Showing posts with label Dankbaarheid. Show all posts
Showing posts with label Dankbaarheid. Show all posts

Tuesday, 30 December 2025

Boodskap oor Dankbaarheid

Dankbaarheid is ’n posisie of postuur wat jy in neem.
Dankbaarheid is ’n keuse wat jy daagliks maak
Dankbaarheid is ’n ingesteldheid wat jy in-oefen en kultiveer.

Jesus verwag van ons om dankbaar te wees en dit is goed vir ons:

Dankbaarheid moet ’n leefwyse word.
Dankbaarheid moet ’n ritme in jou lewe word. 

Friday, 25 July 2025

Wie is ek?

Ná Aftrede: Wanneer die speletjie verby is ...

Ek het onlangs 'n stuk gelees wat my diep getref het - en ek wil dit graag met julle deel. Dit laat mens besin oor wat oorbly wanneer ons titels, rolle en statusse vervaag. Ekself het my loopbaan in die motorbedryf met trots en passie uitgeleef. Daar was hoogtepunte, prestasies en baie ure van harde werk. Maar nou, ná aftrede, vra ek myself af: Wat beteken dit alles vandag? Wie is ek nou?

Die storie wat tot my gespreek het:

’n Senior uitvoerende bestuurder het afgetree en uit sy luukse amptelike woning na 'n gewone woonstel verhuis. In sy nuwe omgewing het hy homself steeds as belangrik gesien en hom van ander gedistansieer. Tot op 'n dag toe 'n ander ouer man met hom begin gesels het. Hierdie nuwe vriend het geduldig geluister terwyl die afgetrede bestuurder herhaaldelik vertel het van sy belangrike posisie en hoë status.

Eendag sê die ander man sagkens: “Na aftrede is ons almal soos gebruikte gloeilampe. Dit maak nie saak watter watt jy was, hoe helder jy geskyn het, of watter tipe lamp jy was nie - LED, halogeen, fluoresserend - as jy klaar is, is jy klaar. Nou is ons almal net gloeilampe wat nie meer brand nie.”

Hy het verder gesê: “Daardie man oorkant was ‘n majoor-generaal in die weermag. Daar sit ‘n professor. Ekself was vir twee termyne ‘n parlementslid. Maar niemand praat daaroor nie, want ons weet: wie ons was, is nie meer wie ons is nie. Wat nou saak maak, is wie jy is in die nou.”

Daardie eenvoudige gesprek bevat ’n waarheid:
👉 Ons waarde lê nie in die titels wat ons dra of die poste wat ons beklee het nie.
👉 Ons moet leer om innerlike vrede te vind, om eenvoudig net mens te wees.
👉 Ons moet ophou bestaan en begin leef - met vreugde, met nederigheid, en met omgee vir ander.

'n Bybelvers wat my daaraan herinner, is Prediker 3:1–2:
    “Vir alles is daar 'n bepaalde tyd, 'n tyd vir elke saak onder die hemel: 'n tyd om gebore te word en 'n tyd om te sterwe; 'n tyd om te plant en 'n tyd om uit te trek wat geplant is …”
En ook Miga 6:8:
    “Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is: en wat vra die Here van jou anders as om reg te doen, liefde en trou te bewys, en nederig saam met jou God te wandel?”

Laaste gedagtes vir my medereisigers in Die Lewe:
    ☀️Wanneer jy die son sien opkom, onthou dat beide die opkomende en ondergaande son mooi is - maar net een word geprys.
   🙌 Wanneer jy na die maan kyk, sien jy God se skoonheid.
    🙌Wanneer jy in die spieël kyk, sien jy Sy beste skepping: JY.

Ons is almal pelgrims op reis - God is ons Reisagent. Hy het reeds ons roetes en bestemmings bepaal. Vertrou Hom en leef voluit.

Moenie vergeet nie:
👉 Besoek ‘n hospitaal - en jy sal besef niks is mooier as gesondheid nie.
👉 Gaan na ‘n tronk - en jy sal leer hoe kosbaar vryheid is.
👉 Besoek ‘n begraafplaas - en jy sal verstaan hoe tydelik die lewe is.

