Thursday, 31 July 2025

Ouma se wenke: Tandepasta doen meer as net om jou mond skoon te maak - deel 2

* Verwyder kryt van die mure: As jou kinders op die mure in die huis begin teken het, druk slegs ’n bietjie tandepasta op die muur uit en begin skrop. Spoel af wanneer jy klaar is. Die matige skuurmiddel in tandepasta sal die kryt verwyder.

* Net die ding vir ink of lipstiffie: Moenie jou opstres as ’n pen se ink in jou hemp uitgeloop het nie. Probeer dit verwyder deur gewone tandepasta aan die inkvlek te smeer en dit goed in te vryf. Spoel af met water. Herhaal die proses totdat al die ink verwyder is. Dieselfde proses werk vir lipstiffievlekke.

* Maak jou strykyster skoon: Die matige skuurmiddel in gewone tandepasta is net die ding om die aanpaksel op jou strykyster mee af te haal. Wend die tandepasta aan die strykyster wanneer dit koud is; vee af met ’n lap en spoel die tandepasta hierna af.

* Dit kan ook wondere verrig met wit vlekke op houtmeubels. Smeer eenvoudig net ’n bietjie tandepasta (nie die gelsoort nie) met ’n sagte lappie aan die vlek. Vee dit dan af met ’n klam lap en laat dit droog word voordat jy meubelpolitoer aanwend. Vir ’n selfs sterker skoonmaakmengsel, meng gelyke hoeveelhede tandepasta en koeksoda en smeer die pasta parallel met die houtvlam. Vee dit af en politoer dan met lemoenolie.

No comments:

Post a Comment