Showing posts with label Household. Show all posts
Showing posts with label Household. Show all posts

Thursday, 23 July 2026

Ouma se wenke: Oumas se gesegdes wat lesers onthou en ingestuur het

Ek deel graag hierdie wyshede wat slegs deel is van 'n mens wat al 'n paar sakke sout opgeëet het. 

* Waardeer mekaar en wees dankbaar vir dit wat jy het.

* Maak mooi met wat jy het, wees dankbaar en tel jou seëninge en as jy geld met respek hanteer sal geld jou met respek hanteer.

* As jy nog instaat is om iets te kan doen ... doen dit!

* Haastig was nog nooit vinnig nie.

* Mooi vergaan maar deug bly staan.

[Idioom: Haastige hond verbrand sy mond!]

Thursday, 16 July 2026

Ouma se wenke: Die lewe gaan nie net oor oorlewing nie

Vandag stel ek vir André Duvenage aan die woord:
* Die lewe gaan nie net oor oorlewing nie. 
* Dit gaan daaroor om 'n verskil te maak in jou eie asook ander mense se lewens. 
* 'n "Verskil maak" beteken nie noodwendig dat jy die wêreld vir almal moet verander nie, maar jy kan ten minste vir een persoon op 'n slag 'n POSITIEWE verskil maak. 
* Dit vereis nie noodwendig intellektuele vermoë, finansies, supermenslike krag of enige buitengewone vermoëns nie. 
* Dit neem soms net 'n eenvoudige glimlag ... 
* 'n vriendelike gebaar of 
* partykeer het iemand net nodig om met iemand te gesels wat werklik na hulle LUISTER. 
* Gaan maak vandag 'n verskil, gee daardie glimlag, maak daardie koffie vir jou kollega ... wees die gewillige oor ... 
* Klein vriendelike dade is wat WERKLIK die wêreld verander.

[Idioom: Verf 'n glimlag op iemand se gesig.]

Thursday, 9 July 2026

Ouma se wenke: 'n Dieetkundige se raad

Ek wil my as geen kenner uitgee nie, daarvoor is ek heeltemal te lief vir peusel. Maar elke keer as ek so lekker oortree, is daar so 'n waarskuwingstemmetjie wat my aanpraat. Dus is die volgende lysie vir myself en ek plaas dit hier, sodat ander my aanspreeklik kan hou oor my peuselgewoontes. 

* Die dieetkundige het my laat verstaan dat die meeste kosse in matigheid heel aanvaarbaar is.
* Ek mag nie maaltye oorslaan nie. Dis blykbaar 'n ou laai van ons wyse gryses om nie gereeld te eet nie en as jy boonop alleen bly, is dit te veel moeite om ordentlik kos te maak. (Gelukkig is die inwoners wat hulle nie oor kos hoef te bekommer nie.)
* Ontbyt is die belangrikste ete. (Hoeveel keer het ons dit nie vir ons kinders gesê nie?)
* Ontbyt speel 'n groot rol in energie en hoe ons gefokus deur die dag kan gaan.
* Gesonde peuselhappies kan goeie aanvullings tussen etes wees, maar dit vervang nie etes nie.
* Happies waaraan die dieetkundige gedink het, is vrugte, groente en neute.

Idioom: Moenie alles vir soetkoek opeet nie. 

Thursday, 2 July 2026

Ouma se wenke: Lief vir peusel? Maniere hoe om slimmer te peusel!

* Volgraanpeuselhappies kan jou van energie voorsien. 
Probeer volgraan-laesout-pretzels of tortilla-skyfies.
 
* Wat van laesuiker-granola as ʼn vinnige peuselhappie. 
Baie ontbytvoedsels kan later in die dag dien as ʼn voedsame peuselhappie. Kombineer ʼn klein hoeveelheid van iets met gesonde vet, soos grondboontjiebotter, met ʼn groter hoeveelheid van iets baie lig, soos appelskyfies.
 
