Showing posts with label Vlekke. Show all posts
Showing posts with label Vlekke. Show all posts

Thursday, 24 September 2026

Ouma se wenke: 'n Paar nuttige algemene wenke

* Koperartikels kan skoongemaak word in 'n oplossing van 20 g wynsteensuur, opgelos in 500 ml warm water. Voeg 'n bietjie skottelgoedopwasmiddel by. Vryf die artikel met 'n sagte doek, gedoop in bogenoemde mengsel af.

* Om te verhoed dat silwer messegoed aanslaan, kan 'n paar stukkies bordkryt in die messegoedlaai geplaas word.

* Indien 'n ketel te lank kook, lei dit tot die vorming van 'n aanpaksel aan die binnekant van die ketel wat die lewensduur van die element verkort. Dié aanpaksel kan verwyder word deur 'n oplossing van 3 dele water en 1 deel asyn in die ketel te gooi en dit 'n paar uur te laat staan.

* Gietysterware wat geroes het, kan in terpentyn gedoop word. Die tydperk waarin dit in die terpentyn gelaat word, hang af van hoeveel dit geroes het, maar dit kan wissel van 1 uur tot 3 dae. 

* Twee glase wat in mekaar vassit, kan losgemaak word deur koue water in die boonste een te gooi en die onderste een in warm water te plaas.

[Idioom: Hoop hierdie nuttige wenke is vir jou van waarde voordat my glas leegloop.]

[Bron: Rooi Rose 27 Februarie 1991]

Thursday, 17 September 2026

Ouma se wenke: 'n Paar nuttige algemene wenke

* Om te voorkom dat die kerriehoutlepel vir die roer van konfyt gebruik word, kan elke houtlepel met 'n kleurkode gemerk word.

* Salie is 'n sterk krui met 'n warm geur en 'n breë, plat, ovaal blaar. Dit is heerlik saam met lewer, varkvleis en ander ryk vleissoorte,

* Swaar artikels soos bottels wat in die deur van die yskas gebêre word, moet so naby as moontlik aan die skarniere geplaas word om spanning op die deur te verminder.

* Plaas oorskietwyn in ysbakkies in die vrieskas en gebruik die bevrore blokkies wyn in oondstoofgeregte en souse.
[Idioom: Onthou om altyd die wyn helder te skink!]

[Bron: Rooi Rose 27 Februarie 1991]

Thursday, 10 September 2026

Ouma se wenke: 'n Paar nuttige algemene wenke

* Voeg 'n bietjie appelkooskonfyt by room wat nie styf wil word wanneer dit geklits word nie. Die konfyt gee ook 'n aangename geur aan die room.

* Vergemaklik die afdop van ertjies deur dit met dop en al in die kookwater te gooi. Die doppe sal weens die hitte oopspring.

* Voor 'n meringue-tertkors gesny word, kan die mes eers met botter of margarien gesmeer word en dit sal maklik deur die kors gly sonder om dit te verkrummel.

* Die beste manier om te bepaal of konfyt of jellie stolpunt bereik het, is om 'n bietjie daarvan op 'n koue piering te plaas. Laat dit afkoel en druk dit dan met die vinger. As die oppervlak plooi, het die jellie reeds stolpunt bereik. As dit nie plooi nie, moet dit langer kook.

[Idioom: Hoop jy is gekonfyt in die kombuis, veral na hierdie nuttige wenke.]

[Bron: Rooi Rose 27 Februarie 1991]

Thursday, 27 August 2026

Ouma se wenke: Matte

Vele navrae oor matte het my genoop om weer hierdie onderwerp aan te pak.

Ruk stink reuk in matte in die bek ...

As jy ’n mat in die huis het, weet jy hoe dit nogal ’n reuk kan afgee as dit vuil is. Boonop kan dit ’n gesukkel afgee om van daardie reuk ontslae te raak. Troeteldiere, gestorte kos of drankies wat nie behoorlik skoongemaak is nie, is alles dinge wat matte sleg kan laat ruik.

* Een van die eerste dinge wat jy kan doen om van ’n slegte matreuk ontslae te raak, is om ’n paar vensters oop te maak sodat vars lug deur die vertrek kan trek en dit daarna behoorlik te stofsuig.

* Deur gereeld matte te stofsuig, kan ook wondere verrig, maar moet ook nie vergeet om die stofsuier se sak skoon te maak nie.

