Tuesday 3 January 2023

Dinsdag-denke: Kom buite en raak gesond!

Somer is hier en die natuur roep. Daar is ʼn lang lys van redes waarom ʼn bietjie (of sommer baie) tyd buite die huis of kantoor fisies en geestelik voordelig is.

Sonlig op jou vel bring prosesse in jou liggaam in werking wat tot die produksie en aktivering van vitamine D lei. Hierdie vitamine beveg toestande soos osteoporose, kanker, depressie, en harttoestande.

Jy sal gelukkiger wees. Volgens ʼn studie aan die Universiteit van Michigan in Amerika, word natuurwandelings in groepe gekoppel aan verbeterde geestesgesondheid en positiwiteit, asook verlaagde vlakke van depressie en stres.

Jou konsentrasie sal verbeter. Kinders met ADHD kan beter fokus nadat hulle tyd buite spandeer het.

Jy kan dalk vinniger gesond word. Pasiënte wat bome of lug buite hulle hospitaalvensters kan sien, sterk beter aan as wanneer hulle heeldag teen ʼn muur vaskyk.

Mense wat buite oefen, het ʼn laer risiko vir swak geestesgesondheid as diegene wat binne oefen.

Interaksie met die natuur gee jou brein ʼn breuk van daaglikse oorstimulasie, wat dan ʼn herstellende uitwerking op jou vermoë om te fokus het.

Volgens navorsing gedoen deur Tokio se Nippon Mediese Skool vermeerder virus- en gewasvegtende witbloedselle na twee dae in die veld.

Deur tyd in die natuur te spandeer verbeter jy jou korttermyngeheue.

Dit verlaag ook stres. Kortisol is die hormoon wat vrygestel word wanneer jy stres. Mense wat twee dae buitemuurs spandeer het (byvoorbeeld gaan kamp het), toon laer vlakke van kortisol daarna.

Tyd in die buitelug verlaag inflammasie.

Buitemuurse aktiwiteite het ʼn beskermende effek op jou oë, en kan dus die kans dat jy miopie (bysiendheid) gaan ontwikkel, verminder.

Jy sal flinker en meer kreatief kan dink.

Indien jy egter nie die tyd het om buite rond te loop nie, kan jy so ʼn bietjie kroek. Mense wat na prentjies of foto’s van landskappe kyk, toon verhoogde aktiwiteit in areas van die brein wat met die oproep van gelukkige herinneringe gepaard gaan.

[Kom buite en raak gesond: Vrydag - 20 Januarie 2017]

No comments:

Post a Comment