Sunday, 19 July 2026

Oomblik van stilte: Psalm 102:18 - God sal jou hand vashou

“Hy luister na die gebed van dié wat alles verloor het, Hy sal hulle gebed nie verag nie.”

Soms is dit baie moeilik om te bid. In sulke tye val jy maklik neerslagtigheid ten prooi, want selfs dit wat jou nog altyd staande gehou het, die teenwoordigheid van God, voel nie meer vir jou so werklik nie.
Dit voel asof God jou nie meer hoor nie, asof jou hulpgeroep en smeekgebede op dowe ore val. God is meteens ‘n afsydige vreemdeling – Hy wat altyd so naby aan jou was!

Wanneer ‘n mens só voel, skrik jy en glo jy vas dat jy teen God sondig. Maar wat jy as Christen nie besef nie, is dat ook hierdie tye, hoe vreemd dit ook al vir jou mag klink, baie vir jou geestelike vlak kan beteken. Jy dink verkeerdelik dat God Sy aangesig van jou af weggedraai het, nie meer vir jou omgee nie en dat jy nou verlore is!

In hierdie oomblikke moet ‘n mens altyd onthou dat jy net in geloof kan vashou aan die sekerheid van die teenwoordigheid van God in jou lewe. Jy moet leer om God ten alle tye te vertrou, sodat jy in die lig, maar ook in donker tye, God se hand kan vashou.

Geloof berus nie op emosies en gevoelens nie! Wanneer jy vas glo en God vertrou, word Sy teenwoordigheid vir jou ‘n vreugdevolle en gerusstellende werklikheid. Dan kan die donker tye maar kom en jy sal steeds weet dat God jou in Sy hand hou – tot in alle ewigheid!

Heilige Vader, help ons asseblief om wanneer die lewe donker word rondom ons, weg te kyk van onsself en ons probleme, en dat ons eerder na U wil vir ons lewe sal soek.
Amen

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

No comments:

Post a Comment