Friday 2 February 2024

Vermeerder jou lag per dag ...

Indien jy Faceboek het, klik HIER en lees gerus die ware Jakob. Andersins kan jy afrol en verder lees. 

Hoe kan 'n mens te werk gaan om meer te lag as alles rondom jou nie lagwekkend is nie?

Hier is 'n paar wenke om meer lag in jou lewe te bring:

Maak 'n humorlêer - amper soos vroeër jare se plakboeke.
Vul dit met snaakse strokiesprente, gesegdes en grappies, soos jy dit raakloop. Blaai deur jou lêer as dinge besonder somber en stresvol lyk.
Jy sal lekker lag en dinge binne 'n japtrap weer in perspektief kan sien.

Kuier saam met vriende. Gelag is aansteeklik, kontak dus 'n paar vriende wat jou gemoed kan ophelder.

Bel 'n vriend wat jou gemoed verstaan en sal lig met sy/haar humor. 

Kyk na 'n aanlynvideo. Tik "snaakse video's" op jou gunsteling soekenjin en kies uit al die beskikbare keuses.

Skakel die TV aan. Met meer kanale as ooit tevore is daar altyd iets snaaks om na te kyk. (Dis nou as jy gelukkig is om 'n skottel te besit.)

Helder jou omgewing op waar jy die meeste ure per dag deurbring. Sit snaakse foto's van vriende en geliefdes teen jou muur, ook dié van jouself toe jy jou in 'n 'n snaakse situasie bevind het.

Speel met jou troeteldier. Diere stel ons in staat om onmiddellik te ontspan, en hulle bereidwilligheid om speelse aktiwiteite aan te pak, is 'n groot bron van vreugde.

Neem 'n lag-joga-klas. Lag-joga-lesse is die nuutste fiksheidsgier en word deesdae regoor die wêreld beoefen. Miskien is jy gelukkig om 'n klas naby jou te hê.

Doen sommige van die dinge wat jy as kind gedoen het vir ontspanning. Gaan na die dieretuin, 'n pretpark, boul of swaai! Jy sal vind dat hierdie aktiwiteite jou heeltemal wegneem van al die "swaar" dinge. En die ontsnapping sal wonders vir jou houding en gemoed doen.

Laastens, maak lag 'n prioriteit. Beplan elke dag tyd om iets te doen wat jou laat lag. As alles anders misluk, begin net lag. Selfs as gelag gedwonge is, bied dit baie van dieselfde voordele. Jy kan ontdek dat dit genoeg is om spontane lag te laat opwel.

Jy het 'n keuse: jy kan voortgaan om 'n 'grootmens' te wees, en al die frustrasies en teleurstellings in die lewe jou te laat onderkry, of jy kan lewenskragtigheid selfs in die moeilikste omstandighede inbring.

Maak glimlag 'n deel van jou lewe, en jy sal waarskynlik elke dag ten volle geniet en minder tyd by die dokter spandeer.

Klik HIER om sommer op die blog 'n paar goeie grappe te lees.

No comments:

Post a Comment