Showing posts with label Jacoba du Plessis. Show all posts
Showing posts with label Jacoba du Plessis. Show all posts

Monday, 10 November 2025

Dankie, November-engele!!


'n Groot ONS HUIS-dankie vir elkeen van julle wat Saterdag BYGEDRA het tot die hoogtepunt in ons week. Dankie vir die lag, die bingo-pret, die heerlike pryse en versnapperings wat nie ongesiens verbygaan nie. Julle is vir ons KOSBAAR en ons sien uit na die volgende kuiertjie! 
VREUGDE vir julle week!

November-engelebesoek


Foto's: Millie Mouton

Saturday, 4 October 2025

Dit is mos die mooiste maand: Oktober-engele-besoek


C Louis Leipoldt herinner ons elke jaar in sy gedig "Oktobermaand" dat hierdie die mooiste maand is. Die wêreld rondom ons is groen, blomme kleur die tuine bont en ons gemoed voel 'n bietjie ligter omdat die winter, die vaalheid en die koue verdwyn het.


Saterdag, 4 Oktober, was een van die mooiste Saterdae by Ons Huis. Met apologie aan Leipoldt se Oktobermaand verwerk ons dit 'n bietjie:

Lekker vrugte in die voorhuis –
Muffins op die tafels!
Bingo vir ontspanning en 
Kuier-engele oral in die gange,
Alles, ai, so mooi!



Foto's: Millie Mouton

Sunday, 20 July 2025

Die Julie-engele met 'n soetaktiwiteit


Die engele was Saterdag gewapen met versiersuiker en allerhande soetighede sodat die inwoners hul kolwyntjies na hartelus kon versier. Daarna is die tee nadergetrek en al geselsende is die kunstig versierde kolwyntjies aan die tong-tippie-toets onderwerp. 

Dankie, Ons Huis-engele, vir 'n lekker kuier rondom die teetafel, die heerlike geselsies en die liefde wat ons van julle ontvang. Ons waardeer julle uit ons hart en sien uit na 'n volgende kuier!  

Foto's: Millie Mouton

Saturday, 7 June 2025

'n Warm Saterdag in 'n koue Junie


Heerlike eetgoed en snoepgoed was deel van vandag se engelpakkie. Koue dae aktiveer juis die knibbelwurm in elkeen van ons. Elke Ons Huis-knibbelaar het vanaand 'n soet vooruitsig voor die TV. En nie net is daar na die innerlike, maar ook aan die uiterlike gedink. 'n Warm kombers was die kersie op die koek! 

Koue wintersdae is net die regte tyd vir heerlike dik huissop. Vandag se kuier het ook heerlike sop en vetkoek op die spyskaart gehad. Die engele het so kuier-kuier van kamer tot kamer beweeg en al geselsend oor 'n koppie sop na elkeen se welstand verneem.


Na baie lag, gesels, eet en kuier moes die engele groet. Daar is darem die vooruitsig dat hierdie groet net tot 'n volgende keer is.


Foto's: Millie Mouton

Saturday, 14 December 2024

Afsluitingsfunksie: Ons Huis se engele gaan met vakansie


Ons Huis se engele besoek die inwoners op 'n gereelde basis en dan word daar sommer lekker gekuier, baie gesels en heerlik geëet aan al die snoepgoed wat saamgebring word. Dit bly mos maar die hoogtepunt van elke kuier as jou smaakkliere net so hard kan saamgesels.


Voeg daarby mededingende bingo, met verrassende pryse om te wen, en die Saterdag bars uit sy nate. Geniet Desembermaand met verskeie hoogtepunte. Die engele gaan DV volgende jaar na al die Desembervakansiestories kom luister.    


Foto's: Millie Mouton

Saturday, 2 November 2024

'n Soet Saterdag in November


Wat 'n heerlike Saterdagoggend was dit nie? Die engele, gewapen met smaaklike kolwyntjies, het ons kunstalente weer beproef en sommer goeie oefening ook gegee. Daar was versierings te kus en te keur en ons kon ons kolwyntjies ryklik versier met 'n swaar hand!    

Dankie vir 'n heerlike kuier ... dankie dat ons ons naweek op 'n hoë soet noot kon begin en dankie vir die heerlike eetgoed. Ons waardeer julle!  

Foto's: Millie Mouton