Laat ons leef met die vrees van God en respek vir mekaar.
Laat ons gee, selfs al is dit klein.
Laat ons onthou: Na die speletjie keer die koning en die pion terug na dieselfde kis.
Mag ons die lewe waardeer, saam lag, en vir mekaar sorg - met nederigheid en dankbaarheid.

[Aangestuur deur Babsie Swanepoel]

Friday, 20 June 2025

Klakouse word nie gebore nie, maar gemaak

ʼn Ou regte knorpot het altyd fout gevind met alles. Niks was ooit reg nie. Sy vrou besluit toe om te kyk of sy darem iets reg kan doen. Sy besluit om vir hom twee eiers vir ontbyt te maak - die een gebak en die een geroer, net om seker te maak hy het nie iets om oor te kla nie. Maar so maklik uitoorlê jy nie ʼn klakous nie. Toe die bord voor hom land, sê hy: "Ja-nee, nes ek gedink het, jy’t al weer die verkeerde eier gebak en die verkeerde een geroer." 

Foutvinders en klakouse sal ʼn mens nooit regtig tevrede kan stel nie.

Klakouse word nie gebore nie, maar gemaak! 

Dit gaan oor die manier waarop jy na die lewe kyk en wat jy graag wil raaksien. Iemand wat op ʼn pad ry, kan die hele tyd na die gate, hobbels of knikke in die pad staar. As jy hom vra wat hy gesien het, sal jy jou gou vertel: gate, hobbels en knikke! Dit is waaruit sy hele reis bestaan het. Die ander persoon wat dieselfde pad gery het, maar na die klowe en berge en blou lug en wolke en bome gekyk het, sal vir jou iets anders vertel ... van klowe, blou berge, pragtige bome. Dit hang dus af hoe jy kyk ... en dit is dan hoe die lewe vir jou is.

Die manier van kyk na die lewe leer ʼn mens vir jouself aan. Dit word ʼn soort gewoonte. 

As jy die hele tyd net fout wil soek, sal jy eintlik net foute kry. Dit sal al word waarna jy in die lewe kyk en al waaruit die lewe vir jou bestaan. Jy sal later niks meer kan doen sonder om te kerm en te kla nie. Jy sal selfs fout vind waar daar niks is om mee fout te vind nie, soos met ʼn gebakte en 'n roereier. As jy so word, het jy as knorpot en kritikaster gegradeer. Jy moes immers hard oefen om so te word.

Dit is so anders as wat die Here wil hê Christene moet wees. Daar is soveel meer in die lewe om raak te sien en te geniet. Daarom moet ons ons bes doen om sulke negatiewe lewenspatrone met alles wat ons het, te vermy. Kyk by ander se foute verby. Ons almal maak mos maar foute. Moenie te skerp kyk of te kwaai oordeel nie.

Maar ewe belangrik: Moenie te kwaai met jouself wees oor jóú eie foute nie. As jy nie in vrede met jouself leef nie, sal jy ook nie in vrede met ander kan leef nie. Aanvaar wie en wat jy is en vergewe ook jouself. Probeer net volgende keer om nie dieselfde foute te maak nie.

Kweek ʼn positiewe lewenshouding aan: een wat die eier met dankbaarheid eet soos dit kom.

[Geleen]

Sunday, 15 June 2025

Terugblik: Kleindogter wen met roerende opstel oor oupa

Hy was al die jare 'n boer en het nooit 'n CV nodig gehad nie. Toe skryf sy kleindogter *Mari vir hom die beste CV in die hele wêreld, sê die afgetrede mnr. Japie van Rensburg van Philippolis.

Met haar roerende opstel oor haar oupa Japie, het Mari Beukes (12), dogter van mnr. Fanie en Marietjie Beukes van Theunissen, 'n prys van R1000 losgeskryf in die departement van welsyn se opstelkompetisie vir die Jaar van die Bejaarde.

In Ek is lief vir my oupa skryf Mari:

"Ek sien my oupa so voor my. Vandat my ouma dood is, sit hy altyd alleen op sy vaalgroen stoep. Pyp skeef in die mond, beker rooibostee in sy hand.

Hy kyk ver oor die kalerige bossieveld en sien dinge wat net sy moeë oë kan sien. Hy sien eintlik net met een oog, maar met daardie oog sien hy meer as wat die meeste mense ooit sal kan sien.

