Showing posts with label Lewenslesse. Show all posts
Showing posts with label Lewenslesse. Show all posts

Friday, 26 December 2025

Vrydag-flits: Vertrou op God

Neem die Woord ...
Lees dit deur ...
Bid dit in ...
Leef dit uit ...
Stuur dit aan ... 

Friday, 19 December 2025

Vrydag-flits: Iets om aan te herkou

Hoe minder woorde jy gebruik 
om iets te sê, des te beter
en langer sal daar onthou word
wát jy sê. 

Friday, 12 December 2025

Vrydag-flits: Iets om aan te herkou

Vandag

Iewers, agter elkeen ...
lê 'n tyd ... 'n tyd wat
verby is, en al sou jy
terugreik, jy tas mis ...

God's Woord sê ...
reik uit na voor
as jy omdraai, is
Sy Koninkryk jou nie beskoor.

Wat verby is,
kan jy nie terughaal ...
Met daardie waters kan jou meule
nooit weer maal.

Kyk na vandag:
Sien dis 'n stukkie goud
Wat God aan jou gee ...
Wat doen jy daarmee??

Friday, 28 November 2025

Vrydag-flits: Iets om aan te herkou

Die gras verdor, 
die blomme verwelk,
Maar die woord van ons God
Hou stand in ewigheid.

Friday, 21 November 2025

Vrydag-flits: Iets om aan te herkou

Diegene wat hul hoop alleen op
goeie werke en dade vestig,
probeer om met 'n mensgemaakte
leer in die hemel in te klim.

Friday, 26 September 2025

Vrydag-flits: Glo

Die diepste plooie vertel die mooiste stories ...
Die beste pad is die een waar jy die meeste geleer het ...
Die edelste mense het die swaarste pad geloop ...
Die diepste siele het op die hardste manier geleer ...
Die waardevolste lesse word geleer deur ons grootste seer ...
Die wonderlikste geskenk is die geskenk van Lewe ...
Die onmoontlikste dinge is moontlik as ons GLO!!! 

Tuesday, 11 June 2024

Dinsdag-denke: Wat beteken dit om oud te word?

Vir elke ouderdomsgroep beteken dit iets anders.

As jy in die laerskool is, dan is 21 al oud, en 50 stokoud! Maar 21 was lank terug daardie magiese getal waar jy skielik groot genoeg is om alles te kan doen wat jou hart begeer of wat die grootmense jou altyd verbied het om te doen. Op 21 het jy o.a. 'n sleutel gekry en was dit die verjaardag waarna jy die meeste uitgesien het. [Miskien kan iemand vir ons die storie agter die sleutel stuur, waar dit ontstaan het, asook die simboliese waarde daarvan of sommer net 'n lekker 21-storie.]

In jou twintigs is dertigs soos ’n berg voor jou, want dan voel dit of alles jou laaste kans is (vir vrouens wat nog nie getroud is nie, beteken dit jy gaan moontlik op die rak bly en was die etiket van oujongnooi om jou nek gehang.) Gedurende die jare word alles gedryf deur hormone - doen eers en dink later. Dit is woeste jare wat baie letsels kan laat agterbly vir die onverskilliges onder ons ... Miskien die waaghalsiges ook ...  Dis die jare van alles probeer - been there, done that.

In jou dertigs besef jy dié ouderdomstydgleuf is nie so sleg nie, want alles raak gevestig en daar is meer standvastigheid. Die gejaag van die twintigs is besig om te bedaar en plek te maak vir meer kalmte. Maar saam met die kalmte is daar ook soms stormwolke op die horison, veral wanneer die paartjie so tien jaar getroud is. Dis opmerklik hoe baie huweliksprobleme ontstaan wanneer mense so sewe of tien jaar getroud is en hoeveel van hulle nie die storm kan oorleef nie. Daar is seker ’n paar faktore soos die kinders wat gebore is, verg aanpassings in die verhouding. Die slypwerk aan mekaar begin in alle erns, veral met kinders in die prentjie en die druk om ’n suksesvolle loopbaan te vestig. Die verlange na die vryheid van die ongetroude lewe sonder verantwoordelikhede speel ook ’n belangrike rol, want die gevoel kan ontstaan dat dit nou of nooit is - nou om uit te klim of om vir die res van jou lewe aan die verhouding te werk. En daar is dikwels in so 'n verhouding een wat meer verantwoordelik as die ander een is en dan word die druppende kraan waarvan ons in die Bybel lees eerstehands ervaar.   

Veertigs raak amper weer ’n nagmerrie, amper soortgelyk aan die twintigs met die verskil - die twintigs wil alles doen voordat hulle rustig raak en begin settle, die veertigs wil alles weer probeer doen voordat hul dood of oor die wal is. Die veertigs word ook gedryf deur hormone - met die verskil - hul laaste stuiptrekkings wat dit veroorsaak. In die tyd is daar ook baie wat hul vryheid soek, want hulle verlang na wat hulle nie kon bereik of vind nie. Die ironie is dat sodra hulle die vryheid het om te gaan soek dan besef hulle dit was net ’n mirage wat hul najaag en dit wat hulle vang is slegs die wind wat niemand kan vashou nie. Dis ook ’n baie selfsugtige tyd want mense dink net aan hom- of haarself en glad nie aan die wederhelfte of die gesin nie.

Die jare word geken deur EK - ek wil hê, ek wil doen, ek wil ...

Die vyftigs raak weer rustig, daar is ’n kalmte en fokus wat saam met die jare kom. (Die op en af van jou ouderdomsgrafiek, is soortgelyk aan jou hart se grafiek.) Jy weet wie en wat jy is en jy begin vrede te maak met jou eie tekortkominge. In die huwelik het die meeste slypwerk reeds plaasgevind en die twee klippies lyk al amper dieselfde. Dis net so nou en dan wat daar ’n sandkorreltjie of wat in die mengsel inkom en so 'n effense growwigheid veroorsaak, maar die twee gladde klippe rol die sandkorreltjie gou fyn. Daar is ook ’n groter klem op die geestelike welsyn as op die materiële.