* Neute en sade bevat baie goeie nutriënte en sal jou versadig laat voel. 
Ongesoute neute en sade is heerlike peuselhappies. Neute bevat egter baie kalorieë, so hou die porsies klein. Probeer om nie meer as een makro-nutriënt met elke peuselhappie te geniet nie. Byvoorbeeld, eet ʼn paar neute (proteïen en vet) en ʼn bietjie druiwe (koolhidrate).
 
* Moenie jou peuselhappie geniet, terwyl jy besig is met iets anders nie - soos om televisie te kyk, of by jou lessenaar te werk nie. Stop waarmee jy besig is vir ʼn paar minute en eet jou peuselhappie soos ʼn klein maaltyd.
 
* Dink vooruit en dra ʼn klein sakkie gesonde peuselhappies in jou sak sodat jy nie in desperaatheid jou toevlug neem na koekies of lekkergoedstafies in die winkel nie.
 
Gesonde peuselhappies kan jou gesondheid verbeter.
 
[Verwerk uit: 7 maniere om slimmer te peusel - WelstandWelstand (solidariteit.co.za)]

Thursday, 25 June 2026

Ouma se wenke: 'n Effektiewe dóg goedkoop raad om elektroliete terug te sit

'
n Eenvoudige, tuisgemaakte elektrolietmengsel (ook bekend as 'n rehidrasie-oplossing) vir 'n omgekrapte maag kan vinnig gemeng word om dehidrasie weens braking of diarre
e te voorkom. 

Bestanddele:
1 liter skoon, gekookte water (wat eers heeltemal afgekoel is)
6 tot 8 teelepels suiker
1 teelepel sout 

Metode:
Meng al die bestanddele in 'n skoon glas- of plastiekhouer en roer deeglik totdat die sout en suiker heeltemal opgelos is.

Wenke vir toediening:
Dosis: Neem klein slukkies van ongeveer 50 ml elke halfuur nadat jy gebraak het of 'n los stoelgang gehad het.
Berging: Bêre enige oorskietmengsel in die yskas en gooi dit na 24 uur weg.
Alternatiewe: As jy nie self wil meng nie, is kommersiële rehidrasiesakkies soos Rehydrate of Dioralyte by enige apteek in jou area beskikbaar.

Waarskuwing: Hierdie oplossing genees nie die oorsaak van die maagprobleem nie, maar help slegs met hidrasie. As simptome nie binne 24 tot 48 uur verbeter nie, moet jy 'n dokter raadpleeg.

[Idioom: Bitter in die mond, maak die maag gesond]

Thursday, 18 June 2026

Ouma se wenke: 'n Bietjie wysheid

Die mooiste glimlag verberg die grootste hartseer;
Die sagmoedigste mense is al die ergste verneder;
Die mooiste oë het al emmers trane gestort;
Die warmste harte het al die meeste pyn gevoel;
Die stilste mense het die diepste geheime;
Die wat die gouste oordeel, het die meeste geraamtes;
Die wat die hardste lag,verberg die minste selfvertroue;
Die mooiste sprokie is die een in jou drome;
Die beste plek om te wees, is in iemand se hart;
Die gelukkigste mense is die dankbaarste;
Die beste dokters is mammas; 
Die wonderlikste geskenk is die geskenk van die Lewe;
Die onmoontlikste dinge is moontlik as ons glo.

[Idioom: Wie laaste lag, lag die lekkerste.] 

Thursday, 4 June 2026

Ouma se wenke: Wees lief vir jou hart

* Moenie rook nie.

* Beheer jou cholesterol.

* Beheer jou bloeddruk.

* Beheer jou diabetes.

* Wees fisies aktief.

* Behaal en handhaaf 'n gesonde gewig.

* Geniet 'n verskeidenheid voedsame kos.

* Sien om na jou geestesgesondheid.
(Transcare: derde uitgawe)
[Idioom: Hierdie wenke wil ek op jou hart druk!]

