Showing posts with label Blomme. Show all posts
Showing posts with label Blomme. Show all posts

Friday, 8 November 2024

Woorde tussen vriende

As God ‘n yskas gehad het,
was jou foto daarteen.
As Hy ‘n beursie gehad het,
was jou foto daarin.
As Hy ‘n selfoon gehad het,
was jy sy “wallpaper”.
Hy gee elke somer vir jou blomme.
Hy gee elke oggend vir jou ‘n pragtige sonsopkoms.
Hy gee elke aand vir jou ‘n pragtige sonsondergang.
Glo dit!
Hy is mal oor jou!
God beloof nie dae sonder pyn,
lag sonder seer en son sonder reën nie.
Hy belowe wel sterkte vir elke dag,
uitkomste vir trane en
lig aan die einde van elke donker tonnel.
As God vir jou ‘n klip op jou pad plaas,
sal Hy dit ook vir jou wegrol.
Glo dit!
Hy is mal oor jou.
Jy is die appel van Sy Oog!!

[Geleen]

Sunday, 21 April 2024

Klein dingetjies - groot vreugde

Soms het iemand 'n behoefte om na geluister te word. Dit kan jou tafelgenoot of jou buurvrou of een van die personeellede wees. Sien ons daardie behoefte raak? Dit is belangrik om met jou ore te luister - nie met jou ego nie en ook nie om hulle behoefte af te maak as minder belangrik nie.

Dis die klein dingetjies wat die meeste vreugde bring. Die opregte belangstelling in die mense om jou. Daar is soveel inwoners wat net bestaan - wat ophou lewe het - gaan sit by hulle, luister, reik uit.

As jy bevoorreg genoeg is om 'n klein tuintjie te het, begin jou week deur blomme te pluk vir jou kombuis- of kamer of iemand in die versorgingsafdeling.

Begin jou week met iets wat mooi is in die lewe. En skielik is 'n klein gebaartjie die rede van groot vreugde in iemand anders se lewe.

Wednesday, 29 November 2023

Ons moet net leer om om ons te kyk

(Ter illustrasie)
Vroeg vanoggend gaan ek gou stap om my kop skoon te kry. Dit gaan 'n besige dag wees. Vanoggend sien ek selfs die voëltjies raak wat ek nog nooit voorheen op my gereelde staproete opgemerk het nie, miskien is dit omdat ek vanoggend meer fokus op die natuurskoon om my as op die teerpad voor my. Ek wil mos my kop skoon kry.

Teen my gebruiklike aard om net op die teerpad in die woonbuurt te stap, besluit ek om langs 'n stuk veld verby te stap en wat 'n mooi gesig ... na die onlangse reën staan daar 'n plaat van die pragtigste geel blomme. Ek weet nie watter soort blomme, of liewer onkruid dit is nie, maar dit is die mooiste geel. Dis asof ek vandag eers besef dat daar 'n Namakwaland om die draai is, as ek net my oë vroeër oopgemaak het. Maar my vroeë oggendstappie het meer om die kilo's (afstand en gewig) gegaan as oor die natuur. 

Niemand het dit daar geplant nie. Dit groei wild en dit is daar vir almal om te geniet en te waardeer.

En skielik besef ek net weer dat ek 'n lewende God dien.

'n God wat vir elke dag se mooi sorg ... ongeag die seisoen. Al sien ons dit nie altyd raak nie. Dit is daar om in te asem en te geniet.

Ons moet net leer om om ons te kyk.

Sunday, 8 October 2023

Blomme spesiaal vir Sondag


Ek pluk vir jou lenteblomme
uit Ons Huis se tuin
en sit dit op jou bedkassie neer:
'n rooi roos vir liefhê
'n aronskelk vir respek
'n malva vir vreugde
'n geel magrietjie vir plesier
'n katjiepiering vir onthou
en pers viooltjies vir vertrou
laat laventelbos se blou
heeldag geluk om jou vou
en die blomgeure jou kamer vul
met die natuur se eie unieke parfuum ...

[Dankie, Rosetta, vir hierdie Sondagruiker vir die inwoners.]

Friday, 7 May 2021

God het gefluister ...


Eendag het ek God om instruksies gevra oor hoe ek op aarde behoort te leef. Hierop het God sy stem naby aan my oor gebring en gefluister.

Wees soos die son, kom vroeg op en moenie laat gaan slaap nie. 

Wees soos die maan, skyn in die donkerte, maar onderwerp jou aan die groter lig. 

Wees soos die voëls – eet, sing, drink en vlieg. Wees soos die blomme – lief vir die son, maar trou aan jou wortels.

Wees soos die vrugte, mooi en sprankelend aan die buitekant, maar gesond aan die binnekant. 

Wees soos die dag wat aanbreek en vertrek, sonder om af te wys of te spog. 

