Sunday 25 February 2024

Gebed vir iemand wat deur 'n storm gaan ...

Dankie Here, dat U raaksien wanneer U kinders besig is om te spartel. Dankie dat U weet wanneer dit vir ons voel asof die water bo-oor ons koppe gaan spoel. Dankie dat U my verdrink-oomblikke raakgesien het. En dankie dat U in daardie oomblikke nie net vir my vasgehou het nie, maar ook vir my stukkies hout gestuur het waarmee ek vir my 'n ark kon bou ... elke oproep om te hoor hoe dit gaan, elke boodskap en blommetjie, 'n houer suurstof om die asemhaal makliker te maak, 'n bak macaroni en kaas voor my deur, 'n kaartjie, lysies met raad, medisyne, soveel omgee en liefde. Dit was stukkies hout wat U gestuur het, en waarmee ek vir my 'n ark kon bou. 'n Ark wat my herinner het dat ek nie alleen is nie, 'n Ark wat my vertel het van al U kinders wat saam met my in die storm is. 'n Ark wat vir my gewys het dat U liefde is. Altyd.
Ek weet nie wanneer hierdie storm gaan weggaan nie, Here. Ek wil my nie moegmaak met teorieë en voorspellings nie. Ek wil my lyf en my hart in U liefde kom neersit, soos wat Noag in U ark weggekruip het. Daar, waar U liefde om my vou, wil ek soos 'n klein kindjie net vir U kyk, my oë op U hou. Want Here, U is my lewe. En in U liefde, wil ek leef. Altyd. Dis vir my genoeg.
Amen
(Katrienkie@2020)

[Dankie, Anoniem, wat hierdie gebed aangestuur het waarvan die inhoud nog net so relevant is en altyd sal wees as in 2020.]

No comments:

Post a Comment