Sy woorde is eintlik filosofieë, maar net hy weet dit. Hy en ek, want ek en hy ken mekaar "inside out." Die dinge wat hy sê, is vir my so mooi soos Shakespeare, so waar soos Desmond Tutu, so aards soos Langenhoven. Dis pure oupa-wysheid. 

Sy stories neem my na ver plekke. Hulle gee lewe aan die naamlose gesigte op die ou foto's. Hulle is nie swart letters op wit papier nie, maar warm woorde wat in die lug ronddryf en hulle lê op my hart kom kry. Hulle gee meer as wat hulle vra ... net soos hý altyd altyd gee waar ander nie wil nie.

Hy waarsku oor dinge en ek dink soms dis sommer "nonsens," maar dan sien ek hy was reg. Hy sê altyd: "Onthou, jammerhartigheid vreet sy eie baas." Hy weet hy is reg, maar tog raak hy gou jammer en bly hy gee en gee.

My oupa is nie geleerd of slim of belangrik nie. Hy het nie om die wêreld gereis of rekords geslaan nie. Hy is doodgewoon. Maar hy ken my en almal om hom so diep, hy weet sommer wat ons dink.

Hy kan die grootste probleme oplos. Nie wiskundeprobleme nie. Hart- en voelprobleme. Dan praat hy sulke fyn trooswoorde en verf my hele wêreld vol mooi dinge. Hy laat my voel of ek 'n ster is. Asof ek die een of ander wonderlike krag in my het. Hy glo in my. Hy sê hy weet ek kan enigiets doen wat ek regtig wil doen.

My oupa laat dink my partykeer aan die wind. Hy dra my deur slegte tye. Soos wanneer ek sukkel of verlang, maar in goeie tye laat hy myself vlieg. "Gaan kind, geniet dit!" hoor ek hom sê. Hy is nie 'n storm- of seermaakwind nie. Soms fluister hy my in die regte rigting en soms as ek nie wil luister nie, wag hy om my te vang.

Ek kry altyd die laaste stukkie biltong en hy sê ja vir al my kleinkind-versoeke. Dit is asof sy liefde nooit ophou nie. Dit vou my so lekker toe soos 'n wolkombers in die winter.

Hy weet wat Pa en Ma nog nie weet nie. Dat ek net nóú gaan klein wees. Dat ek vinniger as 'n lappie boontjies gaan opskiet die wye wêreld in. Is dit hoekom hy my so fyntjies versorg?

Mens lees in boeke van allerhande wyse manne wat nie toelaat dat omstandighede hulle breek nie. Wat hulself nooit bejammer nie en nooit ophou bid en glo en hoop nie.

My oupa is só 'n wyse man."  

*Mari is 'n leerling aan die Hoërskool Theunissen waar haar pa, Fanie, hoof is en haar ma, Marietjie, 'n onderwyseres. Sy is 'n ywerige leser en skrywer. In 1997 het Mari as negejarige 'n opstelwedstryd gewen oor waarom Bloemfontein die hoofstad van Suid-Afrika moet wees.

Volksblad: Donderdag, 23 Desember 1999 

[Ingestuur deur Ann]

Thursday, 7 November 2024

Ons kla ...

Ons kla oor grys hare -
'n kankerpasiënt wens sy het hare gehad!

Ons kla oor nuwe skoene -
die kreupele wens hy het voete gehad!

Ons gooi kos weg -
honger mense bid net vir stukkie brood!

Ons baklei en vloek ons geliefdes -
êrens in die lewe sit iemand alleen
en bid vir liefde om oor hulle pad te kom!

Ons ouers irriteer ons soms of ons opinies verskil -
maar êrens in 'n ouetehuis sit ou mense
en bid vir 'n kuiertjie van hul kinders wat hulle weggegooi het!

Ons baklei met ons kinders en ons kinders met ons -
êrens sit 'n ma of 'n kind by 'n graf en ween
en wens net vir nog een dag saam met daardie persoon!

Ons bekommer onsself oor watse geskenk ons gaan kry of koop -
êrens sit n ma en bid dat sy net die Kersfees 'n brood
en 'n bottel aanmaakkoeldrank en miskien n stukkie hoender vir haar kinders kan voorsit!
Wat nog te sê 'n geskenk?

