe motor gekoop en 'n stapel R50,00-note in haar handsak gedruk terwyl sy geslaap het.

Die meeste vroue sou dankbaar gewees het, maar Kimberley Jim s'n is 'n agterdogtige, jaloerse vrou. Sy glo nie die storie van die ou tannie en die weddenskappe nie.

Die volgende maand het sy elke wedrendag saam met Kimberley Jim voor die wedplek gaan staan, maar die ou vroutjie het nie een keer opgedaag nie. Kimberley Jim se vrou het hom begin wantrou.

Verlede week, toe sy vrou nié saamgaan nie, loop Kimberley Jim weer die ou tannie raak en sy gaan verwed R18 000 op die perde waarmee hulle elk oor die R200 000 wen.

Toe hulle dié aand groet en van mekaar wegstap, maak Kimberley Jim 'n draai en volg haar tot by die busterminus.

Hy klim vinnig voor haar in die Booysens-bus en gaan sit heel agter. Na 'n rukkie klim sy ook in en gaan sit omtrent in die middel. So ry hulle toe saam-saam Booysens toe.

Soos 'n regte speurder klim Kimberley Jim skelmpies by die bushalte af waar die ou tannie afklim en stap 'n hele ent agter haar straat af.

Uiteindelik gaan staan sy voor 'n geboutjie wat jare gelede 'n huis was, maar nou deur 'n loodgieter gebruik word. Sy sluit die deur oop en stap binne.

Kimberley Jim wag 'n paar minute en gaan klop toe aan. Hy klop en klop totdat sy vinger seer is, maar niemand kom maak oop nie.

Die volgende dag was Kimberley Jim vroeg by die geboutjie waar die loodgieter eers agtuur opgedaag het.

Toe Kimberley Jim hom oor die ou vroutjie uitvra, het die loodgieter gevra of hy koffie wil drink terwyl hy na die storie luister.

In Booyens weet almal van die ou tannie, het hy vertel. Sy het tot in 1952 in die huis gewoon wat nou die loodgieter se werkplek is.

Haar man is in 1950 aan myntering dood en sy het nie 'n sent geërf nie omdat hy alles op die perde uitgespeel het. Sy is twee jaar later in 'n armmansgraf begrawe.

Nou word vertel sy word nog soms in ons dorp, wat Johannesburg genoem word, gesien waar sy mans oorreed om haar met hul geld te laat perde speel.

Die mense vertel van mans wat al duisende rande gewen het, sê die loodgieter, maar daarna alles verloor het wat hulle ooit gehad het - huis, vrou, kinders, werk, motor en selfs hul verstand.   

- Gerhard Burger

[Die Taalgenoot - Kortom - Gerhard Burger - Mei 1992]

Wie van ons lesers kan hierdie storie onthou?? 
Laat weet gerus!!

Friday, 26 April 2024

Terugblik: ABC-rympies

In die vorige eeu was ABC-rympies algemeen bekend as deel van die Afrikaanse volkskuns. Oorspronklik het die rympies van Nederland na Suid-Afrika gekom en hulle was hoofsaaklik Bybelse rympies, historiese rympies en rympies waarin die name van persone, diere en sake gebruik is.

Die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) het heelwat ABC-rympies laat ontstaan, maar na 1900 het hulle gaandeweg in onbruik geraak. 

Hier volg 'n voorbeeld:

A is 'n Aap.
B is 'n Bees.
C was amper 'n sekel gewees.
D is 'n Donkie, hy skop agterop.
E is 'n Eend met 'n bles voor die kop.
F is oom Flip met 'n pyp in sy mond.
G is 'n Graaf wat spit in die grond.
H is 'n Huisie waar 'n vuurtjie brand.
I is Ivoor van 'n olifant se tand.
J is 'n Juk vir 'n os se nek.
K is 'n Kalfie wat nog moet leer om te trek.
L is 'n Lepel.
M is 'n Mes.
N is die Naam van 'n voëltjie se Nes.
O is 'n Oor.
P is 'n Perd.
Q is sommer 'n O met 'n stert.
R is 'n Roosboom.
S is 'n Slang.
T is 'n Tier wat 'n kalfie vang.
U is 'n Uurwerk - ons noem dit 'n klok.
V is my varkie - hy staan in sy hok.
W is 'n Wolkie - hy waai in die lug.
X is 'n Kruisie - hy lê op sy rug.
Y is 'n Yster - ons noem dit 'n paal.
Z kry ons glad nie meer in die Afrikaanse taal.

Dr. Willie Loots het hierdie kultuuralfabetsaamgestel.

[Bron: Die Taalgenoot * November 1982]

Opmerking: Kyk na die rymwoorde wat die memoriseerwerk makliker gemaak het.