Die besef is gevestig, ... ek is oor die helfte van my lewe ..., die jare wat oorbly is hoogs waarskynlik minder as dit wat verby is. ’n Brandende behoefte begin in die hart te ontstaan om God beter te leer ken, om Sy wil op te soek, ... om reg te maak vir die onvermydelike en my deel vir die kerk te doen.

Hierdie jare, soos wat baie ook verwys na die goue jare kan voorwaar goue jare wees as jy bereid is om te luister na die Stem van die Almagtige wat voortdurend roep en daarna smag om saam met jou maaltyd te kom hou. Daar is ’n diepe besef dat ons soveel jare verspil het om die materiële na te jaag en dat ons ons Hemelse Vader afgeskeep het. Waar sou ons al in ons geestelike groei nie gestaan het as ons die soeke al jare gelede begin het nie. Vyftig plus jaar is 'n lang tyd.

Ons het onsself te kort gedoen aan die mees wonderlike seëninge wat daar op ons gewag het, al wat ons moes doen was om te vra en te dien. Ons het kosbare jare verspeel.

Daar is soveel mense wat kla oor die ouderdom en dat hulle nie oud wil word nie, hulle kla oor die skete en kwale wat daarmee saamgaan. Hulle is ongelukkig omdat hulle nie meer so lekker kan sien nie of ook nie meer so goed kan hoor nie, in plaas daarvan dat hulle dink hoe geseënd was hulle om vir 60 jaar goed te kon sien en maklik te kon loop - seëninge wat ons aanvaar het terwyl ons deur die eerste 50 of 60 jaar van ons lewe gehardloop het by wyse van spreke.

Hoekom dank ons nie eerder Vader vir die wonderlike geleentheid dat ons die goue jare kan beleef nie, dat ons ’n tyd ingaan wat daar vir ons geleentheid is om reg te maak voor dit te laat is?

Hoeveel sou die een wat voortydig gesterf het, nie gee vir net een dag ekstra om die saak met God reg te maak nie?

Wees dankbaar vir die ouderdom want dit is aan jou geskenk, elke dag is ’n geleentheid om tot Vader te keer, moenie die tyd wat daar nog is, verspil met die wêreldse dinge en klagtes nie. Min kinders wil oud word as hulle na die voorbeeld kyk wat die bejaarde dikwels projekteer.

Daar is ’n gesegde: Met grysheid kom wysheid. Maar dit is nie in alle gevalle waar nie, maar die dankbare gryses het altyd wysheid. 

Laat ons vandag in die dankbaarheid leef dat die ouderdom 'n genadegawe is wat nie almal beskore is nie en dat ons meer bevoorreg as baie ander is wat nie die kans het om hulle Ewigheidsaak reg te maak nie.

Dis nie aldag maklik om die ouderdom te hanteeer nie, maar ons kon die voortvarendheid en onbekendheid van ons vroeër jare beleef, die finansiële onstabiliteit, ons kon ons tieners se nukke en grille oorleef, waarom verkies ons om dan in ons goue jare in 'n hoek te gaan sit en te kla? 

Die probleem lê nie by sit nie, maar wel by kla ...

Tuesday, 4 June 2024

Dinsdag-denke: Alexander die Grote se begrafnisreëlings

‘n Waardevolle les kan geleer word by die laaste wense van Alexander die Grote. Op sy sterfbed het Alexander die Grote van sy weermag-generaals geroep en sy begrafnisreëlings met hulle bevestig.

1. Net die slimste en beroemste dokters moet my kis dra.

2. Die skatte wat ek bymekaar gemaak het, dis die goud en silwer en edelgesteentes en kontant moet agter die stoet op die grond versprei word op pad na die begraafplaas.

3. My hande moet los hang buite die kis vir almal om te sien.

Een van die generaals wat baie na aan Alexander die Grote was, het verstom geluister na hierdie man se laaste wense en nadat hy alles neergeskryf het, het hy nader aan die sterfbed beweeg en hom toe gevra of hy nie asseblief hierdie vreemde versoeke aan hulle wil verduideilik nie ... En dis wat Alexander die Grote vir hulle gesê het ...

1. Ek wil hê al hierdie groot en beroemde dokters moet my kis dra om aan almal te wys dat as die dood nader kom en dit jou tyd is om te gaan, is selfs die grootste en slimste en beroemste dokter magteloos.

2. Ek wil al my skatte versprei hê, sodat almal kan sien dat dit wat ons op aarde bymekaar gemaak het, na die dood hier op aarde bly. Jy kan niks saam met jou vat nie.

3. Ek wil hê my hande moet los hang sodat almal sal verstaan dat jy gebore word met leë hande, en wanneer jy sterf is jou hande ook leeg.

Jou kosbaarste besitting is uitgeput ... en dit is tyd. 

Ons neem niks na ons graf nie, ons kan altyd meer skatte bymekaar maak op aarde, maar nooit meer tyd nie. Wanneer ons iemand ‘n gedeelte van ons tyd gee dan gee ons ‘n gedeelte van ons lewe en ons sal dit nooit weer kan terugneem nie. Jou tyd is jou lewe.

Mag die Here jou genoeg tyd gee om hierdie kosbare geskenk te deel met jou gesin, jou geliefdes en jou vriende.

Gebruik elke minuut van jou tyd, dis kosbaar en dis deel van jou lewe.

Die lewensklok word net eenkeer opgewen. Niemand weet wanneer daardie wysers tot stilstand gaan kom nie. Sommige mense se wysers kom vroeër as ander tot stilstand. Gebruik van jou tyd om iets vir GOD of jou medemens te doen.

