thePLAN-diePLAN

Terug na HOME PAGE

Lees meer van diePlan HIER en HIER

Contact us directly at thePLAN-diePLAN

Uittreksels word hier geplaas vir die lesers van Ons Huis se blog.

Indien nie die Bybel nie, dan wat anders?
Persoonlike lukrake gedagtes
Geo de Kock

(Boublok: Die Bybel is die geïnspireerde Woord van God waardeur Hy Homself sowel as sy Plan vir die skepping openbaar.)

Ons weet nie van enige ander boek wat so aanhoudend aangeval word, maar terselfdertyd soveel góéd en lewe-gewend beteken vir miljoene mense op aarde nie.

Ongelowige mense laat blyk dikwels dat wat in die Bybel geskrywe staan, nonsense is – “slegs ‘n boek wat lank gelede deur ‘n paar monnike geskrywe is”. Ander gee gewoon nie om oor die bestaan van die Bybel as boek(e) nie. Die agtergrond en boodskap daarvan skeel hulle min, omdat hulle nie die bestaan van die lewende God aanvaar nie.

Duisende jare se teologiese studies gebaseer op die inhoud van die Heilige Woord van God, deur duisende toegewyde hoogs-begaafde akademici, word as waardeloos afgemaak. Getuienisse van miljoene mense oor hoe die boodskap omtrent Jesus Christus (die hoogtepunt van God se self-openbaring aan die mens) hulle lewens ten goede verander het, word totaal geïgnoreer. Dis so goed hulle ontken die bestaan van die stoele waarop hulle sit! Selfs in Christen-kringe is daar ernstige verskil oor die relevansie van die Bybel ten opsigte van omstrede sake van die dag, tot so ‘n mate dat ‘n wolk van negatiwiteit oor die gesag van die Skrif oor ons kerke en lewens getrek word. Ensovoorts.

Die Bybel, die bestaan, inhoud en boodskap daarvan, die wetenskap daaragter, die krag en invloed daarvan, loop nog van die begin van die geboorte daarvan deur onder volgehoue aanvalle en kritiek. Dit is duidelik dat ‘n persoonlike gees van vyandigheid in die harte en verstande van mense hulle gedagtes, strewes en besluite regeer en dikteer. Dit is die kragtigste slawerny in die geskiedenis van die mensdom – wat mense op groot skaal van vryheid en vreugde ontneem. Tog het alle kragtige pogings om dit te vernietig, nog altyd misluk. Dit oefen steeds ‘n preserverende, vernuwende en lewegewende invloed op aarde uit. Neem dit weg, dan stort die samelewing in duie – baie aspekte van lewe in die Midde-Ooste maak dit duidelik vandag.

Feit is, die Bybel is ‘n geloofsboek. Sonder ‘n aanvaarding van die Bybel gebaseer op GELOOF in die drieënige God, sal niks daarin sin maak vir die leser nie. Geloof is die lens waardeur die boodskap daarvan sigbaar en betekenisvol word – die WAARHEID! Geloof is die bedryfstelsel wat die rekenaar van ons lewens laat werk, in teenstelling met die bedryfstelsels “van die wêreld”. Lewe op aarde is niks anders as ‘n keuse van die bedryfstelsel wat jy aanvaar nie: die een wat lei tot ewige dood (“hel”, soos die Bybel dit uitdruk) as realiteit, of die een wat lei tot die werklikheid van ewige lewe (“hemel”, soos die Bybel dit visualiseer).

Ek wil graag vir die ongelowige vra: sê nou maar jy ontdek, vanuit jou oogpunt gesien, dat God (die “Gans Andere” ) waarlik bestaan – hoe anders sou Hy Homself aan ons in ons geskape werklikheid moes openbaar? Dit is ‘n vraag met ‘n wye oop antwoord. Wie weet? Ons sou kon sê dat sy openbaring só moes wees dat dit vir alle mense van alle eeue en stande dwarsdeur die geskiedenis moontlik moes wees om te hóór en te síén – om met Hom te identifiseer, Hom te kan kén as Emanuel, God met ons, maar terselfdertyd ook as “heilig, heilig, heilig…”, vir Wie ons maar net kan aanbid en in nederigheid en liefde kan dien! Die Bybel maak Hom inderdaad bekend as die God van ALLE mense op aarde – mense as ‘n integrale deel van die skepping. Hy maak Homself bekend as die Een wat altyd (soms onsigbaar vir ons oë ) merkwaardig teenwoordig is in alle ontwikkelinge dwarsdeur die geskiedenis. Hy fokus sy aandag en sorg op mense – op verlossing uit lyding (sonde) en hul lewe in dankbaarheid. Hy fokus selfs op die verlossing van die aarde! Verder skarnier die geskrewe inhoud van die twee testamente (die Oue en Nuwe) vernuftig om die geboorte, lewe sterwe en opstanding van Jesus Christus. Vóór Hom het mense op Hom as die Verlosser gewag. Ná Hom vier ons Hom en mekaar in liefde! Eendag sal ons die volle perspektief hê om te sien dat Hy net op die regte tyd in die geskiedenis van die aarde en die mensdom gekom het!

Vir my beteken die feit dat daar so-iets soos LIEFDE, as teenpool van haat, IS, asook die verskil tussen kwaad en goed en die vermoë om te kan onderskei tussen goed en kwaad (CS Lewis), genoeg bewys dat God bestaan.

Die Bybel onderstreep die feit dat die goeie voortdurend in die spervuur is – in die wêreld sowel as in die privaatheid van ons eie lewens (denke en hart). Waarom? Omdat dit die waarheid is en omdat daar ‘n vyand is wat die waarheid wil vernietig.

Ons beleef die Bybel ook as gesaghebbend en kragtig. God het die heelal geskep deur woorde te spreek (“Laat daar … wees” – Genesis 1, evolusionêre ontwikkeling ingesluit). Vandag skep God nuwe lewe in mense deur die woorde van wysheid en lewe in die Bybel, vir elkeen wat verkies om te luister. FEBA Radio, die internasionale organisasie wat die liefde van God deur middel van radio-programme uitsaai aan miljoene mense wat so-te-sê onbereik is deur die Evangelie as gevolg van vyandiggesinde regerings en godsdienste, ontvang jaarliks meer as 9 miljoen reaksies van mense wat getuig van die waarheid en lewensveranderende krag van die boodskap van die Bybel in hulle lewens!

Billy Graham vertel hoe krities hy aan die begin van sy bediening was ten opsigte van die inhoud van die Bybel. In daardie tyd was sy prediking kragte- en vrugteloos. Eendag het sy oë egter oopgegaan vir die geloofsfeit dat die Bybel werklik die Woord van God IS. Ten spyte van teks-kritiese probleme kan ons in geloof aanvaar dat God hoofsaaklik met mense kommunikeer deur middel van die geskrifte van die Bybel. Hy het die gesag van die Bybel aanvaar. Die onmiddellike gevolg was Gees-vervulde prediking wat tot gevolg gehad het dat duisende mense Christus as hulle verlosser aanvaar het.

Ons by diePLAN kan nie anders nie as om gelowig te konstateer dat die Bybel werklik die geïnspireerde Woord van God is, waardeur Hy Homself, sowel as sy plan vir die hele skepping, bekendmaak. Sola Scriptura - Die Skrif alleen!

Indien nie die Bybel nie, dan wat anders kan ons aanvaar as die fondament en bron van WAARHEID, van dit wat GOED is en van ewige LEWE?

No comments:

Post a Comment