Ons moan oor vet of maer wees -
êrens veg iemand om oorlewing en wag vir 'n orgaan!

Wees dankbaar vir wat jy het,
wie in jou lewe is
en wees tog geduldig
en klaar dinge uit op 'n mooi manier!

Dink oor hoe geseënd jy is
en hoe jy dinge sommer maar net verwag omdat dit jou toekom!
Dis aardse goed en 'n gejaag na wind!

Hartsake en liefde is meer werd
as enige groot duur geskenk of 'n nietige bakleiery!

Die dood is so finaal,
maak die beste van jou en jou geliefdes se lewe!!!!
[Anoniem]

Sunday, 7 July 2024

Herinneringe: 'n Briefie aan 'n oupa

Liewe Oupa

Respek is die eerste ding wat in my kop kom as ek aan Oupa dink.

Ek het Oupa gesien as die generaal van 'n familie wat sukses bereik het met die ondersteuning, wysheid en leiding van 'n liefdevolle vader en oupa. Oupa het my altyd opgebou om 'n beter mens te wees en om liefde en meegevoel vir ander te hê. Daar is dinge wat 'n kleinseun net by sy oupa kan leer, en ek het die beste voorbeeld gehad.

Oupa, dankie vir al die mooi stories en herinneringe wat ek saam met Oupa deur die jare kon opbou. Ek gaan baie na Oupa verlang en Oupa altyd in my hart saamdra. Oupa se lewenslesse gaan ook eendag my kinders se lewenslesse word. Ek was geseënd om iemand soos Oupa in my lewe te kon hê.

Ek is lief vir Oupa.

Oupa se oudste kleinseun

Sunday, 26 May 2024

Herinneringe: 'n Briefie aan 'n oupa

Oupa

Daar is soveel dinge wat Oupa al vir my vertel en geleer het. Al sal ek altyd die lesse en stories onthou, is daar een aspek van Oupa wat ek die meeste gaan mis en elke dag aan sal dink. Dit is die manier hoe Oupa altyd vol liefde en uit die hart en maag gelag het. Oupa was, is en sal altyd die persoon wees wat my en enige iemand kon laat beter voel deur net te glimlag.

Oupa het gelag net soos Oupa geleef het ... Voluit!

Elke ete om die tafel sonder Oupa se gebed en geselskap voel leeg en sinneloos, maar ek sal Oupa elke keer daar sien en hoor, al is Oupa nie daar nie.  

Oupa was ons skeinat- en strooipraatkoning en elke oomblik wat ek saam met Oupa onthou, goed en sleg, sal my altyd bybly. Oupa se diep stem sal altyd my hart warm hou en my veilig laat voel. Dankie!

Oupa se Engel

Sunday, 19 May 2024

Herinneringe: Briefie aan 'n oupa

Liewe Oupa

Ek kan net dankie sê dat ek deel kon wees van jou lewe, dat ek die voorreg gehad het om soveel wyshede van jou te kon leer en wanneer ons vashaak met skeinat en wiskunde, het jy gehelp om dit uit te redeneer.

Jou lag en vlymskerp sêgoed kan ons nooit vergeet nie. Jy was vir ons 'n ware voorbeeld en 'n liefdevolle oupa waarop elke kleinkind trots kan wees.

Oupa, ek gaan jou baie mis Jy laat 'n groot leemte na.

Maxie 

Sunday, 12 May 2024

Herinneringe: Briefie aan 'n ouma

Liewe Ouma

Na 86 jaar en 51 weke moes ons jou groet. Alhoewel my hart seer is om jou te laat gaan, weet ek dat jy nou veilig en sonder pyn is - en my herinneringskissie is vol kosbaarhede wat altyd tot troos sal wees.

Ek onthou hoe jy en oupa my keer op keer saam op vakansie geneem het en bederf het soos net 'n ouma en oupa kan. Ek onthou hoe jy saam met my op die strand en in rotspoele gespeel het.