[Nog kosbare stories HIER]

Tuesday, 9 April 2024

Dinsdag-denke: Die Augrabiesvalle se les

Die naweek het ek en my gesin weer die Augrabiesvalle besoek in die NOORD-KAAP. Met al die reën in die land en die riviere wat in vloed is, was die verwagting groot dat dit die jaar 'n wonderlike skouspel gaan wees..

Ons moes maar redelik lank wag by die hek voordat ons kan ingaan in die park, want reeds vroegoggend het die motors alreeds lang toue gestaan en wag vir hul beurt om in te gaan.

Van die mense wat wag om in te gaan, was al moedeloos, hier en daar was een wat omgedraai het, maar tog het daar ’n baie vriendelike en gesellige atmosfeer onder die mense geheers. Die kinders het langs die kant van die pad baljaar en op en af gehardloop. Elke keer wanneer die ry so tien motors aanbeweeg, was daar weer groot opgewondenheid, want die toegangshek is nie meer ver nie. Langs die pad was daar ’n ou droë rivierloop wat reeds in vloed was, ’n klein syvertakking van die Oranjerivier. Die was omtrent so ’n klein voorskou van wat op ons sou wag wanneer ons by die werklike Oranjerivier kom, waar hy afstort in die ravyn.

Uiteindelik is ons in by die park en langs die pad sien ons die magtige Oranjerivier soos hy afstorm, in vloed, op die rotse en skeure wat voorlê voordat die water verdwyn in die smal kloof op pad na die see. In die verte kon jy reeds die dreuning van die water hoor soos dit afstort in die ravyn.

Nadat ons geparkeer en klaar die toegangsgelde betaal het, stap ons af na die waterval. Op ’n afstand kan jy al die kolkende watermassa sien soos dit oor die afgrond stort – wat ’n asemrowende gesig is dit nie. Die rivier het so breed gevloei dat daar sestien watervalle was, elkeen pragtig maar nie te vergelyk met die hoofval wat water meters hoog die lug in opskiet soos dit die rotse tref. Dit was voorwaar ’n skouspel soos min en het ek net weereens besef hoe Magtig moet Vader wees as Sy skepping so groot en wonderlik is.

Verder in die ravyn af is die watervalle nie so groot en indrukwekkend nie maar is hulle baie hoog en wanneer die water neerstort onder in die kolkende watermassa is dit soos ’n wolk van misreën wat opstyg. Die reënmis is so erg dat as jy maar ’n paar minute in die reënmis loop, is jy so nat dat jy die water uit jou klere kan uitdroog.

Die reënmis maak van alle kante af nat, bo, onder langs die kant, daar is nie te ontsnap aan die reënmis nie. Jy haal selfs die reënmis in en dit omvou mens in totaliteit.

Wat ’n lieflike ervaring was dit nie en voorwaar ’n skouspel om te sien en te beleef.

Dinsdagoggend tydens my oggendaanbidding en lofprysing verskyn die wonder van wat ek die naweek aanskou het, weer in my gedagtes en word die volgende lesse daaruit vir my geleer deur die Gees van Yahweh.

Soos wat ons gewag het om in te gaan en die wonder van die valle te aanskou, so wag die mense hier op aarde op die koms van ons Verlosser wanneer Hy op die wolke sal verskyn. Daar is ’n groot afwagting en opgewondenheid onder Sy kinders om Hom te sien. Maar so is daar ook ’n paar wat moedeloos raak terwyl hulle wag, maar steeds wag hulle en hou moed want die einde is in sig. Ongelukkig is daar ook dié wat nie kans sien om so lank te wag nie en maar omdraai en wegstap van die heerlikheid wat daar wag, want die wêreld roep harder as die stem van die Almagtige. Die klein syvertakking van die rivier was soos ’n klein voorskou van wat op ons wag en so loop ons ook in ons omwandelinge saam met Vader hierdie onverwagse heerlike geskenke van Sy Heerlikheid raak en staan ons soms verbyster voor Sy grootheid en Almag. Soms wanneer ons totaal moedeloos is, lei Vader ons om by so ’n syvertakking uit te kom, sodat ons weer verfris kan word deur die heerlikheid van Sy genade.

Wanneer jy by die park ingaan, dan weet jy, jy het uiteindelik gearriveer by jou bestemming, die paar kilometer wat jy nog moet ry, maak nie saak nie, want jy is in, die gewag is verby. Wanneer ons die Here aanneem as ons enigste Verlosser, dan het ons ook gearriveer, in die Heerlikheid en reddende Genade van ons Koning. Dan kan ons eers die groot rivier van Sy genade sien. Ons is nog nie by die skouspel nie, maar ons kan nou sien waarheen dit lei en ons sien die Almag wat hierdie rivier van Liefde en Genade van ons Vader voortdryf.

Die afgaan na die valle is ook die paadjie wat ons moet wandel nadat ons gered is, want dan eers begin die groei en die werklike kennismaking met die grootheid van God. Ons kan Sy stem hoor net soos ons die gedreun van die valle kan hoor. Dit lok jou om nader te kom en die almag en skouspel te kom aanskou.

Elke een wat daar staan en die valle aanskou lyk baie tevrede, want hulle het tot hier gekom om die wonder van die valle te aanskou net soos die kinders van Vader baie bly is dat hulle die wonder van Sy heerlikheid mag aanskou.

Die reënmis wat opslaan van die valle en mens omtrent insluit van alle kante is soos die Gees van Vader wat ons omvou, wat deel word van ons en getuig van die grootsheid van die water. Sonder die water kan daar geen reënmis wees nie en die valle veroorsaak die reënmis. Die een getuig van die ander en saam is hulle deel van dieselfde water.

Aan die einde van die besoek het my vrou opgemerk dat dit voel asof die hele prentjie nog nie heel voltooi is nie, sy sal graag wil sien waar die water die see inloop, want dit sal die hele skouspel afrond.

