Friday 31 December 2021

Terugblik op 'n Covid-jaar: Bybelse karakters wat ingeperk was ...

Een van die aangrypendste FB-videos wat ek gesien het, kom uit Stellenbosch Moederkerk waar ds. Richard van Wyk persoonlikhede uit die Bybel gaan navors het wat ook almal in inperking was en wat die Here deur hulle lewens gedoen het daarna. Ek deel dit hier met erkenning aan Richard: Soek dit gerus op Facebook. Dit is die moeite werd.

Die volgende Bybelse karakters was almal ingeperk en wat God gedoen het met hulle: 
  • Noag en sy familie vir 'n hele jaar lank in die Ark - hy word die vader van alle nasies; 
  • Jakob was gegrendel by Laban - 20 jaar later is hy terug as Israel - Josef van 17 - 30 jaar oud - dit word die skool waar hy voorberei word vir leierskapsposisies; 
  • Moses in die woestyn vir 40 jaar en verlos sy volk; 
  • Naomi in Moab; 
  • Dawid 15 jaar nadat hy koning geword het en word hy 'n man na God se hart; 
  • Elia by die spruit Krit en daarna staan Elia alleen voor die Baalpriesters; 
  • Jona word ingeperk in die maag van 'n vis en as Jona daar uitkom dan preek hy onophoudelik; 
  • Daniel - 70 jaar in Babilonie; 
  • Ester in paleis en red haar volk van uitwissing; 
  • die dissipels in die bokamer en hulle ontvang die Heilige Gees en die Kerk word gebore, 
  • Paulus in gevangenisskap - hy skryf talle briewe aan gemeentes wat in die Bybel opgeneem word in hierdie tyd; 
  • Johannes word ingeperk op die eiland Patmos en daar skryf hy Openbaring - die grootste profetiese boek van alle tye. 
  •  God grendel vir Jesus vir drie dae in 'n klip graf voordat Hy opstaan en verlossing bewerk vir 'n ganse wêreld!
Aangrypend dankie Richard! Sal my altyd bybly. Nou is die vraag: wat gaan God doen na ons inperking? Ek kan nie wag om te sien hoe Hy ons gaan gebruik nie.

[Dankie vir die persoon wat dit na die blog gestuur het.] 

Wednesday 29 December 2021

'n Jaar is byna verby ...

'n Jaar is byna verby ...
'n Grondpadjaar ...
Daar was dae wat ek die mooiste view gehad het,
en dan was daar dae wat ek kaalvoet oor die klippies moes hardloop
om net op 'n beter plek te kom as gister,
soms op my knieë geval,
omdat ek net nie kans gesien het om verder te loop nie.
Dan was daar dae waar ek rustig kon loop sonder omkyk of omdraai.
Ek het wel die mooiste blommetjies in die veld gepluk,
van hulle het ek op pad verloor maar dis okay ...
daar was dorings wat my vele kere gesteek het,
sodat ek vir dae net nie meer kon loop nie ...
maar dis ook okay ...
Dit was 'n lang pad,
soms sonder water,
soms sonder suurstof,
soms met geskeurde skoene,
maar dit was 'n goeie pad ...
Iets geleer?
Absoluut!
* Dat niemand die pad vir jou kan stap nie, maar wel net saam met jou.
* Dat niemand jou gelukkig kan maak as jy nie self gelukkig is nie.
* Dat niemand jou tas vir jou gaan sorteer nie.
* Dat min mense jou enduit gaan help.
* Dat beloftes soms leë woorde is.
* Dat opgee nooit n opsie is nie.
* Dat mens soms net moet sit en rustig word en dankie sê.
* Dat mens net die beste weergawe van jouself kan wees. 
* Dat om moed te verloor nie 'n opsie is as 'n mens regtig iets wil bereik nie.
Ja, daar was goed én sleg,
maar ek sien uit na die nuwe pad wat voorlê ...
Dankie aan elkeen wat dit saam met my enduit gemaak het,
ek het by elkeen iets geleer.
Wat nou voorlê weet ons nie, maar wat ek wel weet is dat:
* Ek beter skoene moet kry
* 'n Groter rugsak
* Meer water en
* Soveel meer suurstof om my nuwe roete aan te pak ...
Reis veilig ....
wees lief vir mekaar ...
help mekaar ...
droom saam ..
lag saam ...
maak tyd vir mekaar.
Dankie vir jou stukkie hart wat ek saam op my reis deur 2021 kon dra.
Mag die Here ons lei op die onbekende pad van 2022
en mag ons nooit vergeet van Sy Groot Genade nie ...
Mag die laaste dae van 2021 net vol sonskyn en liefde wees
en mag ons God en Vader altyd oor jou waak. 
Mag 2022 gevul wees met die keur van Sy seëninge in jou lewe.

