Sunday 9 July 2023

Dankbare hart

By ’n pragtige foto van ’n sonsopkoms is die volgende aanhaling van John Lennon: “When you do something noble and beautiful and nobody noticed, do not be sad. For the sun every morning is a beautiful spectacle, and yet most of the audience still sleeps.”

Dit kan ’n mens nogal moedeloos maak as jy elke dag jou bes doen en niemand sien dit eers raak nie. As dit weer gebeur, kan jy weet: God het dit raakgesien. Hy sien alles wat jy doen, en Hy glimlag wanneer jy die dinge doen wat Hy van sy kinders vra.

Van jou kant af kan jy ’n punt daarvan maak om die dinge wat jou man en kinders vir jou doen, raak te sien en vir hulle dankie te sê. En natuurlik ook al die dinge wat God jou uit genade gee. So kan jy ’n kransie van dankbaarheid en waardering om elke dag span en vir jouself ’n wenjaar maak.

GEBED: Here, help my om meer dikwels my waardering teenoor U en my hartsmense uit te spreek. Ek loof U dat U altyd die dinge wat ek probeer reg doen, raaksien. Amen.

[Hierdie oordenking is geneem uit GESKENK VAN GENADE deur Nina Smit]

No comments:

Post a Comment