Vir die afronding van die skouspel sal ons maar nog ’n rukkie moet wag totdat ons Koning ons kom haal op die wolke, dan sal die prentjie voltooi wees.

Watter wonderlike ervaring was dit nie en wanneer ek weer by ’n waterval kom, sal die les van Augrabies my altyd bybly.

Soms tref ons die Vader se genade en lering op die mees onverwagse plekke aan, ons moet net altyd sorg dat ons “ore” oop genoeg is om te luister.

Tuesday, 2 April 2024

Dinsdag-denke: Paul ... die vervolgde broer in Christus

Net soos die Apostel Paulus, was Paul in Afrika gevange geneem vir sy geloof. Nou in sy vroeë 40's, het hy reeds 10 jaar in 'n Eritiese tronk verduur. Hier het hy konstante hongerte, siekte en 'n geestelike geveg ervaar om sy geloof te ontken. "Ons sal jou vrylaat as jy net instem om hierdie vorm te teken," het die wagte gesê. "Hoekom al hierdie jare mors?"

"Dis alles ter wille van my geloof," het Paul aan hulle gesê.

Terwyl Jan Gouws hierdie getuienis skryf, word Christenmans vervolg, geslaan, uitgebuit, gevange geneem en doodgemaak vir hulle geloof. Vervolging teenoor hulle is gewoonlik gefokus, ernstig en sigbaar. En wanneer manlike broodwinners en kerkleiers getref word - word hul gemeentes en families in puin gelaat.

Paul is uit die tronk, maar sy stryd is nog lank nie verby nie. Beide sy ouers is dood terwyl hy in die tronk was, so op hierdie stadium rou hy. Hy voel soos 'n vreemdeling vir sy familie en sy pyn is wesenlik.

Paul se woord van dank aan Geopende Deure was soos volg: "Julle het my materieel ondersteun terwyl ek in die tronk was, sels al is julle nie my bloedfamilienie. Selfs na my vrylating is die manier waarop julle my ondersteun het, ongelooflik. Ek het die hand van die Here deur julle gesien. Ek kan julle nie genoeg bedank nie. Die Here vertroos my en gee my hoop. Ek wil steeds vir Hom lewe en die vrug van Sy arbeid in hierdie land sien. Dit is die enigste ding wat ek begeer."

[Jan Gouws - Uitvoerende Direkteur
Geopende deure Suider-Afrika
22 Oktober 2019 - uittreksel uit brief van Geopende Deure]

Tuesday, 26 March 2024

Dinsdag-denke: Die dooie eend

Die volgende is ‘n kort verhaaltjie oor die genade van ons Hemelse Vader.

Daar was op ’n keer hierdie seun wat ’n rek present gekry het, maar niks daarmee kon raakskiet nie.
Tot hy op 'n dag op sy ouma se troeteleend aangelê het. Wat natuurlik ’n raakskoot was - met die gevolg: ’n dooie eend. Toe hy paniekerig die eend onder ’n klomp hout probeer wegsteek, sien sy suster hom. Toe hy en sy suster die aand na ete skottelgoed moes was, was sy suster se woorde gou: ek dink jy kan maar alles was, en as jy nie wil nie, onthou gerus van die eend.

Na twee weke was hy so moedeloos gewas dat hy besluit het om maar liewer voor ouma te bieg. En ouma se woorde? Ek weet van die eend, my seun. Ek het alles deur die venster gesien. Omdat ek jou liefhet, het ek jou klaar vergewe. Ek het net gewonder hoe lank jy jou suster gaan toelaat om jou haar
slaaf te maak.

Wat het hier gebeur? Die seun was reeds vergewe, maar hy het gedink hy is skuldig, het geglo hy sal altyd skuldig bly, omdat ouma hom nooit sal vergewe vir haar troeteleend nie. As hy maar net dadelik na ouma gegaan het.

’n Eenvoudige verhaal. Maar dit is ook ons verhaal. Ons skiet nie met rekke nie, maar wel met oneerlikheid, hebsug, woede, arrogansie, leuens. God is soos hierdie ouma. Hy sien ons, al probeer ons wegkruip. Hy reik uit na ons al sondig ons elke dag. Hy hou ons steeds styf vas en verseker ons van Sy liefde en genade net omdat Hy kan. Hy is ons God. Hy verlaat ons nooit oor verkeerde besluite nie, maar betoon eerder sy liefde aan ons.

Die beste voorbeeld wat Jesus vir ons kom stel het, was juis hierdie voorbeeld van genade - onverdiend en liefde onvoorwaardelik. Aan die kruis word Jesus bespot deur die misdadigers wat saam Hom gekruisig word. Een van hierdie misdadigers reik uit na Jesus en dan sien ons hoe Jesus hom verseker dat hy saam met hom in die paradys sal wees. Die Here het elkeen van ons onvoorwaardelik lief en dit is iets waarvoor ons waarlik dankbaar kan wees. Ons dien immers ‘n God wat uitkyk vir ons en ons veilig hou in sy hande.

Bron: Maandblad van die NG-kerk Môregloed
Augustus 2018 

[Dankie, Anoniem, dat jy hierdie stukkie met ons deel.]  

Tuesday, 19 March 2024

Dinsdag-denke: Vir ons beswil

Soms bring God swaarkry oor Sy kinders om hulle weer op die regte pad terug te bring. 

As dit met ons goed gaan, is dit so maklik om ver van God af weg te dwaal. 

Dit is eers in tye van nood en swaarkry dat ons werklik besef dat ons self hulpeloos en onmagtig is, dat ons ontdek dat daar net Een is wat werklik kan help en vir ons uitkoms kan gee. Aan die einde van die dag is daardie stuk swaarkry wat ons weer by God uitgebring het, dus tot ons beswil. 