* ’n Ander skoonmaakopsie wat jy ook kan probeer, is om koeksoda oor die mat te strooi en dit met ’n besem of iets soortgelyks in die mat in te vee. Laat die koeksoda vir ure, selfs oornag of ’n paar dae intrek, indien moontlik. Stofsuig dit hierna deeglik.

* Maar as die mat nie gereeld gestofsuig word nie en vlekke al vir ’n baie lang tyd daar sit, is dit dalk raadsaam om professionele skoonmakers in te kry.

[Idioom: Ek hoop nie julle skoonmaakplanne gaan deur die mat val nie!]

Thursday, 5 March 2026

Ouma se wenke: Vlekke (sweet)

Met die hitte wat daagliks elke druppel sweet uit ons pers, moet ons aandag gee aan die sweetvlekke. Dit is nie nodig om moedeloos te raak oor perspirasievlekke op kledingstukke nie. Hier is 'n paar moontlike oplossings.

* Gebruik sommer die wasbak en week die kledingstuk in vuurwarm water en 'n koppie wit asyn. Gebruik 'n houtlepel om dit nou en dan om te roer. Week dit vir 1 uur en was dan soos gewoonlik.

* Hardnekkige sweetvlekke op wit klere kan ook met aspirien verwyder word. Los twee aspirientablette op in warm water en week die vlek daarin vir 'n paar uur. Was dan soos normaal.

* 'n Alternatief is om bloot 'n koppie asyn by die spoelsiklus van jou wasgoed te gooi. Dit moet egter net by koue water gevoeg word. 

*Asyn is ook 'n goedkoop alternatief vir 'n versagmiddel.

* Nog raad vir vlekke op klere is om 'n pasta met bakpoeier en water te maak en dit op die vlek te los vir 1 uur. Was dan soos gewoonlik.

[Idioom: Gelukkig is dit nie nodig om in koue sweet uit te slaan oor die sweetvlekke nie!]

Thursday, 19 February 2026

Ouma se wenke: Geel vlekke op klere en stoele

* Hardnekkige sweetvlekke op wit kledingstukke: Meng een deel water met vier dele waspoeier en smeer dit aan die plekke (aan die binnekant van die klere). Laat dit vir een uur staan en borsel dan liggies. Spoel die kledingstuk skoon met koue water. Week dit dan oornag in koue water gemeng met vier eetlepels waspoeier. Was dan soos normaalweg.

* Geel sweetvlekke op wit klere: Meng een deel Sunlight liquid of Handy Andy met een deel Hydrogene Peroxide Solution 30%. Gooi oor vlekke en laat staan vir ‘n uur. Vir hardnekkige vlekke kan 2 eetlepels koeksoda bygevoeg word en liggies gevryf word. Was normaal. Die kolle behoort te verdwyn!

* Geel vlekke op tuinstoele: Wend die volgende pasta aan op wit plastiek stoele wat geel vlekke vertoon: 1 e kremetart op 100 ml bleikmiddel. Laat staan vir sowat 10 minute en spoel dan met skoon water af.

[Idioom: Moenie 'n emmer koue water oor hierdie planne uitgooi nie!]

Thursday, 12 February 2026

Ouma se wenke: Vlekke

* Handdoeke: Om vlekke op 'n handdoek te verwyder, vryf vlek met 'n bietjie Dettol.

* Handdoeke wat hard uit die was kom - veral as water brak is - kan saggemaak word deur die handdoeke in warm water met seep en ongeveer 'n handvol opgelosde sout te gooi. Moet nie 'n versagmiddel gebruik nie. Spoel die seep goed uit. Spoel weer, maar gooi so 2 eetlepels wit asyn in die laaste uitspoelwater.

* Bly weg van versagmiddel wanneer jy handdoeke was. Dit het 'n oliebasis en bou op. Pleks van versagmiddel kan jy 'n koppie wit asyn gebruik.

* Was met growwe sout, en spoel met asyn

* Koeksoda is 'n goeie vlekverwyderaar en sal die meeste vlekke van jou handdoeke verwyder.

[Idioom: Moenie die handdoek ingooi oor hardnekkige vlekke op die handdoeke nie.]

