Showing posts with label Tandepasta. Show all posts
Showing posts with label Tandepasta. Show all posts

Thursday, 31 July 2025

Ouma se wenke: Tandepasta doen meer as net om jou mond skoon te maak - deel 2

* Verwyder kryt van die mure: As jou kinders op die mure in die huis begin teken het, druk slegs ’n bietjie tandepasta op die muur uit en begin skrop. Spoel af wanneer jy klaar is. Die matige skuurmiddel in tandepasta sal die kryt verwyder.

* Net die ding vir ink of lipstiffie: Moenie jou opstres as ’n pen se ink in jou hemp uitgeloop het nie. Probeer dit verwyder deur gewone tandepasta aan die inkvlek te smeer en dit goed in te vryf. Spoel af met water. Herhaal die proses totdat al die ink verwyder is. Dieselfde proses werk vir lipstiffievlekke.

* Maak jou strykyster skoon: Die matige skuurmiddel in gewone tandepasta is net die ding om die aanpaksel op jou strykyster mee af te haal. Wend die tandepasta aan die strykyster wanneer dit koud is; vee af met ’n lap en spoel die tandepasta hierna af.

* Dit kan ook wondere verrig met wit vlekke op houtmeubels. Smeer eenvoudig net ’n bietjie tandepasta (nie die gelsoort nie) met ’n sagte lappie aan die vlek. Vee dit dan af met ’n klam lap en laat dit droog word voordat jy meubelpolitoer aanwend. Vir ’n selfs sterker skoonmaakmengsel, meng gelyke hoeveelhede tandepasta en koeksoda en smeer die pasta parallel met die houtvlam. Vee dit af en politoer dan met lemoenolie.

Thursday, 24 July 2025

Ouma se wenke: Tandepasta doen meer as net om jou mond skoon te maak - deel 1

As jy gedink het tandepasta is net daar om jou tande mooi wit en jou asem vars te hou, dink weer. Want tandepasta het vele ander nuttige gebruike, soos die volgende:

* Maak jou tekkies skoon: As jy die wit, rubberdeel van jou tekkies wil skoon en wit kry, trek gewone tandepasta (nié die geltipe) en ’n ou tandeborsel nader. Nadat jy die sole goed geskrop het, vee die tandepasta met ’n klam lap af.

* Maak bababottels skoon: Bababottels sal die een of ander tyd ’n suurmelkreuk optel. Tandepasta sal dit egter in ’n japtrap verwyder. Smeer slegs ’n bietjie tandepasta aan die bababottel en skrop dit. Spoel goed af.

* Die badkamerwasbak: Gewone tandepasta werk netso goed soos enige ander skoonmaakmiddel om die badkamerwasbak skoon te maak. Die tandepastabuisie is net daar, so jy kan netsowel ’n bietjie uitdruk, dit met ’n spons skrop en die wasbak uitspoel. Die bonus is natuurlik dat die tandepasta enige reuke wegvat.