God het altyd 'n doel met ons seerkry en swaarkry. Hy wil ons daardeur nader aan Homself trek, Hy wil ons leer dat ons nie sonder Hom kan lewe nie, dat ons Sy liefde en krag elke dag nodig het, dat hierdie pyn en swaarkry waarteen ons so skop, ons uiteindelik ryker en ryper kinders van God sal maak. 

Dwarsdeur die Bybel kry ons te doene met mense wat deur hulle swaarkry vir God beter leer ken het. Job erken op die ou end dat sy swaarkry die bril was waardeur Hy God gesien het.Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien. Job 42:5

Hemelse Vader, ek weet so goed dat U 'n doel het met hierdie probleme in my lewe, maar ek kan nie leer om vrede te maak daarmee nie. Dankie dat U my daardeur wil leer en dat U dit wil gebruik om my voete weer op die regte pad te kry. Amen.  

Tuesday, 12 March 2024

Dinsdag-denke: Rose vir Mamma

Die middeljarige man stop by die bloemiste, hy wil gou ’n bestelling plaas vir blomme wat deur Interflora aan sy moeder gestuur moet word. Dit is môre haar sewentigste verjaarsdag, maar hy sal nie môre kans kry om die tweehonderd kilometer af te lê om die blomme vir haar te neem nie.

Terwyl hy uit sy motor klim, merk hy die dogtertjie op wat op die sypaadjie sit en huil.
Hy vra haar wat fout is en sy antwoord: “Ek wil graag ’n rooi roos vir my moeder koop, maar ek het net een rand en die rose kos vyf rand ’n roos.”

Die man glimlag en sê: “Kom saam met, ek sal vir jou ’n mooi rooi roos koop.” Hy koop toe vir haar die roos wat sy graag wil hê en plaas die bestelling vir sy ma se blomme. Terwyl hulle uit die winkel stap bied hy aan om haar by die huis te gaan aflaai.

Sy antwoord: “Ja, asseblief! Maar sal u my na my moeder toe neem.”

Sy beduie vir die man die pad en weldra arriveer hulle by die begraafplaas. Sy klim uit en stap na een van die nuut opgemaakte grafte en plaas die roos op die vars hopie grond wat oor die graf is.

Die man het teruggegaan na die bloemiste, die Interflorabestelling gekanselleer, die grootste bos blomme in die blommewinkel uitgesoek en die tweehonderd kilometer gery na sy ma se huis.

Ons moet aan hulle vir wie ons lief is, blomme gee terwyl hulle lewe, wanneer hulle dood is, kan hulle dit nie waardeer nie.

Tuesday, 5 March 2024

Dinsdag-denke: Twee kommervrye dae

Daar is twee dae in elke week waaroor ons, ons nie moet bekommer nie, twee dae wat vry gehou moet word van vrees en besorgdheid.

Die een dag is gister met al sy foute en bekommernisse, sy pyne en skete, sy wroeginge en tekortkominge.

Gister is verby en is glad nie meer binne ons beheer nie. Al die geld in die wêreld kan gister nie weer terugbring nie.

Ons kan nie een enkele aksie wat ons gister gedoen het, ongedaan maak nie; ons kan nie ’n enkele woord uitvee wat ons geuiter het nie.

Gister is vir ewige verlore.

Die ander dag waaroor ons ons nie moet bekommer nie is môre, met al sy moontlike probleme en laste, sy belofte van grootheid wat hy mag inhou of sy swak prestasie wat dit mag oplewer. Môre is buite ons onmiddellike beheer.

Môre se son sal opkom, hetsy in volle glorie of agter ’n wolkemasker, maar dit sal opkom. Totdat dit opkom, het ons nog geen aandeel in môre nie, want dit moet nog gebore word.

Dit los ons net met een dag ... vandag.

Enige persoon kan die geveg net voer vir een dag en dit is vandag. Dit is wanneer ons die laste van die twee ander entiteite, gister en môre, byvoeg, wat maak dat ons gebroke en moedeloos raak.

Dit is nie die ondervinding van vandag wat ’n persoon tot raserny dryf nie, dit is die spyt en jammerte van iets wat gister gebeur het en die vrees van wat môre mag bring.

Daarom moet ons leef vir vandag en so leef asof elke dag ons laaste dag is, sodat ons met blydskap verantwoording kan doen oor ons aksies vandag. 

[Dankie, Anoniem]

Tuesday, 27 February 2024

Dinsdag-denke: Soen iemand voordat jy gaan

Die voorstedelike trein wieg heen en weer, die ysterwiele beweeg met ritmiese klikke-klakke oor die spoorlasse. Buitekant die venster is die bittere winterkoue op die landskap duidelik te bespeur, terwyl die trein daardeur spoed soos ‘n onwelkome indringer. Die passasierstrein is vol verkluimde, verveelde passasiers wat elkeen vasgevang is in sy of haar eie gedagtewêreldjie. Stroef staar elkeen voor hom uit sonder om die medepassasier oorkant of langs hom op te merk.

Skielik is daar ‘n klein seuntjie wat sy weg baan deur onwillige grootmensbene om by die opening op die bankie langs die venster uit te kom. Sy pa staan by die deur en hou ‘n wakende ogie dat die knapie nie wegraak tussen die baie passasiers nie. Die seuntjie is omring deur onvriendelike, half aan die slaap volwassenes. Wat ‘n brawe mannetjie, het ek by myself gedink.

Toe die trein begin om die tonnel binne te gaan, gebeur daar iets heel onverwags en uit die bloute. Die klein seuntjie gly van sy sitplek af en plaas sy handjie op my knie. Vir ‘n oomblik het ek gedink dat hy by my wil verby gaan, terug na sy pa toe, dus skuif ek so effens uit die pad om plek te maak. Maar in plaas daarvan om verby te skuur, leun die seuntjie vooroor en rek sy koppie na my. Hy wil my seker iets vertel, dink ek by myself. Kinders ! Ek buig effens vooroor om te luister na wat die mannetjie my wil vertel. Weereens verkeerd! Hy soen my liggies op die wang.