Thursday, 5 February 2026

Ouma se wenke: Inkvlekke

* Ink: Gebruik brandspiritus, alkohol of haarspoei om die ink van 'n balpuntpen te verwyder. Sit die gevlekte materiaal op 'n droë stuk watte. Deurweek nog 'n stuk watte met brandspiritus of bensien en dep dit aan die vlek. Herhaal met 'n skoon stukkie watte tot die vlek uit is. Spuit haarsproei aan die vlek en dep met skoon stukkies watte.

* Gebruik naellakverwyderaar om viltpenmerke van jou vel te verwyder.

* Ink uit tapyte te haal: Neem karringmelk en 'n skoon lap. Gooi karringmelk op die ink en druk op met die lap totdat die ink uit is. Was dan die plek met warm water en ammoniak.

* Merkersink: Ink waarmee goedere gemerk is, kan afgehaal word deur dit met 'n papierhanddoek wat in alkohol gedoop is, te vryf

* Om ink van 'n balpuntpen uit klere te haal: Drup Lennons Witdulsies op die merk en was soos gewoonlik. Strooi dadelik sout oor ink wat op wit materiaal gemors is, vryf met 'n suurlemoen daaroor. Spoel die materiaal dan dadelik af en was soos gewoonlik.

[Idioom: Al die bruikbare oplossings het my hart sommer week gemaak!]

Thursday, 16 October 2025

Ouma se wenke: Allerlei

* Skroef dit sommer oop: As jy 'n bottel wyn wil oopmaak en die kurktrekker is skoonveld, draai 'n groterige houtskroef in die kurkprop en trek met 'n knyptang uit.

* Ryg makliker: 'n Skeutjie haarsproei op die punt van 'n garedraad sal dit laat verstyf en om sodoende makliker deur 'n naald se oog te glip.

* Pappotplan: As jy hou van mieliepap, maar jy haat die gesukkel om die pot agterna skoon te kry, spuit die volgende keer eers Spray 'n Cook aan die binnekant. Die pot sal sonder sukkel skoonkom.

* Leersandale kan jy skoonmaak deur 'n inkopiesak oor elke voet te trek, en dan die sandale aan te trek en daarna kan jy na hartelus poleer.

* Blare in die wind: As jy herfsblare in die tuin bymekaar moet hark, spuit hulle eers nat. Die nat blare is makliker hanteerbaar en sal nie in die wind rondwaai nie.

* 'n Das sal ook pas: Indien jou sambreel se omhulsel weg is, glip 'n das oor die toegemaakte sambreel en sny dan die oortollige deel van die das aan die smal punt af. Stik die twee punte netjies om.

Thursday, 9 October 2025

Ouma se wenke: Allerlei

* Kunsklippies: In plaas van klippies onder 'n potplant vir dreinering, kan jy stukkies polistireen ook gebruik. Dit word nie deur water geaffekteer nie.

* Korrel vir korrel: As jy weer rys kook, voeg 'n paar druppels suurlemoensap by. Dit hou die korrels mooi los en gee ook 'n aangename geur aan die rys.

* Vrolike drankies: Om drankies vir 'n partytjie in die somer op te kikker, plaas opgekerfde stukkies vrugte in elke ysvakkie wanneer jy ysblokkies maak.

* Liggewig deeg: Om pasteideeg ligter te maak, gebruik sodatwater pleks van kraanwater.

* Sagter op jou hande: Gooi 'n skootjie babapoeier in 'n nuwe paar rubberhandskoene. Die handskoene sal makliker aanglip - en jou hande sal minder sweet.

* Kwepergeheim: Kwepers kan baie lank gebêre word en dit raak geleidelik soeter. Pluk die kweper met stingel en al van die boom af, maar moet dit nie kneus nie. Hang dit in 'n koel droë plek op. Die kwepers sal maande lank goed bly en mettertyd minder frank smaak.

Thursday, 2 October 2025

Ouma se wenke: Allerlei

* Knap koekversiersppuit: As jy 'n koek wil versier en jy het nie 'n versiersuikerspuit nie, kan jy in 'n noodgeval 'n plastiese mostertspuitflessie vir die doel gebruik. Maak net die flessie deeglik skoon, sodat daar geen mosterdreuk is nie.

* Verf binne in die boks: As jy 'n kleinerige voorwerp moet spuitverf, sit die artikel binne 'n groot boks en op hierdie manier kan jy die oortollige sproei beheer.