[Onbekend - ontvang via WA]

I am beginning to ...


Tuesday 28 December 2021

Dinsdag-denke: ‘n Ware storie daar vanuit Bethlehem, Vrystaat, se wêreld

Ek kom vanoggend so 07:15 by die werk, sluit my werkswinkel oop en dank my Hemelse Vader vir die werkswinkel, gesondheid en omdat ek SY vrede en vreugde ervaar.

Die eerste kliënt kom vinnig nader en klim uit sy motor met ‘n Wimpy koffie in sy hand en kla dis nie meer die koffie van ouds nie. ‘n Ander persoon wat ek ken kom van die slaghuis af opgestap met ‘n pakkie vleis en al kouende aan sy biltong grom-groet hy, so asof dit ‘n stryd is om te lewe.

Ek besluit vandag wil ek luister en ek het goed geluister …

Dit is nou 18:00, en ek wil jou vertel wat ek vandag gesien en ervaar het.

Ouens met baie geld kla oor pryse wat te hoog is. Die biltong man sê daar Is amper geen vleis op die rakke nie. Die ander ou kla oor ou brood en ‘n ander oor ‘n koue hamburger wat hy wil vat en in Steers se manager se dinges wil opdruk. My suster kla oor haar CD-speler wat skoongemaak moet word en dit kos R80,00 wat sy nie kan betaal nie, want sy het nie geld nie.

Ek vertel jou kortliks wat ek vanoggend gesien en ervaar het. Die mense kla en kla en ek wens hierdie klakouse met wie ek net vandag te doen gehad het kon sien en ervaar wat ek vroegoggend gesien het – ek wonder waaroor hulle dan sou kla. Terwyl die ou oor sy koue hamburger kla, vang my oog ‘n ou bruin man wat in die slaghuis se vullissakke krap. Die ou krap tussen die sakke en ek hou hom dop. Hy krap iets uit, ruik daaraan, hap en sluk sonder om te kou. Ek stap nader na hom.

“More”, groet ek. “Wat is jou naam?”

“My naam is Abraham, my Lanie” antwoord hy.

“Nou wat doen jy so vroeg hier tussen die ou vrot goed, ou Abraham?”

“Ek is honger my Lanie.”

“Maar ou Abraham, die goed is vrot.”

“Ek weet, my Lanie, maar die Jere het nog nie vandag vir my ‘n ietsie afgegooi nie, maskien Hy is kwaad vir my.”

“Ou Abraham, hoekom vra jy nie vir geld as jy iets wil koop om te eet nie?”

“Ek het, my Lanie, maar daardie man” (en hy wys na die biltongeter) “hy het my amper netnou gaslaan, hy sê ek moet voetsek!”

“Hoe oud is jy Abraham?”

“78, my Lanie.”

“Waar bly jy Abraham?”

“Daar bo teen die berg” (Dis 8 km).

“En jou mense, ou Abraham?”

“Net my vrou bly by my, mar sy bene kan nie meer werk nie nou kan sy nie uit die huis kom nie”.

“Kry jy oumens pension, Abraham?”

“Nee my Lanie, nog nie, maar Mandela sal nog plan maak, so ek wag maar!”

Abraham se broek is nie meer ‘n broek nie – sy skoene het nie sole nie en daar is iets aan sylyf wat dalk lank terug ‘n hemp kon gewees het.

Ek vra in my binneste ‘Here, wat nou?’ maar ek kry geen antwoord nie, ek hoor niks.

“Ou Abraham, ek dink regtig nie die Here het van jou vergeet nie.”

“Ja, my Lanie.”

Die ou oë is glasig en dof, sy kop hang al vooroor soos hy jare lank al probeer om naby hom te sien. Die vullis wa trek in om die vullis te verwyder, en die manne verskreeu ou Abraham.

“Waarnatoe gaan jy nou, ou Abraham?”

“Ek gaan brood soek om huis toe te vat, my Lanie – ek het klaar ‘n kannetjie vir die water.”