Hy keer terug na sy sitplek en met vol genoegdoening kyk hy by die venster uit. Maar, ek is geskok. Wat het gebeur? ‘n Klein seuntjie wat onbekende volwassenes op die trein soen? Tot my verbasing, gaan die seuntjie voort om al my medepassasiers op die wang te soen. Senuweeagtig en half geskok kyk almal vraend na sy pa, “Hy is baie bly dat hy lewe,” antwoord sy vader. “Hy was baie siek en het by die dood omgedraai.”

Die trein stop en pa en seun klim van die trein af en verdwyn tussen die malende menigte. Die deure maak toe. Op my wang kan ek steeds die seuntjie se soen voel – ‘n soen wat my dwing om ernstige selfondersoek te doen.

Hoeveel grootmense is daar wat rondgaan en mekaar soen uit pure blydskap dat hul lewe? Hoeveel dink enigsins daaraan hoe bevoorreg hul is om te leef? Wat sal gebeur as ons almal net begin om onsself te wees en hierdie aangeplakte fasade af te pluk?

Die klein seuntjie het ons ‘n soete maar ernstige klap in die gesig gegee. Moet nie toelaat dat jy doodgaan, lank voordat jou hart gaan staan het nie!

Tuesday, 13 February 2024

Dinsdag-denke: Ware vriende bly deur al die jare by jou staan

'n Goeie vriend of vriendin is soos 'n ster. Jy hoef hom of haar nie noodwendig elke dag te sien nie, maar jy weet hy of sy is daar.

Dit is gewoonlik eers wanneer jy werklik iemand nodig het, dat daardie besonderse vriendskap uitstaan. Dit is dan wanneer jou werklike vriende hul ware kleure wys. 'n Mens moet jou ware vriende koester wat jy deur die jare gemaak het. Jy moet dankbaar wees dat hulle daar vir jou is wanneer jy hulle nodig het.

Dit is ook selde dat 'n mens nuwe vriende maak wat dieselfde plek in jou lewe kan inneem as die maatjies van toentertyd. Dekades kan verbygaan dat jy 'n ou vriend nie gesien het nie en binne 'n paar minute ná wedersiens, gesels 'n mens 'n hond uit 'n bos. Die jare tussenin verdwyn en die vriendskapsband word versterk.

Mooiweersvriende is soos onkruid. Hulle ry op die golf van jou sukses. Staan bakhand wanneer daar iets uit te dele is. Geniet jou spys en drank terdeë. Dit is hulle wat misbruik van jou vriendskap maak. En wanneer jy hulp nodig het, spat hulle soos 'n spul vinke weg. Dit is dan wat jy besef wie jou ware vriende is. Mense wat deur dik en dun by jou sal staan. Wat geen moeite sal ontsien om jou by te staan en te help nie.

Ek het al jare gelede besef 'n mens moet nie te veel van jou medemens verwag nie. 

Verwag eerder niks en word verras! 

Tuesday, 6 February 2024

Dinsdag-denke: Geroep om te dien

Elementêre opleiding op 20 jaar

"Kazuo, jy is nie gesond nie en het geen aanleg vir leer nie," het sy vader gesê, toe hy hom sommer uit die bloute afgeskryf het!

"Jou ma is oorlede en nou hang dit van jou af as die oudste om na die vyf jonges te kyk!" Hy was maar slegs 9 jaar oud; daarom het sy vader se woorde hom verpletter. "Ek is net goed genoeg om die neuse en boude van die jonges af te vee," het hy gedink, terwyl hy oor sy tweederangse bestaan gedink het.

Kazuo Taira wou bitter graag iets van sy lewe gemaak het, maar sy familie het in 'n klein vervalle koolmyndorpie gewoon. Hy kon op geen hulp van van sy vader steun nie, wat boonop geen vertroue in Kazuo se vermoëns gehad het nie en wie se inkomste nie genoeg vir kos op die tafel was nie.

Hy het gewens om gesonder, sterkter en gelukkiger te wees, maar het verlate en wanhopig gevoel. Al die inwoners van die dorpie was negatief, krities en moedeloos. Kazuo wou uit hierdie omstandighede ontsnap. Hy was vasbeslote om 'n meer positiewe omgewing te vind waar hy 'n nuwe lewe kon begin.

"Genoeg is genoeg!" het Kazuo vir homself gesê toe hy 14 jaar oud was en het daarin geslaag om uit sy situasie te ontsnap. Hy het na die groot stad, Osaka, gegaan. Sy lot was egter om 'n klerewinkel te vee en skoon te maak, omdat hy geen skoolopleiding gehad het nie en hy gevra het of hy 'n vakleerling kon word.

Lang werksure en degeneratiewe lewenstyl was te veel vir sy tingerige liggaam. Eendag het hy longbloeding opgedoen en is dadelik gehospitaliseer. Dit het al sy drome vir 'n beter lewe vernietig. Hy was fisies uitgeput en verskriklik bang. Mense rondom hom het gesterf en hy het gedink dat hy heel waarskynlik die volgende een gaan wees. Vrees vir die dood was voortdurend in sy hart.

Een middag toe hy in een van die lang gange van die hospitaal afgestap het om te gaan verduidelik waarom hy nie sy rekening kan betaal nie, het hy mense hoor sing soos nog nooit tevore in sy lewe nie! Hy het gestop om te luister na die woorde en is vreemd getrek na die kamer waar die evangelis Karasawa van Japansending 'n byeenkoms gelei het. Die evangelis het na die byeenkoms vir hom 'n Bybel gegee, waarna hy moes erken dat hy nie kan lees nie.