Thursday, 28 May 2026

Ouma se wenke: Bestuur beter

1. Wees vriendelik en hoflik teenoor ander bestuurders. (Soms moet 'n mens maar op jou tande kners - probeer nietemin!)

2. Stel veiligheid bo alles.

3. Besef dat jy 'n verantwoordelikheid het teenoor almal wat saam met jou in die kar is.

4. Bly kalm en ten alle tye waaksaam agter die stuurwiel.

5. Wees op jou hoede vir voetgangers, veral kinders.

6. Onthou dat tweewielvoertuie dieselfde regte as motors op die pad het.

7. Hou jou motor behoorlik in stand en laat hom gereeld met die oog op veiligheid nasien.

8. Moet nooit onder die invloed van alkohol bestuur nie.

9. Gehoorsaam alle verkeerswette.

[Ek sien so dikwels hoe mense vir mekaar vinger wys of ligte flikker en om alles te kroon, klim hulle graag op hul voertuig se toeter. Niks van hierdie aksies, gaan die situasie verbeter nie. Verdraagsaamheid is eintlik die wagwoord. As elkeen wat hier lees, probeer om meer agter die motor se stuur te glimlag en minder te toet, kan ons dalk ... net dalk 'n verandering sien. Hierdie onmoontlikheid verg dieselfde deursettingsvermoë wanneer 'n olifant geëet moet word ... happie vir happie.]      

Thursday, 21 May 2026

Ouma se wenke: Gee jou geheue 'n hupstoot

Die beste spyskaart om die geheue en breinfunksie 'n hupstoot te gee, en goeie bloedvloei na die brein te bevorder, is baie soos wat jy sal eet om jou hart te voed en te beskerm. 

* Eet gereeld groente
* Geniet bessies en kersies.
* Kry genoeg omega-3-vetsure
* Seekos
* Werk okkerneute in 

(Transcare: derde uitgawe)

[Idioom: Ons het almal die geheue van 'n olifant nodig!]

Thursday, 14 May 2026

Ouma se wenke: Neusbloei

Hieronder is stappe wat jy kan neem wanneer 'n persoon se neus bloei:

* Laat die persoon regop sit en effens vorentoe leun. Moenie die persoon laat lê nie en moenie die kop agtertoe laat hang nie.

* Gebruik jou duim en indeksvinger om die neus ferm net onder die been vas te knyp.

* Kyk op die horlosie om die drukking vir 5 minute aan te wend.

* As die bloeding na vyf minute aanhou, herhaal die proses.

* Indien die bloeding hierna aanhou, kry mediese sorg.
(Transcare: Derde uitgawe) 

[Idioom: Moenie jou neus optrek vir hierdie wenke nie.] 

Thursday, 30 April 2026

Ouma se wenke: Sê motte die stryd aan

* Sit stukkies kamfer in jou kas om motte uit jou klere te hou.

* 'n Koekie seep of 'n kers werk ook baie goed. 
   (Die koekie seep laat jou klere sommer ook lekker ruik.)

* Sit lappies geweek in parafien of terpentyn in jou kas om motte uit jou kaste te hou. (Gebruik hierdie as 'n laaste uitweg as eerste twee wenke nie werk nie.)

[Idioom: As jy vir 'n mot die pinkie gee, gryp hy beslis die hand!]

Thursday, 23 April 2026

Ouma se wenke: Aftreebeplanning

Ek wil my nie uitgee as 'n finansiële kenner nie, maar die lewe het my 'n paar dinge geleer. Ek deel graag 'n paar wenke oor aftreebeplanning. 

Aftreebeplanning kan in drie (3) stadiums verdeel word: 

* Beplanning voor aftrede
* Beplanning met aftrede
* Beplanning na aftrede 

1. Voor aftrede moet seker gemaak word dat genoeg geld opsy gesit word en die regte beleggingsprodukte gekies word (risiko en opbrengs). 
 
2. Met aftrede moet weer verseker word dat die regte keuses vir die beleggingsproses gemaak word om belasting tot die minimum te beperk en aftrede so gladweg as moontlik te laat verloop. 

3. Na aftrede moet weer besin word oor die manier waarop geld belê moet word, asook hoeveel onttrek kan word. 

‘n Finansiële raadgewer kan jou help om seker te maak dat jy goed beplan vir ’n gemaklike aftrede. Begin vroegtydig bou aan dié belangrike verhouding.