Maar die belangrikste wat ouma my geleer het, is liefde. Ouma se verhouding met die Vader was altyd 'n voorbeeld van iemand wat na aan Hom wandel. Ouma se verhouding met ander was altyd 'n voorbeeld van hoe om in liefde met ander om te gaan. En ouma se verhouding met oupa bly vir my 'n voorbeeld van 'n huwelik wat in God gevestig was. Ouma het geglo dat 'n mens nooit kwaad vir iemand mag gaan slaap nie - en dit is 'n les wat ek altyd met my sal saamneem.

Dankie vir al ouma se liefde en omgee. Oral waar ouma gegaan het, het jy mense se lewens aangeraak: kinders, kleinkinders en agterkleinkinders, familie, vriende, bure en selfs deur briewe aan sendelinge in verre lande te skryf.

Ek sal die kosbare herinneringe altyd in my hart saamdra.

Annelie 

[As iemand die skrywer van die stukkie ken, stuur asb. besonderhede sodat ons erkenning kan gee. Dankie vir die persoon wat die fotostaat op my tafel gesit het en op hierdie manier kan al die lesers deel in dié beskrywing van die mooi verhouding tussen verskillende geslagte.]

Friday, 23 February 2024

Hoe sal ek dankie sê?

Ek sal dankie sê met liefde,
en ek sal dankie sê met vreugde,
Ek sal dankie sê met wysheid,
en ek sal dankie sê met vrede.
Ek sal my dankie sing,
Ek sal my dankie uitspreek.
Ek sal my dankie uitroep.
Ek sal my dankie bid.
Ek sal my dankie met psalms sê,
Ek sal my dankie met liedere sê,
Ek sal my dankie met verbeelding sê,
en ek sal my dankie met entoesiasme gee.
Ek sal my dankies diep in mywese opgaar,
en dit bind in die ongebondenheid van God.
Hoe sal ek my dankbaarheid gee?
Ek sal my dankbaarheid LEWE!

[Dankie, Elmari,dat jy dit met ons deel.]

Tuesday, 2 January 2024

Dinsdag-denke: Welgesteld vs arm

Eendag het ʼn welgestelde pa sy seun na die platteland gevat met die doel om sy seun te wys hoe arm mense lewe. 

Hulle het ʼn paar dae spandeer op ʼn plaas wat die pa beskou het as ʼn baie arm gesin. 

Op pad terug huis toe vra die pa vir sy seun: “En wat het jy alles geleer?” Die seun het gesê: “Dit was eenvoudig net wonderlik, Pa.” “Het jy toe gesien hoe arm mense lewe?” vra die pa “O ja,” antwoord die seun. “En wat het jy alles geleer?” vra die pa. Die seun het geantwoord: “Ek het gesien dat ons net een hond het, maar hulle het vier. Ons het ʼn swembad in die middel van ons tuin, maar hulle het ʼn hele rivier sonder ʼn einde. Ons het ingevoerde lampe in ons tuin, maar hulle het elke nag die helder sterre. Ons het ʼn patio in ons binnehof, maar hulle het ʼn hele horison sonder einde. Ons woon op ʼn erf in die stad. Hulle het landerye wat eindeloos uitstrek. Ons het bediendes om ons te bedien, maar hulle dien mekaar. Ons het mure rondom ons erf om ons te beskerm. Hulle het vriende wat hulle beskerm. Ons koop ons kos in die supermark. Hulle kweek hulle kos op hul eie grond”. 

Die pa was eenvoudig net sprakeloos! En die seun het afgesluit: “Baie dankie dat Pa vir my geleer het hoe arm ons is.”

[Lees HIER verder.]

Monday, 1 January 2024

Nuwejaarsvoorneme

Hoe kan ek hierdie jaar positief en met vreugde lewe, terwyl alles om my inmekaarval? 

Ek sal dankie sê met LIEFDE en ek sal dankie sê met VREUGDE.
Ek sal dankie sê vir WYSHEID en ek sal dankie sê met VREDE.
Ek sal my dankie SING,
ek sal my dankie UITSPREEK.
Ek sal my my dankie UITROEP en ek sal my dankie BID.
Ek sal my dankie met PSALMS sê,
ek sal my dankie met LIEDERE sê.
Ek sal my DANKBAARHEID gee.
Ek sal my DANKIES diep in my wese OPGAAR.
Hoe sal ek my Dankbaarheid gee?
Ek sal my DANKBAARHEID LEWE.
365 dae om dankbaar te lewe!

