Showing posts with label Solidariteit. Show all posts
Showing posts with label Solidariteit. Show all posts

Tuesday, 25 July 2023

Dinsdag-denke: Armand Jan Bouwer - 'n ware verhaal

Armand Jan Bouwer, wat tans by Denel Aerostructures in Kempton Park werk, het ʼn beroering veroorsaak toe hy op 2 Maart 2018 ʼn goue medalje by die Suid-Afrikaanse karatekampioenskap in Pretoria gewen het. Wat sy prestasie so uniek en anders as dié van ander gouemedaljewenners maak, is dat Armand VACTERL-sindroom oorkom het – ʼn toestand wat kardiovaskulêre, maag- en ruggraatprobleme insluit.

Armand is op 7 Februarie 1996 in Benoni, Gauteng, gebore. Op agt maande het hy ernstige hartprobleme ontwikkel. Dokters het sy familie in kennis gestel dat hy hartversaking het en sy enigste hoop op oorlewing was ʼn opehartoperasie. Hy het sy eerste operasie ondergaan toe hy drie dae oud was. Hy was agt uur lank in die teater en dokters was nie hoopvol dat hy sou oorleef nie.

Op 12 het Armand pynlike prikkels in sy arms en bene ontwikkel. Dokters het bevind dat sy skoliose van 32 grade tot 82 grade vererger het; dit het geweldige druk op sy rugmurgsenuwees veroorsaak. Die enigste manier om totale verlamming te voorkom, was ʼn spinale fusie om die ruggraat reguiter te maak sodat die druk op die senuwees verlig kon word. Na ʼn uitputtende, 10 uur lange operasie het Armand kwaadaardige hipertermie ontwikkel – ʼn allergiese reaksie op die narkosegas. Na 32 ampules van die teenmiddel teen die narkose het Armand begin reageer. Hy is gestabiliseer en was 11 dae in ʼn koma. Ongelukkig kon die spinale fusie nie voltooi word nie en sy ruggraat kon dus ook nie reguiter gemaak word nie. Hy het egter die kwaadaardige hipertermie oorleef - die eerste oorlewende van dié siekte in 112 jaar. Na hierdie beproewing het Armand 12 kg in twee weke verloor en amper geen spiermassa oorgehou nie. Hy was agt maande lank in die hospitaal en dokters het sy familie op die ergste voorberei omdat hy inwendig bly bloei het.

Maar weer het Armand ander planne gehad; hy het aanhou veg en oorleef. Hy moes van voor af leer om te loop, sit, staan en alledaagse takies te verrig. As gevolg van die onvoltooide spinale fusie het Armand net 30% longkapasiteit, maar hy het sy skooljaar met gemiddeld 79% geslaag.

Op 18 Januarie 2016 het Armand besluit sy fisiese beperkings gaan hom nie stuit nie en hy het saam met sy oudste broer by die Goju Karate Academy aangesluit. Hy sê die enigste gestremdheid in die lewe is ʼn negatiewe houding.

Armand is nou 22 jaar oud en weeg slegs 40 kilogram, maar hy sy liggaam het reeds ʼn gedaantewisseling ondergaan. Onder sensei Marius Madgwick en sensei Tarryn Madgwick se vaardige leiding kan hy al 30 opstote en 11 optrekke doen. Hy het ʼn blou gordel en sê niks gaan hom keer om sy swart gordel te kry nie.

[Besoek die web vir inligting]

Tuesday, 3 January 2023

Dinsdag-denke: Kom buite en raak gesond!

Somer is hier en die natuur roep. Daar is ʼn lang lys van redes waarom ʼn bietjie (of sommer baie) tyd buite die huis of kantoor fisies en geestelik voordelig is.

Sonlig op jou vel bring prosesse in jou liggaam in werking wat tot die produksie en aktivering van vitamine D lei. Hierdie vitamine beveg toestande soos osteoporose, kanker, depressie, en harttoestande.

Jy sal gelukkiger wees. Volgens ʼn studie aan die Universiteit van Michigan in Amerika, word natuurwandelings in groepe gekoppel aan verbeterde geestesgesondheid en positiwiteit, asook verlaagde vlakke van depressie en stres.

Jou konsentrasie sal verbeter. Kinders met ADHD kan beter fokus nadat hulle tyd buite spandeer het.

Jy kan dalk vinniger gesond word. Pasiënte wat bome of lug buite hulle hospitaalvensters kan sien, sterk beter aan as wanneer hulle heeldag teen ʼn muur vaskyk.

Mense wat buite oefen, het ʼn laer risiko vir swak geestesgesondheid as diegene wat binne oefen.

Interaksie met die natuur gee jou brein ʼn breuk van daaglikse oorstimulasie, wat dan ʼn herstellende uitwerking op jou vermoë om te fokus het.

Volgens navorsing gedoen deur Tokio se Nippon Mediese Skool vermeerder virus- en gewasvegtende witbloedselle na twee dae in die veld.

Deur tyd in die natuur te spandeer verbeter jy jou korttermyngeheue.

Dit verlaag ook stres. Kortisol is die hormoon wat vrygestel word wanneer jy stres. Mense wat twee dae buitemuurs spandeer het (byvoorbeeld gaan kamp het), toon laer vlakke van kortisol daarna.

Tyd in die buitelug verlaag inflammasie.

Buitemuurse aktiwiteite het ʼn beskermende effek op jou oë, en kan dus die kans dat jy miopie (bysiendheid) gaan ontwikkel, verminder.

Jy sal flinker en meer kreatief kan dink.

Indien jy egter nie die tyd het om buite rond te loop nie, kan jy so ʼn bietjie kroek. Mense wat na prentjies of foto’s van landskappe kyk, toon verhoogde aktiwiteit in areas van die brein wat met die oproep van gelukkige herinneringe gepaard gaan.

[Kom buite en raak gesond: Vrydag - 20 Januarie 2017]