Tuesday 13 February 2024

Dinsdag-denke: Ware vriende bly deur al die jare by jou staan

'n Goeie vriend of vriendin is soos 'n ster. Jy hoef hom of haar nie noodwendig elke dag te sien nie, maar jy weet hy of sy is daar.

Dit is gewoonlik eers wanneer jy werklik iemand nodig het, dat daardie besonderse vriendskap uitstaan. Dit is dan wanneer jou werklike vriende hul ware kleure wys. 'n Mens moet jou ware vriende koester wat jy deur die jare gemaak het. Jy moet dankbaar wees dat hulle daar vir jou is wanneer jy hulle nodig het.

Dit is ook selde dat 'n mens nuwe vriende maak wat dieselfde plek in jou lewe kan inneem as die maatjies van toentertyd. Dekades kan verbygaan dat jy 'n ou vriend nie gesien het nie en binne 'n paar minute ná wedersiens, gesels 'n mens 'n hond uit 'n bos. Die jare tussenin verdwyn en die vriendskapsband word versterk.

Mooiweersvriende is soos onkruid. Hulle ry op die golf van jou sukses. Staan bakhand wanneer daar iets uit te dele is. Geniet jou spys en drank terdeë. Dit is hulle wat misbruik van jou vriendskap maak. En wanneer jy hulp nodig het, spat hulle soos 'n spul vinke weg. Dit is dan wat jy besef wie jou ware vriende is. Mense wat deur dik en dun by jou sal staan. Wat geen moeite sal ontsien om jou by te staan en te help nie.

Ek het al jare gelede besef 'n mens moet nie te veel van jou medemens verwag nie. 

Verwag eerder niks en word verras! 

No comments:

Post a Comment