Showing posts with label Taalgenoot. Show all posts
Showing posts with label Taalgenoot. Show all posts

Friday, 7 June 2024

Terugblik: As ek was ...

Het jy al ooit gedink wat jy sou doen as jy 'n openbare figuur of selfs voorwerp, ag as jy sommer enigeiets anders as jyself sou wees?

Eben de Jager skerts oor die lewe as hy sê:
  • As ek 'n engel was, sou ek al die slegte mense besoek en aan hulle vertel wat hulle moet doen om te kom waar ek is.
  • As ek 'n professor was, sou ek net die dommes leer, want die slimmes kan vir hulself sorg.
  • As ek 'n by was, sou ek my angel in ander mense se sake gesteek het. 
  • As ek maar Anneline Kriel was, dan was dit nie meer nodig dat ek haar so hoef te bewonder nie.
  • As ek goud was, maar ek was nie geld werd nie, dan was g'n geld goud werd nie.
  • As my van Niewoudt was, het ek voorwaar my naam verander na Kubus.
  • As ek Harry Oppenheimer was, ai ek wens ek was ...
  • Koos van der Merwe? Dit sou ek nooit kon wees nie, want indien dit my naam was, was dit lankal verander.
  • As ek 'n onderwyser was, sou ek na ander wys.
  • As ek 'n visserman was, vang ek net dié visse wat ander laat wegkom.
  • Was ek 'n landdros, dan dros ek saam met die drosters.
  • As ek 'n president was, sou ek seker wens ek was nie!
  • As 'n lid van die vrouegeslag was, dan was ek die leidster van Womens Lib.
  • As ek Jan van Riebeeck was, het ek nog steeds in Tafelbaai geland.
  • Was ek 'n Voortrekker, dan het ek teruggetrek.
  • As ek 'n baas was, sou slim my gevang het.
  • As ek Langenhoven was, dan was al die eerbetoon te laat.
  • As ek 'n dokter was, het ek seker self gewonder wat my makeer.
  • Was ek 'n predikant, dan was ek aan die regte kant.
  • Was ek 'n rugbyspeler, sou ek soms die skeidsregter wou afstuur.
  • As ek 'n huurmotor was, sou mense in my sit, op my sit en my besit.
  • As ek 'n vorm was, wat ingevul moes word, dan het ek my pensioen by die staatskantoor getrek.
  • Was ek 'n spook ... dan sou ek seker in spoke moes glo!
  • As my van Botha was, ag, dan stig ek sommer my eie parlement!
  • As ek Tarzan was, het mense nog steeds gedink ek is 'n groot aap.
  • As ek 'n Skot was, kon my vrou my rokke dra.
  • As ek die son was, dan was ek seker al onder.
  • As ek 'n berg was, sou ek wonder wie het die molshoop so verander.
  • Was ek die Ontvanger van Inkomste, dan was mý leuse: dis beter om te gee as om te ontvang.
  • As ek die minister van finansies was, wonder ek of my eie maandelikse begroting sou klop.
  • Was ek 'n goeie atleet, sou ek ten minste vir my vrou kon weghol!
  • As ek 'n skaap was ... daar's mense wat dink ek is!
  • As ek 'n bottel tien-jaar-oud-brandewyn was, gits ek sou nie juis ouer word nie!
  • As ek 'n druiwekorrel was, sou mense my dalk as 'n alkoholis kon bestempel?
  • En nou ja, as ek 'n onnosele nikswerd, idioot was dan ... dan sou ek net aanhou om te doen wat ek nou doen.
Bron: Die Taalgenoot * September 1985 * Eben de Jager 

Friday, 11 November 2022

Die mynspook

As 'n halflyf-spook jou beveel om iets te doen, dóén jy dit. Veral as hy die belofte van 'n kissie vol goue ponde soos 'n wortel voor jou neus hou. Maar wie sou kon raai dat die ware skat uiteindelik nie in die kissie sou wees nie ...?

Oupa het sy beste spookstorie só begin: "Nog voor die tyd van  Casino's, het ek al die jackpot geslaan ..."

Dit was lank, lank gelede. Ek was nog jonk en sterk, maar brandarm, soos almal van daardie tyd. Bedags was ek 'n grofsmid en snags 'n vroeënagskof-werker by die Nigel-myn, ten spyte van die stories wat geloop het dat dit daar spook.

