Monday 2 January 2023

Vandag se internetgebed vir jou

Onse Vader wat in die hemel is,
ek bid tot U want U is die Skepper van hemel en aarde. 
Aan U behoort alle eer en lof.

In hierdie aandure wat die dief as sy werksure beskou, 
sy tyd om te moor, te roof, te steel en te verwoes, 
tree ek in gebed tot U my God
en ek vra U met geloof en vertroue dat U legioene en legioene Engele sal stuur 
om elke liewe mens te beskerm,  
Maak hulle onsigbaar vir die vyand, die dief, die moordenaars.
Tree U in Vader sodat elke satanskind op vlug sal slaan, 
dat hulle sal besef U is in beheer.

So ook elke burger wat rustig slaap in hierdie oggendure 
omdat daar 'n lang dag voorlê, 
beskerm elke liewe kind van U Vader, 
hoor my gebed Here, hoor my gebed!

Ek pleit by U om weer beheer oor Suid-Afrika te neem, 
ek vra U om hierdie land te regeer, 
ek pleit by U Here om hierdie land terug te gee aan U kinders.

Ek vra U om Suid-Afrika weer voorspoedig te maak. 
Ek smeek U my God gee vir ons leiers en 'n regering wat U raadpleeg, 
wat U heel eerste stel, 
wat U Naam weer sal verheerlik!

Gee dat U weer in ons skole en werke en besighede en gesinne sal heers! 
Hierdie land is besig om te vergaan en net U 
en U alleen het die mag en die krag, 
die outoriteit om beheer te neem en ons van die vyand te red!
Met U loop ons 'n bende storm, my God, 
maar sonder U in beheer gaan ons ten gronde! 
Ek smeek U Here, my God, 
moet ons asseblief nie begewe of verlaat nie, 
moet ons nie alleen laat nie, 
keer dat ons nie langer in die hand van die vyand sal wees nie!
God, ek tree vandag in vir die land, 
waar U in beheer moet wees.

Ek loof U Vader, 
ek eer U, 
ek aanbid U, 
daar is geen ander God behalwe U nie, 
ek sal eers weer vrede in my hart en siel kan hê 
as ek weet dat Suid-Afrika na U toe teruggekeer het, 
daarom my God draai ek na U toe 
en vra ek met 'n hart vol geloof en hoop en liefde 
dat U ons sondaar-kinders asseblief genadig sal wees, 
dat U my hartsgebed sal hoor.

Dankie Vader, dankie dankie en nogmaals dankie daarvoor. 
Alle eer aan U in die Hoogste Hemele 
en op Aarde 'n welbehae! 
Dit is my gebed in U Heilige Almagtige Naam; Jesus.
Amen

No comments:

Post a Comment