Sunday 6 June 2021

As jou blare afval ...

Dit raak winter en ons sien daagliks hoe kaal die bome begin raak. Alles wat eers groen was se blare begin verkleur na geel, ander rooi en dan sien jy hoe die grond daarmee ingekleur word. Dan een oggend as jy opstaan is alles dood en kaal. Ons dink dalk dit is kaal en dood, maar eintlik gaan alles net in 'n rusperiode. Dieselfde gras wat doodgeryp het, of die boom, sal oor 'n paar maande nuwe blare begin uitstoot. Die gras sal weer groei. Bome sal begin vrugte dra en die wêreld sal van vaal na groen verander. Die wegkruip in jou huis, sal plek maak vir uitgaan en in jou tuin gaan wandel. Of die wat gelukkig is, sal langs die strand gaan stap. Die donker tye wat verby gaan en plek maak vir opgewondheid en lag.

Jou lewe kan dalk nou in somer wees, maar ongelukkig kan koue enige tyd intree. 

Tye wat sy tol op jou lewe eis. Dalk is dit tye van hartseer, of tye van alleen wees. Ons almal is nie altyd so gelukkig om net somer te hê nie. Alles raak dalk vaal en al wat jy sien is die dooie takke en dor lande. Jy wil jou kop onder die komberse wegsteek en in jou kamer bly. Tog is hierdie nie die einde nie. Jy is in 'n rusperiode. 

Jy voel dalk dit sal nooit beter raak nie. Ons bid tog wanneer dit swaar gaan of wanneer dit nie reën nie. Dalk wag ons 6 maande of 7 jaar, God slaap nie. God sal die reën en groei bring, solank ons aan Hom vashou. Vertrou op Hom, Hy sal jou krag gee. Hy sal jou versterk. Eer en vertrou Hom.

Jes. 40: 29-31
"Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie. Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat, selfs manne in hulle fleur struikel en val, maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie."

Psalm 50: 15
"Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy sal My eer.”
Jacques Barnard 15/05/2021

[Gaan besoek gerus hierdie FB vir inspirasie.]

No comments:

Post a Comment