* Marmelade is 'n uitstekende plaasvervanger as jy sonder sitrusskil sit vir 'n resep. Dis ook die perfekte glansering vir oondgebraaide varkboud of hoender.

* Moenie spaghetti breek wat nie in jou pot wil pas nie. Laat dit regop in die kookwater staan. Namate dit onder sag word, sal die spaghetti geleidelik in die pot insak.

* Plastiese lense is geneig om makliker vol stof te word - statiese elektrisiteit. Maak die bril se lense skoon deur dit met wasgoedversagmiddel af te vee.

Thursday, 25 September 2025

Ouma se wenke: Allerlei

* Vul met  vrugte: 'n Koek wat in die middel gesak het, kan nog gered word deur die middel netjies uit te sny en die holte met ingelegde vrugte-jellie te vul.

* Foelie vir verf: Maak 'n verftaak makliker en skoner deur jou verfpan vooraf met aluminiumfoelie te bedek. Gebruik die swaardienstipe as jy dit het. Voer die verfpan daarmee uit deur dit teen die bodem en kante vas te druk. Sorg dat die foelie oor die rand gaan. As jy klaar geverf het, gooi die oortollige verf af en stroop die foelie af - jou pan is silwerskoon.

* Knip in 'n kits: Gebruik 'n kombuisskêr eerder as 'n mes om 'n pizza te sny - dis baie makliker.

* Red 'n gekraakte eier: 'n Gekraakte eier kan steeds gekook word as jy dit vooraf in aluminiumfoelie toedraai en 'n minuut langer kook.

* Watersakwenk: As jy langs die langpad met 'n oorverhitte enjin sit en jy het geen houer om water mee te gaan haal nie. Onthou dat jy water in 'n plastiese inkopiesak kan dra. Selfs 'n hol wieldop sal ook die doel dien. Onthou net om nooit die verkoeler se prop af te skroef of water in die stelsel te gooi voordat die enjin behoorlik afgekoel het nie.

Thursday, 11 September 2025

Ouma se wenk: Mense dra by tot superkieme

Washington - Mense wat nie die volle kursus antibiotika gebruik wat aan hulle voorgeskryf is nie, dra by tot die vorming van sogenaamde superkieme - bakterieë wat weerstand ontwikkel teen die behandeling.

Só sê Amerikaanse dokters, nadat 'n Gallup-peiling wat deur die Amerikaanse Longvereniging laat doen is, getoon het dat meer as die helfte van respondente ophou om antibiotika te gebruik wanneer hulle gesond voel.

Indien pasiënte nie die volledige kursus antibiotika gebruik nie, of kleiner dosisse gebruik, word net die swakste bakterieë doodgemaak. Die res oorleef, en bou weerstand op teen die medisyne, het dokters luidens USA Roday gesê. - Sapa.  

(My dokter beklemtoon altyd dat ek my kursus antibiotika moet voltooi. Ek plaas 'n koerantberiggie waarop ek afgekom het om die dokters se opdrag te onderstreep. Luister maar na jou dokter - hulle weet altyd die beste.)  

Thursday, 4 September 2025

Ouma se wenke: Vlekke

* Koppies: Week die vlek in 'n eetlepel sout en een koppie water. Nat sout verwyder die vlekke van koppies en pierings. Week koffiebekers oornag in 'n bleikmiddel om van vlekke ontslae te raak.

•Kougom: Verwyder kougom uit jou klere om die taai kol met grondboonbotter te smeer. Die olierigheid en so werk te mooi saam om die taaiheid uit te kry. So 'n klein bietjie vryf en alles is uit of vryf 'n ysblokkie daaroor sodat dit kan hard word en trek af. As dit 'n vlek los, druk 'n bietjie bloekomolie of terpentyn op. Dis geskik vir vloere, matte, teëls en materiaal.

* Marmervlekke: Om vlekke uit marmer te haal strooi jy fyn boraks op. Was dit na 'n paar minute af met warm water.

* Bloed: As die bloed reeds droog is, week in koue soutwater (een eetlepel sout per liter water).
* Mielieblom kan bloedvlekke verwyder. Spoel die vlek in koue water, vryf dan klam mielieblom in. Plaas die item in die son.
* Om bloedvlekke uit te kry – week goed in parrafien en dan weer in koue water.
* Sodawater of wit asyn haal gewoonlik bloedvlekke uit matte uit.
* Week bloedvlek in koue water indien moontlik voordat die bloed droog is - en was daarna met seep in koue water.

