Wednesday 25 January 2023

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Lewensbrood

Vir solank as wat brood gebak word, vertel die geur van vars warm brood iets van 'n oorvloedigheid. ‘n Aroma tot oorlopens toe vol met voorspoed, versadiging, vreugde en vrede. Mens kan sekerlik amper aanvaar dat “heilig” so kan ruik. Daarmee saam bevat hierdie amperse heilige tevredenheid al die bestanddele om alle mensegoed se harte so om te tower dat ons opslag van al ons sukkel en sorge vergeet. Asof dit dan ook nie genoeg is nie, loop herinneringe en “onthou-jy-nog’s”– soos 2 inspandonkies – ook saam. Dit is nou veral daardie gisterdinge waar vars warm brood in direkte verhouding tot 'n vreugdevolle oorvloedslewe staan.

Kosbare voorwêreld vriende het voor laaste week ‘n twintigtal gesnyde warm winkelbrode kom aflaai en dadelik weer vertrek. Hulle versoek was dat hierdie vars winkelbrood vir Swartkopdam se skoolkinders gegee moes word. Nou lê hierdie sawwe winkelbrode soos kleurvolle kersgeskenke elkeen in sy eie plastiese sakkie netjies verpak en toegemaak op die werksblad in die kombuis.

'n Klompie vroue sit en gesels langs die tafel in ons kuierkombuis. Die eerste koffiebeker was skaars leeg toe ek versigtig een van die sawwe winkelbrode uit sy sakkie haal. Onmiddellik omvou die amperse heilige aroma van vars sawwe brood almal in die kuierkombuis. Stadigaan raak dit stil om die tafel waarna die Mooiste Mooi keel skoonmaak en hulp vra. "Want" beduie sy "hierdie winkelbrood moet tog vandag nog met bruin botter en goue stroop gesmeer word. Die plan is dat elkeen van Swartkopdam se skoolkinders môre vars winkelbrood kry om te eet.”

Die Mooiste Mooi se woorde was skaars verby haar lippe toe ‘n hengse lawaai in die kuierkombuis los breek. Almal praat en gil en lag en sê gelyktydig dankie. Dit alles net oor brood. Hemelbrood ... vars en sag. Hemelbrood omrede sawwe vars winkelbrood in onse wêreld ‘n kosbare weelderigheid en ‘n groot bederf is. Ywerig spring almal aan die werk. Elke toebroodjie word eers lekker dik met die bruin botter gepleister waarna taai goue stroop al te kwistig opgeplak word. Daarna word elke broodjie netjies en versigtig middel twee gesny en in plastieksakkies toegemaak.

Tussen die gesels en gewerskaf vertel Saartjie van ‘n woestynjaar vol swarigheid. Vytjie op haar beurt, beduie versigtig van ‘n vorige Kersfees in die diep Kalahari met ‘n leë maag. Hoopvol sluit sy haar vertel af met “Hierdie Kersfees is ek nie weer in die diep Kalahari nie. Miskien sal my kosskottel nie weer leeg wees nie." Opeens is almal stil en kyk haar so skaam-skaam onderlangs aan.

Nadat die toebroodjies gesmeer, gesny en verpak is, word die gasstoof vir oulaas aangesteek. Die vroue wil vir oulaas soet pittekoffie drink alvorens hulle groet. Daardie amperse heilige aroma van sawwe vars winkelbrood hang steeds in ons kombuis. Met my oranje koffiebeker hou ek myself maar eenkant terwyl Vytjie se vertelling in my binneste binne weergalm.

Vytjie se vertelling beskryf meer as net die dwarsduine op haar lewenspad. Haar vertelling omskryf ook die rou werklikheid van woestynbewoners se bestaan. Woorde wat die werklikheid van 'n woestynlewe beduie net soos dit is. Sonder grimering, sonder aansien en sonder aangeplakte emosies.

Ek onthou weer dat die Wonderwerker per geleentheid en sonder enige ophef en sonder seremonie duisende kos gegee het met 'n handvol broodjies en 'n paar vissies. Hy is en bly die Honger Stiller, Versadigmaker en Vermeerderaar wat altyd omgee en sorg. En om alles te kroon is Hy ook die Brood. Lewensbrood vars met ‘n heilige aroma waarvan alle mensegoed elke dag sonder enige beperkings oorlopens toe vol kan eet.

Die Groot dae met al die feestelikheid wat daarmee saamloop, het gekom en dit het gegaan. Alvorens ek en jy begin beplan en voorbereidings tref vir ons weergawe van Egipte se kreunende kostafels … kom ons onthou tog net eers die Brood. Dit is en bly die heel belangrikste - die Lewensbrood.

Die Skepper van hemelgoed en stofaarde se broodgeskenk vir my en jou toegedraai in bebloede linne want Jesus as Sy Kêrelkind ís en bly die Lewensbrood. Dit is mos waaroor dit gaan. Dit is mos eintlik al waaroor alles gaan ... Lewensbrood!

Joh 6 vers 35 (Afr 2020) = "Jesus het vir hulle gesê: “Ek is die brood van die lewe. Wie na M.y toe kom, sal nooit honger word nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors word nie."

Sandkorrel baie seëninge 

Los jou 👣 as jy wil by:

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)

Selnr: 082 772 2192

WhatsApp: 081 568 7549

[Dankie, Valerie, vir jou voetspore wat jy so gereeld hier los!]

No comments:

Post a Comment