Ou Abraham het ‘n glimlag om sy geplooide mond. “As my lanie wil kan ek ‘n besem bestuur en die plek mooi skoon vee vir ‘n stukkie brood.”

Ek dink by myself: ‘Is dit nou U HERE wat deur Abraham praat?’

“Ou Abraham, is jy seker jy het ‘n liksens om die besem te bestuur?”

“Ja, my Lanie, my vrou het dit vir my gagee toe sy bene siek geword het.”

 “Dis goed so Abraham, die mense jaag jou oral maar vandag het die HERE jou ‘n groot werk gegee – jy is van vandag af die ‘General Manager’ van die besems; jy is die Baas van die besems; hierdie besems gaan vir jou koffie gee in die plek van water. ‘n Manager moet ook mooi skoon aantrek en ‘n geldjie hê vir die ou vrou by die huis. Ek sien jy is ‘n man wat vir ons nog baie in die toekoms gaan leer oor die lewe, ou Abraham”

“Kan ek elke dag inkom, my Lanie?”

“Ja Abraham, want Vrydae kry die Besem Managers ‘n lekker Wimpy-ontbyt en Besem Managers werk net van 8 – 11, want Besem Managers het tyd nodig vir hulle siek vrouens.”

“Is reg so, my Lanie, ek sien nou die Jere het ‘n ander plan gahad vadag en ampor dink ek Hy het my en die ou vrou gavageet. Jammer, Jere, omdat ou Abraham nie reg vastaan het nie.”

Ek is die Here my God vandag so dankbaar vir iemand wat nie oor biltong kla nie, iemand wat nie oor leë rakke in die vleismark kla nie, iemand wat nie oor koue hamburgers en koffie kla nie. Ek is my Vader so dankbaar dat Hy ou Abraham nie vergeet het nie. Doen my, jouself en ander ‘n guns – en probeer net een dag niks kla nie, want ou Abraham was vandag vir my so ‘n groot inspirasie. ‘n 78-jarige half-blinde man met toiings aan sy lyf wat nog steeds glimlag!!!!!!!!!!

En ek sê met trots – vandag het ek ‘n waardige, my beste ooit, besembestuurder gekry!

Die Here is vir ons so goed en as ek voel dit druk, kyk ek na my besembestuurder en ek weet – ek het mos niks om oor te kla nie … 

Sunday 26 December 2021

Betaal jou belasting ...

'n Belastinginspekteur kom eendag by 'n Christen aan om vas te stel hoeveel belasting hy moet betaal. " Watter besittings het jy? " vra die gaarder. 
"Ek is regtig baie ryk," antwoord die Christen. 
"Gee my 'n lys van jou besittings, asseblief," wil die agent weet. 
Die Christen antwoord:
1. Ek het die Ewige Lewe, Joh. 3:16;
2. Ek het 'n huis in die hemel, Joh. 14:2;
3. Ek het vrede wat alle verstand te bowe gaan, Fil. 4:7;
4. Ek het onuitspreeklik vreugde, 1 Pet. 1:8;
5. Ek het liefde wat nie vergaan nie, 1 Kor. 13:8;
6. Ek het goeie en betroubare vriende (op WA en ook op FB), Spr. 18:24;
7. Ek ken geen vrees nie, Hebr. 13:6;
8. Ek het die kroon van die lewe, Jak. 1:12"

Die agent maak sy boek toe en sê : "Meneer, jy is waarlik skatryk, maar jou rykdom is nie belasbaar nie. "

JA, EK IS VERSEKER NIE BELASBAAR NIE, EN OOK IS EK NIE BELAS MET WÊRELDSE DINGE NIE!

[Internet]

Saturday 25 December 2021

Wishing you a Merry Christmas

At Christmas time we are happy to know that we have hope, God loved us so much that He gave us His Son Jesus, so that He would be born and open the way of life and blessing.

Merry Christmas, dear Friends.

 

Friday 24 December 2021

Baie dankie!

Dankie, uit ons harte, vir hierdie jaar, vir al die harde werk en die ekstra myle wat elkeen geloop het.  Mag die jaar se einde vir elkeen van julle sag wees, en mag ons mekaar weer in 2022 ontmoet met nuwe ywer en nuwe drome, met die vaste oortuiging dat ons steeds onder ʼn verpligting is om dinge na die beste van ons vermoë te doen.

Beste wense vir ʼn baie geseënde Kerstyd en ʼn voorspoedige 2022 vir elkeen!

Saturday 18 December 2021