Die volgende dag het mnr. Karasawa hom in sy saal besoek en hom 'n woordeboek gegee. Hy het Kazuo aangemoedig om te leer lees en skryf. Dit was die eerste persoon wat hom ooit aangemoedig het om opgelei te word sodat sy lewenskwaliteit kan verbeter. Dit was die keerpunt in sy lewe.

Toe hy die hospitaal verlaat, het hy 'n brandende begeerte gehad om te leer en opgelei te word. Hy was toe 20 jaar oud en elke primêre skool wat hy genader het, het hom toelating geweier. Hy het bly aansoek doen en is uiteindelik deur 'n skool aanvaar wat hom toegelaat het om saam met die jong kinders te leer. Na skool het hy lang ure gewerk om geld te verdien om sy uitgawes te dek en sy familie te help.

Eendag het Kazuo by 'n kerk in sy omgewing uitgekom en dit het hom herinner aan die boodskap van hoop wat hy gehoor het in die hospitaal. Hy het die byeenkomste begin bywoon en 'n paar maande later het hy sy sonde bely en heelhartig geglo in die versoenende bloed van Jesus Christus. 

Die woord van die kruis van Christus is wel dwaasheid vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God. (1 Kor.1:18)

Hierdie vers het Kazuo baie bemoedig, maar hy het verkeerdelik gedink dat hy ná hy 'n gelowige in Christus geword het, nie meer beproewings en probleme in sy lewe sal hê nie. Dit was 'n groot skok vir hom toe hy weer 'n slagoffer van tuberkulose geword het. Hy het so mismoedig geword dat hy wou sterf. Maar die evangelis in daardie hospitaal het hom aangemoedig om aan God te bly vashou. Agtien maande later is hy gesond verklaar en ontslaan.

Kazuo Taira was 'n wyser en ryper man toe hy die hospitaal vir die tweede keer verlaat het en het 'n aktiewe lid van die plaaslike kerk geword.

Die Here het sy hart met vrede en blydskap gevul, terwyl Hy Kazuo gehelp het om die wrok wat hy teenoor sy vader gekoester het, te hanteer. Menslik gesproke was dit onmoontlik, maar die inwerking van die Heilige Gees het sy bitterheid laat verander in ware liefde.

As jy dan jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het, laat jou gawe daar voor by die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder en kom dan en bring jou gawe. (Matt. 5: 23-24)   

Na hy finansieel selfstandig geword het, het hy sy bejaarde vader genooi om by hom te kom bly. Dit het hom die geleentheid gegee om met sy pa te praat oor God se vergifnis en hom te vertel van die reddende genade van Jesus!

"As kind het my vader my afgeskryf, maar ek is so bly dat God sy oë op my het en in sy voorsiening het hy my lewe verander. God is nou my getroue metgesel en ek steun elke dag op die voorreg van sy teenwoordigheid in my en my familie se lewens!"

[Japansending Januarie/Februarie 2012]

Vir meer inligting klik HIER

Tuesday, 23 January 2024

Dinsdag-denke: Hewige rusie

Donkie en Tier is in ‘n hewige rusie oor watter kleur die gras is.

Donkie hou voet by stuk dat die gras blou is, en tier stry en sê dis groen. Na bykans ‘n uur se gestryery maak Donkie die voorstel: “Kom ons gaan na Koning Leeu - hy is die slimste en sal vir ons die antwoord gee.” 

By Koning Leeu aangekom, val Donkie sommer met die deur in die huis. “Koning Leeu, ek sê die gras is blou, maar tier hou aan stry dat dit groen is. Watter kleur is die gras?” 

Leeu kyk die twee stip aan, dan gluur hy vir Tier. “Donkie is heeltemal reg,” brul hy. “Die gras is blou! En Tier, vir jou onnoselheid, mag jy vir 5 dae lank niks sê nie!” Doodtevrede bulk en dans Donkie terug na sy grasland toe om verder te wei. Tier kyk geskok na Leeu en vra: “Mag ek iets sê voor ek stilbly vir 5 dae? Jy weet net so goed soos ek dat die gras groen is! Waarom sê jy vir Donkie dis blou??!!” “Omdat jy so dom was om met hom te stry oor iets wat ‘n voldonge feit was,” antwoord Leeu droog. “Jy het jou soos ‘n donkie gedra!” 

Daar is nog ‘n voldonge feit waaroor niemand mag stry nie - ons het meer as genoeg rede om die Here te loof en te prys! Psalm 149 roep ons weer op om ‘n nuwe lied vir God te sing - kom ons kyk gou na wat die Psalm sê:
  • Maak jou loflied elke dag nuut! Elke dag gebeur daar iets met ons wat nie gister gebeur het nie - gebruik dit om teenoor mense oor God te getuig (vers 1). Vind daardie nuwe ietsie elke dag.
  • En dit hoef nie net liedere te wees nie - dans voor die Here (verse 2-3)! Slaan ritme met jou borsel op die spieëlkas. Borsel jou tande met ‘n vrolike ritme! 
  • God geniet dit so as ons Hom loof en prys, dat Hy dan sommer namens ons veg en vir ons die oorwinnings behaal (verse 4-6). Dit alleen is al reeds meer as genoeg rede om Hom onophoudelik en met groot genot te prys!
  • Ons lofsange teenoor God bind kettings om ons vyande se enkels, vernietig ons omstandighede wat ons probeer onderdruk en tel ons op bokant alles sodat ons saam met Hom kan triomfeer (verse 7-9).
  • Moenie jou soos ‘n donkie gedra en probeer stry oor dinge wat jy rondom jou sien nie. Wéét wat die waarheid is: die Here leef en regeer! Maak nie saak watse twak die lewe vir jou probeer vertel nie - hou aan om die Here te loof, want Hy regeer! Moenie eens met die wêreld probeer redeneer nie - hou net aan om die Here te loof! As tier maar net die onderwerp verander het en God begin loof het ... maar toe wil hy sy punt bewys deur te stry. Daar is geen rede vir ons om ‘n punt te bewys nie – dis reeds vir ons aan die kruis gedoen. Al wat ons nou moet doen, is om net die Here te loof!