[Dankie, Estelle, vir die deel van hierdie voorneme.]

Monday, 27 November 2023

Vandag se internetgebed vir jou: Dankbaarheid

Dankie, Here, duisend keer dankie
dat ek so wonderlik, onverdiend
begenadig word om u liefde te ervaar.
Laat my iets daarvan aan ander probeer bewys, want ek kan dit nie verwoord nie.

Friday, 1 September 2023

Is krummels die energie werd?

'n Brood val uit 'n bewegende broodwa en rol 'n entjie verder.

'n Stukkie breek af van die brood en bly in die straat lê. Drie mossies peil af op die stukkie wat afgebreek het. 'n Hewige bakleiery breek los. En dit kwetter en skree dat jy hulle waar kan hoor. Na 'n vreeslike vlerkgeklap, kry een die oorhand en begin die krummels gretig oppik, terwyl die ander twee met luide protes in 'n boom gaan sit en voortgaan met die lawaai. Nie een van hulle het die groot brood 'n entjie verder raakgesien nie. Hulle was te besig om oor die krummels te baklei!

Ons maak rusie oor klein dingetjies in die lewe en ignoreer dit wat eintlik belangrik is. Ons baklei oor die krummels van wie maak huis skoon, en wie moet kook, maar die heel brood van die seën om 'n huis te hê, die sien ons nie raak nie.

Ons baklei oor die krummels van wie moet die motor was en wie moet die petrol gaan ingooi, maar die heel brood van seëninge oor ek 'n motor besit, dit sien ek nie raak nie.

Ons kwetter oor die krummels van die mense by die werk wat dit en dat doen, maar die heel brood van seëninge dat ek werk het, en die gesondheid om dit te kan doen, dit sien ons nie raak nie.

Oor die nietighede word ons vir mekaar so kwaad dat kosbare verhoudinge verbreek word.

Voordat ons oor die krummels twis, kom ons kyk eers rond en sien die brood raak! Die krummels is nie die gevolge van die twis werd nie!

Vader, laat ek vandag onderskei tussen krummels en die dinge wat werklik saakmaak.Laat my die heel brood raaksien, en nie die krummels nie.

[Dankie, Anoniem, vir hierdie waardevolle les waaraan ons vandag weer herinner word.]

Sunday, 9 July 2023

Dankbare hart

By ’n pragtige foto van ’n sonsopkoms is die volgende aanhaling van John Lennon: “When you do something noble and beautiful and nobody noticed, do not be sad. For the sun every morning is a beautiful spectacle, and yet most of the audience still sleeps.”

Dit kan ’n mens nogal moedeloos maak as jy elke dag jou bes doen en niemand sien dit eers raak nie. As dit weer gebeur, kan jy weet: God het dit raakgesien. Hy sien alles wat jy doen, en Hy glimlag wanneer jy die dinge doen wat Hy van sy kinders vra.

Van jou kant af kan jy ’n punt daarvan maak om die dinge wat jou man en kinders vir jou doen, raak te sien en vir hulle dankie te sê. En natuurlik ook al die dinge wat God jou uit genade gee. So kan jy ’n kransie van dankbaarheid en waardering om elke dag span en vir jouself ’n wenjaar maak.

GEBED: Here, help my om meer dikwels my waardering teenoor U en my hartsmense uit te spreek. Ek loof U dat U altyd die dinge wat ek probeer reg doen, raaksien. Amen.

[Hierdie oordenking is geneem uit GESKENK VAN GENADE deur Nina Smit]

Sunday, 25 June 2023

Dink daaroor: Wysheid oor die grysheid

Gedurende my kinderjare was daar baie min bejaardes. Vandag het die situasie verander. In winkels, op strate, in ons kerke is die witkoppe feitlik oral oorheersend. In ons dorpe en stede rondom ons skiet aftreeoorde en ouetehuise op soos paddastoele. As ons kyk na gemeentes se samestelling van lidmate (in SA en die UK), sou ons verwag dat die klem vandag in die kerklike bediening op bejaardesorg sou val. In baie gemeentes gebeur dit. In baie gevalle word feitlik niks in hierdie verband gedoen nie.