[Idioom: Op 'n mens se oudag wil jy graag geld soos bossies hê.]

Thursday, 16 April 2026

Ouma se wenke: Gesondheidsvoordele van piesangs

* Piesangs bevat 'n goeie hoeveelheid voordelige vesel, antioksidante, minerale en vitamiene.

* Piesangs word gewoonlik aanbeveel vir kinders wat ondervoed is. Dit is ook 'n gunsteling happie onder atlete vir energie in 'n kits. Dink net wat dit vir ons op ons jare kan beteken!

* Die vrug kan ook hardlywigheid verminder.

* Piesangs is 'n goeie bron van vitamiene B6 asook vitamiene C.

* Hierdie nederige vrug bevat ook vlakke van minerale soos koper, magnesium en mangaan. Magnesium is noodsaaklik om bene sterker te maak, terwyl koper 'n noodsaaklike element is in die produksie van rooibloedselle.

* Piesangs is ook 'n baie ryk bron van kalium. Kalium is 'n belangrike komponent van sel- en liggaamsvloeistowwe wat help om hartklop en bloeddruk te reguleer en die skadelike gevolge van natrium teen te werk.

Piesangs in enige vorm is heerlik. Onthou om daagliks 'n piesang in te sluit by jou peuselhappies ... lekker kan ook gesond wees. Heerlik om in jou handsak of skooltas te gooi - dis klaar verpak in sy eie "bakkie."  

[Idioom: Moenie 'n piesang vlak kyk nie.]

Thursday, 26 March 2026

Ouma se wenke: Skep gesonde gewoontes

* Gereelde oefening

* Gesonde kos

* Leef voluit

* Aanvaar nog steeds uitdagings

* Geniet die lewe

[Idioom: 'n Appel 'n dag laat die dokter wag.]

Thursday, 19 March 2026

Ouma se wenke: Eet versigtig

* Beperk kitskos, koekies, sjokolade, skyfies, vetterige en verwerkte vleis, lekkers en gebakte produkte.

* Vermy soet drankies. Dit versadig nie, maar kan gewigstoename veroorsaak.

* Kies minder souterige voedsel en gebruik minder sout by die huis ten einde hoë bloeddruk te verhoed.

* Vrugte en groente is gesonder opsies. 

[Idioom: Alles wat lekker is, is nie altyd gesond nie! Lekker eet!]

Thursday, 12 March 2026

Ouma se wenke: Geniet jou kos, maar probeer om 'n bietjie minder te eet

Ek gaan vandag 'n netelige onderwerp aanroer. Die enigste rede is omdat ek onlangs daarmee gekonfronteer is. Ek gaan dit oor die volgende paar weke versprei.

* Eet gaan daaroor om ervarings en goeie kos te deel.

* Te veel eet kan tot gewigstoename, diabetes en hartsiekte lei.

* Verminder die porsiegrootte van vetterige, styselagtige en soet voedsel as jy oorgewig is.

* Mik vir 'n gebalanseerde bord: 'n kwart proteïne, 'n kwart stysel en die helfte groente en vrugte.  

Thursday, 5 March 2026

Ouma se wenke: Vlekke (sweet)

Met die hitte wat daagliks elke druppel sweet uit ons pers, moet ons aandag gee aan die sweetvlekke. Dit is nie nodig om moedeloos te raak oor perspirasievlekke op kledingstukke nie. Hier is 'n paar moontlike oplossings.

* Gebruik sommer die wasbak en week die kledingstuk in vuurwarm water en 'n koppie wit asyn. Gebruik 'n houtlepel om dit nou en dan om te roer. Week dit vir 1 uur en was dan soos gewoonlik.

* Hardnekkige sweetvlekke op wit klere kan ook met aspirien verwyder word. Los twee aspirientablette op in warm water en week die vlek daarin vir 'n paar uur. Was dan soos normaal.