Thursday, 28 August 2025

Ouma se wenke: Olie en vetkolle

* Gooi babapoeier op vetkolle in kledingstukke voordat jy dit was.

* Indien daar olie op die plaveisel of motorhuisvloer gedrup het, kan dit skoongemaak word deur gewone sement op die olie te gooi. Die sement sal die olie absorbeer en kan na 'n dag of wat met 'n besem weggevee word.

* Oliebottels kan maklik skoongemaak word deur 'n bietjie koffiemoer in die bottels te gooi en goed te skud. Was daarna uit met skoon water.

* Om kerswas van materiaal te verwyder, plaas 'n stuk koerantpapier bo-oor die materiaal en stryk met 'n lou yster. Die was sal dan in die papier intrek en die materiaal sal weer skoon wees.

* Om vetkolle van klere te verwyder gooi 'n blikkie Coke op die kolle. Was dan die klere soos normaal. Die Coke sal help om die vetkolle op te breek en te verwyder.

* Om vetkolle van klere te verwyder, spuit gewone Doom op die kol, vryf die kol en spoel uit.

* Vryf olie- en vetvlekke op klere met bensien. Was dan soos gewoonlik en hang op om droog te word.

* Vlugsout haal vetvlekke uit.

Thursday, 7 August 2025

Ouma se wenke: Maak so jou televisie TV skoon

* Volg die maklike stappe om jou TV netjies en skoon te hou – met ’n water-en-asynoplossing: Sit die TV af sodat jy kan sien waar op die skerm daar vuilmerke en stowwerigheid is.

* Meng ’n oplossing van gelyke hoeveelhede water en asyn. Die asyn is ’n natuurlike reiniger. Dis ook ‘n veiliger en goedkoper manier om jou TV skoon te maak.

* Druk ’n microfiber-lap in die asynwater-oplossing en vee die skerm saggies af. Indien nodig, vryf bietjie harder om vuil plekkies skoon te kry.

* Gebruik ’n tweede lap om die skerm droog af te vee, aangesien die vloeistof merke op die skerm kan los.

* Was die raam van die skerm. ’n Harde plastiekraam benodig bietjie meer aandag, so dip handdoekpapier in die asynplossing en vryf dit skoon. Gebruik ’n tweede stuk om dit droog te vryf.

* Moenie die asyn-oplossing direk op die skerm gooi of spuit nie. Dit kan die skerm beskadig. Jy kan ook ’n skoonmaakmiddel vir TVs by enige rekenaarwinkel koop.

* Moenie skoonmaakmiddels koop wat ammoniak, alkohol, asetoon of chloried bevat nie.

Thursday, 31 July 2025

Ouma se wenke: Tandepasta doen meer as net om jou mond skoon te maak - deel 2

* Verwyder kryt van die mure: As jou kinders op die mure in die huis begin teken het, druk slegs ’n bietjie tandepasta op die muur uit en begin skrop. Spoel af wanneer jy klaar is. Die matige skuurmiddel in tandepasta sal die kryt verwyder.

* Net die ding vir ink of lipstiffie: Moenie jou opstres as ’n pen se ink in jou hemp uitgeloop het nie. Probeer dit verwyder deur gewone tandepasta aan die inkvlek te smeer en dit goed in te vryf. Spoel af met water. Herhaal die proses totdat al die ink verwyder is. Dieselfde proses werk vir lipstiffievlekke.

* Maak jou strykyster skoon: Die matige skuurmiddel in gewone tandepasta is net die ding om die aanpaksel op jou strykyster mee af te haal. Wend die tandepasta aan die strykyster wanneer dit koud is; vee af met ’n lap en spoel die tandepasta hierna af.

* Dit kan ook wondere verrig met wit vlekke op houtmeubels. Smeer eenvoudig net ’n bietjie tandepasta (nie die gelsoort nie) met ’n sagte lappie aan die vlek. Vee dit dan af met ’n klam lap en laat dit droog word voordat jy meubelpolitoer aanwend. Vir ’n selfs sterker skoonmaakmengsel, meng gelyke hoeveelhede tandepasta en koeksoda en smeer die pasta parallel met die houtvlam. Vee dit af en politoer dan met lemoenolie.