Die behoeftes van bejaardes is egter meer as net finansieel. Baie bejaardes voel die woorde van Prediker 12 aan die lyf: hande bewe, bene beweeg moeilik, kan nie meer behoorlik kou nie, oë moet twee maal kyk om te sien, hande is altyd by die ore om goed te kan hoor, stem is dof, slaap is min. Hierdie feitlik opgebruikte liggaamsdele veroorsaak dat die ou mensies bang en onseker is oor feitlik al die aspekte van die lewe. Daarby dra talle die smart oor die verlies van ’n lewensmaat, oor kinders en kleinkinders en vriende wat nie meer daar is nie of ver in ’n ander land woon. Dan is daar ook nog die onsekerheid oor en die vrees vir die daagliks veranderende samelewing met politieke ontstuimigheid, en by dit alles die dood wat nader is as ooit tevore.

Mag dít nooit van ons gesê word nie: Julle het my verwerp toe ek oud geword het, my alleen gelaat toe my kragte ingegee het (Ps 71: 9 en 10).

(Erkenning aan Prof. Bieks Beukes (Emeritus))

Gebed

Here, ek is een van die mense wat oud genoem word.
Laat my in my laaste treë nie alleen nie.
My lewe het eenmaal waarde en sin gehad.
Ek lewe in die aand. Nie lank nie, dan is dit nag.
Ek het gewerk, gelei, invloed uitgeoefen.
Wat ek gedoen het, skuif weg, al hoe verder weg.
Ek bid U, bewaar my van bitterheid,
Van die drang om my kennis en my kranigheid te bewys,
Van die gevaar om te sê dit was alles reg.
Ek wil leer om te laat los.
Ek wil my op niks anders as u goedheid verlaat nie.
Laat U my nie los nie!
Amen.

Jörg Zink (Uit: ’n Keur van wysheid, Nina Smit, 2004) 

[Klik HIER vir nog verrykende boodskappe.]

Friday, 23 June 2023

Daar is gedurig ‘engele’ om ons ...


Daar is gedurig ‘engele’ om ons. Doodgewone mense, soos ek en jy, wat altyd daar is op die regte tyd en regte plek om ons te help, te bemoedig, te ondersteun, te inspireer, te motiveer en ons op te help as ons geval het. Met liefde en omgee ‘n ent saam met ons te stap totdat ons bene weer sterk genoeg is om self verder te loop.

Ek het al beleef dat as ek die dag bietjie hartseer is of af voel (ons almal kry maar soms sulke treurige dae) dan kom daar onverwags ‘n bemoedigende SMS of 'n WA van ‘n vriendin, of ‘n mooi e-pos met 'n  boodskap van bemoediging. Dis die ‘engele’ in ons lewe. Mense wat hulle beskikbaar stel vir die werking van die Heilige Gees in hulle. Omgee-mense ...

Hoe dikwels gebeur dit nie dat jy skielik aan iemand dink nie? Wanneer dit met my gebeur, begin ek sommer dadelik intree en bid vir daardie persoon wat in my gedagtes gekom het, deur die influistering van die Heilige Gees, en dan hoor ek later dat die persoon op daardie oomblik ‘n krisis beleef het. So gebruik die Here elkeen van ons, doodgewone mense.

Hierdie goed is nie toevallig nie. Niks in ‘n kind van die Here se lewe is ooit toevallig nie. Ons is instrumente in ‘n magtige God se hand en wanneer ons dit toelaat, en gehoorsaam is vir Sy influistering in ons gees, gebruik Hy ons om ‘engele’ vir ander te wees.

Hy stuur mense oor ons pad wanneer dit nodig is. Soms is ons gewillig om te help, soms nie.

Ek glo ook wel dat daar werklik engele in die lug is, wesens wat die Here soms gebruik, wanneer daar nie ‘mens-engele’ beskikbaar is nie. 

Maar ek wil vanoggend net uit my hart baie dankie sê vir al my vriende en vriendinne ‘engele’ wat so getrou luister, soveel omgee, en altyd daar is vir my. Julle is kosbaar en ek is regtig baie dankbaar en lief vir julle. Sonder julle sou die pad maar eensaam en baie moeiliker gewees het. Dankie dat julle my naam in julle gebede noem, my arms oplig wanneer hulle moeg raak en afval, my met liefde bemoedig en my gesig na die sonkant gedraai hou.