* 'n Alternatief is om bloot 'n koppie asyn by die spoelsiklus van jou wasgoed te gooi. Dit moet egter net by koue water gevoeg word. 

*Asyn is ook 'n goedkoop alternatief vir 'n versagmiddel.

* Nog raad vir vlekke op klere is om 'n pasta met bakpoeier en water te maak en dit op die vlek te los vir 1 uur. Was dan soos gewoonlik.

[Idioom: Gelukkig is dit nie nodig om in koue sweet uit te slaan oor die sweetvlekke nie!]

Thursday, 19 February 2026

Ouma se wenke: Geel vlekke op klere en stoele

* Hardnekkige sweetvlekke op wit kledingstukke: Meng een deel water met vier dele waspoeier en smeer dit aan die plekke (aan die binnekant van die klere). Laat dit vir een uur staan en borsel dan liggies. Spoel die kledingstuk skoon met koue water. Week dit dan oornag in koue water gemeng met vier eetlepels waspoeier. Was dan soos normaalweg.

* Geel sweetvlekke op wit klere: Meng een deel Sunlight liquid of Handy Andy met een deel Hydrogene Peroxide Solution 30%. Gooi oor vlekke en laat staan vir ‘n uur. Vir hardnekkige vlekke kan 2 eetlepels koeksoda bygevoeg word en liggies gevryf word. Was normaal. Die kolle behoort te verdwyn!

* Geel vlekke op tuinstoele: Wend die volgende pasta aan op wit plastiek stoele wat geel vlekke vertoon: 1 e kremetart op 100 ml bleikmiddel. Laat staan vir sowat 10 minute en spoel dan met skoon water af.

[Idioom: Moenie 'n emmer koue water oor hierdie planne uitgooi nie!]

Thursday, 12 February 2026

Ouma se wenke: Vlekke

* Handdoeke: Om vlekke op 'n handdoek te verwyder, vryf vlek met 'n bietjie Dettol.

* Handdoeke wat hard uit die was kom - veral as water brak is - kan saggemaak word deur die handdoeke in warm water met seep en ongeveer 'n handvol opgelosde sout te gooi. Moet nie 'n versagmiddel gebruik nie. Spoel die seep goed uit. Spoel weer, maar gooi so 2 eetlepels wit asyn in die laaste uitspoelwater.

* Bly weg van versagmiddel wanneer jy handdoeke was. Dit het 'n oliebasis en bou op. Pleks van versagmiddel kan jy 'n koppie wit asyn gebruik.

* Was met growwe sout, en spoel met asyn

* Koeksoda is 'n goeie vlekverwyderaar en sal die meeste vlekke van jou handdoeke verwyder.

[Idioom: Moenie die handdoek ingooi oor hardnekkige vlekke op die handdoeke nie.]

Thursday, 5 February 2026

Ouma se wenke: Inkvlekke

* Ink: Gebruik brandspiritus, alkohol of haarspoei om die ink van 'n balpuntpen te verwyder. Sit die gevlekte materiaal op 'n droë stuk watte. Deurweek nog 'n stuk watte met brandspiritus of bensien en dep dit aan die vlek. Herhaal met 'n skoon stukkie watte tot die vlek uit is. Spuit haarsproei aan die vlek en dep met skoon stukkies watte.

* Gebruik naellakverwyderaar om viltpenmerke van jou vel te verwyder.

* Ink uit tapyte te haal: Neem karringmelk en 'n skoon lap. Gooi karringmelk op die ink en druk op met die lap totdat die ink uit is. Was dan die plek met warm water en ammoniak.

* Merkersink: Ink waarmee goedere gemerk is, kan afgehaal word deur dit met 'n papierhanddoek wat in alkohol gedoop is, te vryf

* Om ink van 'n balpuntpen uit klere te haal: Drup Lennons Witdulsies op die merk en was soos gewoonlik. Strooi dadelik sout oor ink wat op wit materiaal gemors is, vryf met 'n suurlemoen daaroor. Spoel die materiaal dan dadelik af en was soos gewoonlik.

[Idioom: Al die bruikbare oplossings het my hart sommer week gemaak!]