Sunday 11 February 2024

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Soutsmaak op my lippe

Groete en Vrede!!!

Vroeër jare was dit ons gebruik hier op Noenieput dat die huisrommel (wanneer die swart rommelsak vol is) in die brandblik gegooi word. Daarna word dit brand gesteek. ‘n Taak wat ek normaalweg met groot versigtigheid pligsgetrou uitgevoer het omrede die brandblik gewoonlik so ‘n handvol tree van ons buitestort af staan. ‘n Buitestort wat ons oudste seun met dekgras vir ons gebou het.

Woensdae is ook “Crafting” dag vir Noenieput se vrouens – vroue wat goed vertroud is met die swaarkry kant van die lewe. Normaalweg kom hulle so een-een op die werf aan. En as ek op daardie stadium moontlik in die kantoor besig sal wees, sal hulle my sommer so deur die kantoor se venster groet en dalk ‘n woordjie of twee wissel. Daarna word daar spore gemaak om in die “Craft” kamer te kom waar die Mooiste Mooi reeds vir hulle sal wag. En sodra die laaste een die deur agter haar toegetrek het, begin ‘n spesiale dag. ‘n Dag waar daar gekuier, gekoggel, gelag, gesing, gehuil, gebid en bemoedig word terwyl hulle die mooiste geskenke maak.

Die spesifieke Woensdagoggend het net soos vele ander Woensdae voor hom begin. Die Mooiste Mooi was nog voordat die son agter die verste duin opgestaan het, al aan die gang. Eers het sy met ‘n koppie tee in die hand, tyd met die Skepper van hemelgoed en stofaarde spandeer. Daarna het sy die oorvol rommelsak op die agterstoep uitgesit en met ‘n lied op die lippe reggemaak vir nog ‘n dag saam met ‘n klompie van Noenieput se werklose vrouens.

Kort neffens ontbyt het ek die rommelsak wat op die agterstoep gelê het, in die brandblik gaan gooi en brand gesteek. Omrede dit hoog somer, baie warm en windstil was, het ek nie soos gewoonlik gewag nie en opslag die koeligheid van ons kantoor gaan opsoek.

Ek was skaars in die kantoor toe ek iets hoor wat ampertjies soos ‘n ontploffing klink. ‘n Minuut of wat later, weergalm Koba se stem soos ‘n brandsirene oor die vlak terwyl sy skree “Dit brand, kom gou, dit brand, die grasstort brand!” ‘n Verdwaalde kooltjie het met die ontploffing tussen die gras van die stort beland en vlam gevat. Geelrooi honger vlamme wurm hulleself vinnig-vinnig tussen die droë gras van die buitestort in. Die vlamme brand hoër en hoër asook warmer en warmer terwyl ‘n witgrys rook wat hemelhoog pronk, getuig van hierdie vretende vuur se vernietigende en gulsige teenwoordigheid.

Op daardie selfde oomblik skrik ek my mond kurkdroog, spring op om buite te kom. Ek was skaars by die kantoordeur uit toe ek my vasloop teen ‘n amperse histeriese Mooiste Mooi wat my kom soek het. “Doen iets, doen tog net iets” skree die Mooiste Mooi steeds histeries, maar ons hande hang slap. Die vuur is net te warm en net te erg. So warm dat selfs van die wasgoed op die waslyn spontaan begin brand. ‘n Verlammende magteloosheid daal op almal op die werf neer. Met oë wat wyd oopgesper is en niks regtig raaksien nie, staar ons verdwaas om ons heen. Hierdie vuur is net te groot, te warm en te vinnig en daarteen kan geen mens baklei nie.

‘n Paar minute later en alles is verby. Al wat nou oor is, is ‘n hoop smeulende gras en ‘n paar erg verbrande teerpale. Ek voel die trane oor my wange voel loop want ek voel soos ‘n mislukking. Ek is magteloos en nietig vanweë my onvermoë om iets daadwerkliks teen hierdie vernietigende brand te doen. ‘n Brand wat meer as net ons buitestort en ‘n klompie klere is verwoes en verniel het. ‘n Brand wat ook onooglike en pynlike letsels op my en die Mooiste Mooi se menswees gelos het.

Sowat ‘n week later sit ek een vroegoggend buite op die kuierbankie onder die peperbome langs die Boerekerk se pastorie en wag dat die son uit sy bloedbad kruip. Met my Bybel en my oranje koffiebeker in die hand, wag ek vir die dag om te breek - hopelik ‘n dag sonder trane. Stadigaan begin trane oor my wange vloei en los ‘n soutsmaak op my lippe terwyl ek myself hoor sê:

Here, my hart is houtskool verbrand
Verwoes, verniel - geen kans aan hierdie kant

Here, ek is seer ... my hart stukkend
Wrede lewensbrande laat my wurgend

Here, wat maak ek met die letsels in my hart?
My binneste-binne deurtrek met trane vol smart

U liefde het vir my hoop gebaan
In sak en as kan ek voor U staan

My geliefde kind, laat jou trane vrylik loop
Dis My manier om letsels van jou te stroop

Ek weet van almal ... selfs die kleinste traan
Elkeen opgevang in ‘n kruik wat langs My staan

Iedere een gestort want dit is goed
Trane is die sagte reën vir jou gemoed.

 Op 21 vers 4(a) (Afr20) = “Hy sal elke traan uit hulle oë afdroog.”

Sandkorrel baie seëninge.

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549
Klik HIER vir verdere inligting.

[Dankie, Valerie, vir jou gereelde bydraes tot hierdie blog. Indien jy wil en betrokke kan raak by hierdie uitreiking, maak gebruik van die kontakdetail hierbo.]

No comments:

Post a Comment