Sunday 20 June 2021

Vadersdag: Wat is 'n pa?

Uit: NND/Kitsnuus 30 April 1999
Wat is 'n pa? 'n Onmisbare ding - iemand om gewaardeer te word.

Eendag was daar 'n seuntjie.
Die tweede woord wat hy kon sê, was "Pappa."
So teen twee jaar oud, was iemand gereeld nodig om 'n bal van die dak af te haal, of 'n kwaai hond te verdryf. Dan het hy hard geroep: "Pappa!"
Teen vier jaar het maats hom begin boelie, maar hy kon iemand roep om hom te help. Dit was: "Pappa!"
So op ses of sewe het ek hom hoor sê: "My pa is sterker as Tarzan."
So twaalf-dertien was sy getrouste ondersteuner langs die sportveld: "My pa is my beste pêl."
Teen sestien, het die hakskene begin rooi kleur. As hy 'n bietjie raad of 'n sakgeldjie nodig gehad het, het hy gesê: "Laat ek die Outoppie 'n bietjie scheme."
Teen een en twintig, derdejaar op universiteit, het hy by verskeie geleenthede vir die tjommies gesê: "Ek verstaan nie die Ouballie nie. G'n mens kan met hom 'n diskussie voer nie."
Op ses en twintig het hy vir die bruidjie gesê: "Moenie worrie nie, my pa sal ons miskien, net miskien kan help."
Op dertig het hy vir vroulief gesê: "Kom ons gaan vra my pa."
Op ses en dertig, toe die lewe begin taai raak en die kinders begin veeleisend raak, het hy by geleentheid vir sy vroutjie gesê: "As my pa nog geleef het, was die oplossings naby." 

No comments:

Post a Comment