Een donker wintersnag sukkel ek met my fiets oor die growwe mynsand. 'n Skielike, ysige wind waai sand in my oë en ek gaan staan. Voor my op die grond sit 'n man sonder bene. Hy draai op sy stomp lyf en kyk vir my. Hy het 'n wilde baard en is gewapen met geweer en bandelier. 'n Oudkryger! Nee, sien ek, hy is jonk, maar met 'n leeftyd se smart op sy gesig. My hare staan penorent toe ek skielik besef: ek kan dwarsdeur hom sien ... Dit is die mynspook!

Ek wil weghardloop, maar die halwe man se brandende oë hou my vasgenael. Daar is iets dringends in sy blik. Ek onthou skielik dat 'n mens 'n spook moet aanspreek; skraap my moed bymekaar en vra: "Waarom rus jy nie?"

"Daar is ongedane sake wat my hinder," antwoord die spook in 'n hol stem. "Doen wat ek sê en jy sal ryklik beloon word."

Toe ek hoor die spook praat van 'n beloning, onderdruk ek my vrees en staan 'n bietjie nader om mooi te hoor.

"Net hier, waar ek nou al vir sewentien jaar wag, lê die res van my bene begrawe. Dis afgeskiet deur 'n Kakie-kanon tydens die oorlog. Grawe dit op en herbegrawe dit saam met die res van my beendere in die kerkhof in Heidelberg, onder die houtkruis wat gemerk is, Geliefde broer. Jou beloning sal jy kry, maar jy moet dit deel met my broerskind, of die ongeluk sal jou ry." 

Met dié woorde verdwyn die spook.

Dieselfde nag nog het ek die oorblyfsels van die spook se beendere uitgegrawe, net daar waar hy gedraai het. Dit was maar 'n paar beenskerwe en twee verslete, halfverrotte leerstewels. By die kerkhof in Heidelberg het ek gou die houtkruis gevind en begin grawe. Ek was baie bang - ek was immers besig om grafskending te pleeg, maar die belofte van 'n beloning het my aangespoor. Nee, eintlik was dit nie die enigste rede nie. Die bondeltjie bene het my hartseer gemaak - oor die oorlog en oor my mense. Dit het 'n saak van eer geword om die spook se wens uit te voer.

Ek het die kis gevind en die deksel oopforseer. Binne het hy gelê, 'n halwe geraamte en die oorblyfsels van 'n tabaksak. Ek het die spook se bene versigtig in die kis neergelê. Toe ek die tabaksak skuif, sien ek 'n brief uitsteek. My hart het skielik vinniger geklop terwyl ek dit versigtig oopgevou het - dit was al geel en bros van die ouderdom.

My naam is Christiaan van der Heever. Ek en my broer, Pieter, is op pad om by die Heidelberg-kommando aan te sluit. Ek het my kissie goue ponde begrawe onder die middelste bloekom van die drie wat by die Nigel-stasie staan. As ek die oorlos nie oorleef nie, laat ek die kissie ponde na aan my broer, Pieter, se babadogtertjie, Miemie. God behoed ons en ons dierbare Vaderland.

Ek het die brief versigtig toegevou en teruggesit, die kis toegemaak en die graf toegegooi. Toe het ek 'n paar veldblomme vir die graf gaan pluk.

Ek het vir 'n paar dae lank gehuiwer, diep gedink voordat ek die kissie met goue ponde gaan soek het. Iemand het van die anderkant die graf met my gepraat en teen dié tyd het Christiaan van der Heever vir my gevoel soos 'n ou bekende, 'n vriend. Uiteindelik kon ek genoeg moed bymekaar skraap om die kissie te gaan soek, en ek het dit gekry presies op die plek wat in die brief aangedui is. Die inhoud daarvan het my asem weggeslaan: daar was genoeg goue ponde om my lewenspad vir altyd te verander. Tot vandag toe versorg ek die graf, en die woorde op die kruis het ek verander om te lees:

Christiaan van der Heever
Geliefde broer
Gesneuwelde vriend en weldoener           

Die mynspook het nooit weer geloop nie.

"Oupa," het ons gevra, "Wat het geword van die broerskind, Miemie? Het jy ooit die skat met haar gedeel?" Oupa het aan sy pyp gesuig en sag na ouma gekyk.
"Vra vir ouma Miems."

Kristina Krohn

[Taalgenoot- September 2002]