Tuesday, 16 January 2024

Dinsdag-denke: The blood of the lamb destroyed the venom

“A rattlesnake bit one of my sheep in the face about a week ago. Deadliest snake that lives around here. The sheep’s face swelled up and hurt her terribly. But the old rattlesnake didn't know the kind of blood that flows through the sheep. Anti-venom is most often made from sheep's blood. The sheep swelled for about 2 days but the blood of the lamb destroyed the venom of the serpent.

I was worried but the sheep didn't care. She kept on eating, kept on drinking and kept on climbing because she knew she was alright.

Often the serpents of this life will reach out and bite us. They inject their poison into us but they cannot overcome the Blood of the Lamb of God that washes away the sin of the world and the sting of death. Don't worry about the serpent or his bite, just make sure that the Lamb's Blood is flowing through your veins.”

Tuesday, 9 January 2024

Dinsdag-denke: Maak 'n verskil

[Carina Benadé: Die Pienk Boekie Nuusbrief nr. 93 Maart 2011]

Die jaar met sy hoogte- en laatepunte, het die Here dit op my hart gedruk om 'n verskil te maak. "Hoe Here," het ek gevra.

"Wees jy die verskil wat jy wil sien ..."

Ons het almal drome en verwagtinge, maar is ons droom en verwagting die identiese plan wat God vir ons het? Elkeen van ons het 'n verantwoordelikheid om by God te hoor wat Sy plan met ons lewens is. God het die antwoord nog voordat ons die vraag vra, en Hy sal ons antwoord. As ons gehoorsaam is en dit doen wat God van ons verwag, sal Hy vir ons seën!

As die jaar meer laagtepunte as hoogtepunte gehad het, kan jy maar weet - God het groot planne vir jou!! Met elke eina in ons lewe het God 'n plan. Hy maak ons sterker om nuwe en groter uitdagings te kan aanpak deur Sy genade. Ons moet egter weet - uit ons eie kan ons niksdoen nie, ons krag lê in stil wees en vertroue in God.

Die jaar nuwe jaar kan 'n verskil in jou lewe maak, omdat jy 'n verskil in iemand anders se lewe kan maak. As jy voel jy kan nie 'n verskil maak nie, want jy is maar net jy, is dit juis vir jou wat die Here wil en kan gebruik. God wil ons vrymaak van al ons negatiewe gedagtes oor onsself. Ons is soms ons eie grootte vyand omdat ons onsself afkraak en nie besef wie ons in God is nie. Besef ons, ons is na die beeld van God geskep ...?

God sê ons moet ons losmaak van die verlede en ons uitstrek na dit wat voorlê. Ons verlede beteken vir God niks, dit is oor ons toekoms wat Hy begaan is. As ons God se salwing in ons lewe wil ervaar moet ons onsself ondergeskik ste aan Sy heerskappy.

Ons kan die verskil wees wat die wêreld nodig het. As ons 'n verskil in een persoon se lewe maak, word God verheerlik.

Is ek en jy bereid om die verskil te wees? Bid en vra God om jou geestesoog oop te maak, sodat jy Sy plan vir jou kan sien. Vra God om jou geestesoog oop te maak, sodat jy Sy stem kan hoor, Hy sal jou antwoord as jy vra wat Sy wil is.

Jy kan 'n verskil in iemand se lewe maak deur bv. net vriendelik te groet, 'n WA te stuur of die skouer wees vir die persoon as hy/sy wil huil.

Hierdie is nie 'n SIELKUNDIGE SESSIE nie, maar 'n OMGEESESSIE. Wie kan iemand beter verstaan as die person wat al self deur min of meer dieselfde krisis moes werk?! Ek is nie 'n sielkundige nie, maar ek sal bv. baie begrip met 'n vrou hê wat deur die pyn van miskrame worstel ... want ek kan uit ondervinding praat, twee miskrame en twee buisswangerskappe verder is nie iets wat jy sommer so agter jou kan sit nie ... Die seer wat ons soms in die lewe ervaar, is dalk die salf vir iemand anders se seer.

God is lief vir jou en my, ons moet dit glo. Ons moenie toelaat dat ons omstandighede ons gevoelens bepaal nie. Ons moet uit God se genade ons oorwinning leef. Moenie toelaat dat ander mense se opinies jou van jou potensiaal of gesond word beroof nie!!

Ons bepaal in 'n mate ons eie toekoms en as dit vir jou voel dat jou lewe saai is en jy soek na iets, is dit miskien vir jou wat God wil gebruik om iets vrugbaars in iemand anders se lewe te saai. Ek kan jare lank net sit en droom ... of ek kan opstaan en die eerste tree in die geloof gee. Al persoon wat die keuse kan maak, is jyself.

Of die omgee-aksie suksesvol gaan wees, dit weet ek nie, maar as dit tot God se eer is, en dit maak 'n verskil in een persoon se lewe was dit suksesvol. Die liefde genees mense - die wat dit ontvang, maar veral dié wat dit onvoorwaardelik gee. (Karl Menninger)

God se barmhartigheid teenoor die wêreld staan nooit los van sy kinders se dade van barmhartigheid nie, God se liefde kry sigbare hande wanneer sy kinders soos sy kinders lewe - deur omgee.

Here Jesus, gee vir my dieselfde omgeeliefde wat U aan die kruis openbaar het. Help my om ander opreg lief te hê. Here, dankie vir mense wat daar is vir my, wat my liefhet en ondersteun en my help al het ek geval. Dankie dat hulle bereid is om na my te luister.
Amen.