Thursday, 24 July 2025

Ouma se wenke: Tandepasta doen meer as net om jou mond skoon te maak - deel 1

As jy gedink het tandepasta is net daar om jou tande mooi wit en jou asem vars te hou, dink weer. Want tandepasta het vele ander nuttige gebruike, soos die volgende:

* Maak jou tekkies skoon: As jy die wit, rubberdeel van jou tekkies wil skoon en wit kry, trek gewone tandepasta (nié die geltipe) en ’n ou tandeborsel nader. Nadat jy die sole goed geskrop het, vee die tandepasta met ’n klam lap af.

* Maak bababottels skoon: Bababottels sal die een of ander tyd ’n suurmelkreuk optel. Tandepasta sal dit egter in ’n japtrap verwyder. Smeer slegs ’n bietjie tandepasta aan die bababottel en skrop dit. Spoel goed af.

* Die badkamerwasbak: Gewone tandepasta werk netso goed soos enige ander skoonmaakmiddel om die badkamerwasbak skoon te maak. Die tandepastabuisie is net daar, so jy kan netsowel ’n bietjie uitdruk, dit met ’n spons skrop en die wasbak uitspoel. Die bonus is natuurlik dat die tandepasta enige reuke wegvat.

Thursday, 17 July 2025

Ouma se wenke: Wit kolle op hout kan verwyder word

* Huisvroue ken daardie “ag nee”-gevoel wanneer ’n gas of man of kind ’n glas water of koeldrank of ’n koppie koffie op jou houtkoffietafel neergesit het. Jy weet onmiddellik wat gaan volg – daardie onooglike, ronde, wit vlek wat jy net nie kan miskyk nie, al probeer jy.

Die volgende wenk kan dalk jou help om daarvan ontslae te raak:

* Koeksoda
Maak ’n pasta met een eetlepel koeksoda en een teelepel water. Vryf dit sagkens op die vlek in sirkelbewegings totdat die vlek verdwyn. Onthou om nie te veel water te gebruik wanneer jy hierdie koeksodamengsel aanmaak nie.

* Petroleumjellie (vaseline)
Jy kan dit aan die vlek aansmeer en dit oornag aanhou. Vee die watermerk die volgende oggend eenvoudig weg.

* Sout
Net soos die geval met koeksoda, kan jy ook ’n pasta met sout en water maak deur een teelepel sout met ’n paar druppels water te meng om ’n pasta te maak. Wend die pasta met ’n sagte lap of spons op die vlek aan en vryf totdat die vlek verdwyn. Herstel die voorkoms van die hout deur meubelpolitoer ook aan te wend.

* Asyn en olyfolie
Meng gelyke hoeveelhede asyn en olyfolie en wend dit met ’n sagte lappie aan. Beweeg saam met die houtvlam. Gebruik hierna ’n skoon, sagte lap en vryf blink. (Om wit watermerke van leermeubels af te kry, spons dit met suiwer witasyn.)

Thursday, 10 July 2025

Ouma se wenke: Skoolskoene skoonmaak

Het jy vergeet om jou skoolskoene mooi blink te poets? Hier is ‘n baie maklike manier om jou skoene in ‘n japtrap ‘n blink baadjie aan te trek.
WAT JY GAAN BENODIG:
* skoenborsel
* skoenpolitoer
* stuk lap om jou skoene mee te vryf
* ‘n ou tandeborsel (om die hoekies en draaitjies mee skoon te maak)
* ‘n ou T-hemp
* 'n huishoudelike skoonmaakmiddel en lap
* 'n ou koerant
MAAK SO JOU SKOENE SKOON:
* Gebruik die ou koerant om op te werk.
* Verwyder die skoenveters. 
* Vryf die huishoudelike skoonmaakmiddel op die skoene om van al die vuil en taai merke ontslae te raak.
* Vat die ou T-hemp en draai dit om jou wys- en middelvinger om die politoer mee op te vryf. 
* Gebruik die tandeborsel om die moeilike plekkies by te kom.
* Los dit vir 15 minute aan om droog te word.
* Gebruik lang hale om die skoene met die skoenborsel te poets.
* Gebruik daarna die lap vir die finale blink in jou skoen.