Showing posts with label Skool. Show all posts
Showing posts with label Skool. Show all posts

Friday, 13 June 2025

Nostalgie en nog nostalgie

Hoeveel onthou jy?


1) Kopligdip - skakelaars op die vloer van die motor.
2) Ontsteking - skakelaars (choke) op die paneelbord.
3) Broekspypklemme vir fietse sonder kettingskerms.
4) Soldeerboute wat jy op 'n paraffienbrander verhit het.
7) Vrouens het rokke, hoede, sykouse en handskoene kerk toe aangetrek.
6) Gebruik handseine vir motors sonder rigtingwysers.
7) Brood wat 6c en later 10c elk gekos het.
8) Sjokolade (Flakes, Crunchies, ens.) wat 5c elk gekos het.
9) Soet (lekkergoed) sigarette.
10) Kafees met tafels en stoele en met 'n juke-boks. Hulle het die lekkerste Coke en Cream Soda floats verkoop.
11) Aflewering van melk en lemoensap in glasbottels.
12a) Die swart telefoon teen die gangmuur gemonteer.
12b)Elke telefoonoproep is deur die sentrale deurgeskakel. (Onthou jy nog die sentrale se vraag? "Nommer asseblief?" )
12c) Party of deellyntelefone vir plaasbewoners. (Die bure het die gesprekke lekker afgeluister.)
13) Nuusrolprent (SA spieël) voor die fliek. Onthou jy die brullende leeu wanneer die fliek begin wys het?
14) Ertjiepit-blaaspypies (pea shooters)
15a)Grammefoonplate 78+33 rpm met platespelers. (Onthou jy nog vir Virginia Lee, Jim Reeves, Leonore Veenemans)
15b) 45-rpm plate.
16) Hi-Fi's.
17) Metaal ysbakke met hefbome.
18) Blou flitsgloeilampe.
19) Kurkpropgewere (popgun)
20) Wasmasjiene met rollers.
21)TV-toets patrone wat snags na die laaste vertoning aangekom het en daar was, totdat TV-programme weer die volgende dag begin het. Daar was net 2 kanale, as jy gelukkig was.
22) Inkpotjies in jou skoolbank. In graad 1 en 2 is net met potlode in die klas geskryf. St. 2 en 3 het penne met die los penpunte gebruik. Vulpenne is vanaf standerd 3 gebruik. (Balpuntpenne is toe nog nie gebruik nie.)
23) Skoolboeke is oorgetrek met bruin papier en plastiek.
24) Die roomyskarretjies (fietse met die klokkies)
25) Fiets- en hondelisensies!!!

As jy 0-3 onthou het = Jy is nog jonk.
As jy 3-6 onthou het = Jy word ouer.
As jy 7-10 onthou het = Moenie jou ouderdom vertel nie.
As jy 11-14 onthou het = Jy is positief oud!.


Hierdie herinneringe is van die beste tye in my lewe.

Skrywer: Anoniem

[Dankie, Valerie, vir die deel van hierdie lekker onthou!!]

Thursday, 25 July 2024

Maak die lewe die moeite werd

'n Moeder vertel in 'n tydskrifonderhoud van haar besigheid wat verskuif het en dat die nuwe perseel se groot vertoonvensters uitkyk op 'n baie besige spoorlyn. Die treine het nooit vinnig beweeg op hierdie stuk spoorlyn nie. Haar vierjarige dogtertjie het groot vreugde geput uit die treine wat elke dag, 'n paar keer op 'n dag daar verbygery het. Sy het naderhand die tye van die treine geken, dan het sy vinnig na die groot vertoonvensters gehardloop en vir die treindrywer en die kondukteur gewaai.

Met tyd het hulle ook begin terugwaai, en later het hulle die trein se toeter geblaas as hulle verbykom. Dit het haar dogtertjie se dag gemaak en met 'n groot glimlag op die gesiggie en ogies wat skitter van lekkerkry, het sy op en af gespring en gewaai en gelag.

Dit het vir drie jaar so aangegaan. Toe het dit tyd geword dat haar dogtertjie skool toe moes gaan en na sy haar die eerste dag afgelaai het, het sy baie hartseer na haar werk teruggekeer. Sy het die trein hoor aankom en by die groot venster gaan staan en terwyl die trein verbygekom het, kon sy sien almal se oë soek na die klein figuurtjie wat altyd so vol vreugde vir hulle gewaai het. Sy het by die venster gaan staan en baie hartseer so liggies vir hulle gewaai.

Die volgende dag was dit dieselde en sy het 'n kennisgewing gemaak wat gesê het dat haar dogtertjie nou skoolgaan.

Maar die volgende dag het die trein weer verbygekom en dit was vir haar asof hulle stadiger gery het en die oë het gesoek na die klein lyfie.

Twee dae later het die trein weer verbygekom en die volgende oomblik het dit gestop en oor die spoorlyne het die kondukteur gehardloop en by die voordeur ingekom. Hy het verduidelik wie hy was en wou net weet waar die vriendelike dogtertjie was. Tranerig het die moeder verduidelik dat sy nou skoolgaan en dat sy 'n kennisgewing in die venster gesit het. Hy sê toe dat hulle die kennisgewing gesien het, maar dit nie kon lees nie, en hulle was bekommerd dat sy dalk siek was.

Toe sê hy vir die moeder dat dit die hoogtepunt van sy dag was. Hy het deur groot probleme gegaan en hy was menige dag so moedeloos en as hulle hier verbygery het en haar skitterogies en groot glimlag gesien het, dan het hy sommer vergeet van al sy laste en probleme en dan was die dag sommer mooier.

Wat beteken jou menswees vir ander ...? Voel hulle sleg en depressief as hulle naby jou was of is jy soos die dogtertjie ... 'n ligstraal vir ander wat se stryd baie swaar is. Maar ten spyte van hulle moeilike omstandighede, is jou teenwoordigheid vir hulle 'n ligstraal en om net jou glimlag te sien, is vir hulle so 'n aanmoediging dat hulle sommer beter voel.

Onthou die Woord sê dat ons blydskap in die Here ons beskutting is.

Georgie.

[Dankie, Anoniem, vir die aanstuur van hierdie stukkie. Klik HIER vir nog boodskappe.]

Tuesday, 10 January 2023

'n Geseënde nuwe skooljaar


Baie sterkte aan ons kleinkinders en agterkleinkinders wat môre met skool begin. 'n Vol en besige jaar lê vir julle en wag en daarmee wil ons vir julle sterkte toewens. Onthou altyd dat die skool se primêre doel is om vir julle geleenthede te skep om julle Godgegewe talente op elke terrein ten volle te kan ontwikkel. Ons weet dis nie altyd lekker nie, maar die beloning vir harde werk, is oor en oor die moeite werd. Ons kan darem onthou hoe dit was, al was dit donkiejare terug. 

Die skool bou aan al sy leerders sodat hulle ná skool as selfstandige mense die grootmenswêreld  kan aandurf ... 'n Volwassene met selfvertroue wat sy taak suksesvol kan verrig.

Ons weet dat die wêreld en veral die skoolwêreld nie meer lyk soos toe ons julle ouderdom gehad het nie, maar ons het intussen nie net gryser geraak nie, maar ook wyser geword. Ons verstaan ...

Geniet julle skooljaar en as julle 'n tydjie in julle besige program kan afknyp, kom drink 'n koppie koffie en kom eet 'n heerlike stukkie tuisgebakte beskuit.