Wees soos die oase – voorsien water aan hulle wat dors het. 

Wees soos die vuurvliegie wat, alhoewel klein, haar lig vooruit werp. 

Wees soos die water, goed en deursigtig. 

Wees soos die rivier wat altyd vorentoe beweeg.

En bo alles, wees soos die hemele: 'n woonplek vir God!

Thursday, 10 September 2020

Sunday, 9 August 2020

Blomme en voëlsang op Vrouedag


Dankie, Marguerite Pienaar, dat jy hierdie
besondere video met ons deel. Ons weet
almal dat die natuur die heel beste medisyne
vir die mens se gemoed is. Wanneer die 
kamermure druk, veral in hierdie Covid-tyd,
bring dit bring vrede in die kleine.

Saturday, 20 June 2020

‘n Aangename geur

Vanoggend vroeg, nog lank voor die son opkom, het ek in my tuintjie gestaan en kyk na die dou op die plante.  Daar was oorvloedige dou op die kappertjies wat ek besig was om te pluk, en terwyl ek die helderkleurige fraai blommetjies die een na die ander afpluk, het ek skielik onthou dat ek lankal eenmaal gelees het:  “Dis net wanneer kappertjies gekneus word, dat ons hulle heerlike geur kry”.

So, dink ek toe, is sommige mense ook, dis juis wanneer die swaar slag van die lewe hulle tref, dat jy uitvind watter lieflike gees daar in hulle hart is.
Dis die mense wat die lewe nooit sal kleinkry nie, want hoe seerder hulle hart, hoe groter glimlag die mond, hoe feller die pyn, hoe minder die klag.  Hulle is die kappertjiemense in die tuin van God.

En hierdie sonneblom, met sy groot oop bottergeel gesig, laat my dink aan die liewe mense wat altyd lag, vir wie die son altyd skyn, en vir wie die lewe altyd lekker en aanvaarbaar is.  Hulle is nooit verveeld en onvergenoegd nie, vir hulle is werk ‘n lus en nooit ‘n las nie en werk wat hulle aanpak, doen hulle flink en goed en sonder om te mor en te kla.  Dis hierdie sonneblom-mens van wie daar gesê word:
“Die vrolike vlam wat klap en kraak,
Is hy wat sy taak tot vermaaklikheid maak,
En sy swaarkry met lekkerkry klaarkry.”

En ek dan?  Watter soort blom is ek van God se tuin?  Het ek ook ‘n doel, en is ek ook van nut ..?  Dis toe dat ek dit sien.  Al die blomme was benat met dou, en op al die blomme het God se son geskyn.  Hy het almal gemaak en almal is Syne.  Hy het nie net kappertjies en sonneblomme nodig nie, maar Hy het ook die skugter Vergeet-My-Nietjies nodig.

Met ‘n diepe dankbaarheid in my hart bid ek:
“As ek dan nie ‘n wonderlike mens kan wees met mooi en baie deugde nie, Liewe Heer, laat my dan tog net toe om die grond van hardheid te bedek waarlangs die voete van U skepsels loop, en wanneer hulle voete my kneus, laat dan ‘n aangename geur U hart verbly.”

Uit: Soos ‘n blom is jou dae - Susan Kotzé

Saturday, 20 April 2019

Omgeeblomme ...

Herfs wat met sy knypluggie vroegsoggens aan ons deur kom
klop, en sy eiesoortige mooi in die tuin strooi, is dit belangrik
dat ons nog steeds blomme in ons hart saamdra om ons deur
die winter te dra. 

Wednesday, 24 October 2018

Ons Huis se klein tuinengele met groot harte ...

'n Maand terug het Laerskool Staats se Landsdiensgroep (die tuinengele met die groen vingers) Ons Huis se tuin kom verfraai en sowaar 16 Oktober 2018 doen hulle dit weer. Ons is só bly dat julle weer 'n draai hier gemaak het en dat julle nie tyd of stof ontsien het om akkers te maak nie. Dankie vir julle tuinspore wat julle hier los ... Onthou, julle is altyd welkom hier by Ons Huis!






Wednesday, 17 October 2018

Saturday, 22 September 2018

Landsdienslede met groen vingers ...

Lente is in die lug en orals bot bome en begin die lenteblommetjies hulle kop uitsteek. Ons hier by Ons Huis is baie lief vir blomme en mooi tuine, maar ons kan dit nie meer self doen soos in ons jonger dae nie. 'n Uit-die-hart-dankie vir  Laerskool Staats se Landsdiens-kinders wat Dinsdag, 18 September 2018 kom blommetjies plant het by die kliniek van Ons Huis. Dit lyk pragtig en blomme wat met soveel liefde geplant is, gaan baie lank blom! Besoek gerus die ACVV se FB vir nog interessante foto's!