As berader en bemoediger, bly ek ook maar net 'n mens, en het self soms 'n bietjie TLC, verstaan en vashou nodig.

Mag julle ‘n wonderlike naweek hê en die warmte en liefde van Jesus om julle voel.

Julle, die ‘engele’ in my lewe.

[Dankie, vir hierdie anonieme pos wat op die tafel beland het.]

Sunday, 4 June 2023

Dink hieroor: Wat vertel jy aan jouself elke oggend as jy jou dag begin?

● ​​Moses sou sê: "Here, as U nie saam ons vooruit gaan nie, laat ons dan net hier bly."

● ​​Abraham sou sê: "Die Here sal voorsien."​​

● ​​Jacob sou sê: "Ek sal U nie laat gaan, totdat U my geseën het nie"​​

● ​​Josua sou sê: "Ek en my huis, ons sal die Here dien."​​

● ​​Samuel sou sê: "Spreek Here, U dienskneg luister."​​

● ​​Nehemia sou sê: "Die blydskap in die Here is my beskutting."​​

● ​​Dawid sou sê: "Die Here is my Herder, niks sal my onbreek nie"​​ en "Dit is die dag wat die Here gemaak het, laat ons juig en bly wees."​

● ​​Salomo sou sê: "Vertrou die Here met jou hele hart en leun nie op jou eie insigte nie, in alles wat jy doen maak dit bekend aan die Here en Hy sal jou paaie gelyk maak."​​

● ​​Jesaja sou sê: "Staan op, word verlig want jou lig kom en die heerlikheid van die Here gaan oor jou" en "Geen wapen wat teen jou gesmee word sal iets uitrig nie."​​

● ​​Jeremia sou sê: "Die Here het planne om my voorspoedig te maak en sal my nie teleurstel nie."​​

● ​​Jabes sou sê: "Dat U my sal seën en my grondgebied vermeerder"​​

● ​​Sadrag, Mesag en Abednégo sou sê: "Ons buig voor geen beeld nie maar ons sal die Here dien"​​

● ​​Esegiël sou sê: "Enige droë bene in my lewe, sal weer lewe"

Thursday, 4 May 2023

Dankbaarheid


Vandag, as ek na my hande kyk, besef ek, ek is lief vir my hande.
My hande vee my trane af as ek huil. My hande het my deur my skoolloopbaan geneem.
My hande het al my kinders vertroos en met liefde vasgehou.
My hande het hard gewerk om my gesin te voed.
My hande hou steeds my Bybel vas, terwyl ek daagliks pitkos daaruit kry.
Nou sit ek my hande saam en bid dat die Here my en almal vir wie ek omgee, sal vashou en beskerm.
Eendag gaan ek my hand in die Here se hand sit wanneer Hy my na die Ewige Woning neem.
Here, dankie vir my twee hande.

[Dankie, Valerie, vir die deel hiervan.]

Tuesday, 28 February 2023

Dinsdag-denke: Dankbaarheid

Daar is die storie oor die skoenfabriek wat twee bemarkingsagente na ʼn sekere gebied in Afrika gestuur het om besigheidsmoontlikhede daar te gaan ondersoek. Nadat hulle bietjie rondgekyk het, het een van hulle ewe mismoedig ʼn boodskap na die fabriek teruggestuur: “Situasie hopeloos. Niemand dra skoene nie”. Die ander een was weer baie opgewonde oor wat hy alles waargeneem het en sy boodskap het so gelui: “Wonderlike besigheidsgeleentheid. Niemand het skoene nie”.

Daar is nog ‘n wonderlike storie uit Amerika: ’n Indiaanse hoofman was besig om vir sy stamlede te vertel van twee honde in sy binneste: die een is ’n wit hond wat goed en dapper is en die ander een ’n swart hond wat wraaksugtig en kwaad is. Beide honde is besig om tot die dood toe met mekaar te veg. ’n Jong vegter van die stam wat nie vir die einde van die storie kon wag nie, vra: watter een gaan wen? Die hoofman antwoord: “Die een wat ek kos gee.”

[Lees die res HIER]