Friday 7 June 2024

Terugblik: As ek was ...

Het jy al ooit gedink wat jy sou doen as jy 'n openbare figuur of selfs voorwerp, ag as jy sommer enigeiets anders as jyself sou wees?

Eben de Jager skerts oor die lewe as hy sê:
  • As ek 'n engel was, sou ek al die slegte mense besoek en aan hulle vertel wat hulle moet doen om te kom waar ek is.
  • As ek 'n professor was, sou ek net die dommes leer, want die slimmes kan vir hulself sorg.
  • As ek 'n by was, sou ek my angel in ander mense se sake gesteek het. 
  • As ek maar Anneline Kriel was, dan was dit nie meer nodig dat ek haar so hoef te bewonder nie.
  • As ek goud was, maar ek was nie geld werd nie, dan was g'n geld goud werd nie.
  • As my van Niewoudt was, het ek voorwaar my naam verander na Kubus.
  • As ek Harry Oppenheimer was, ai ek wens ek was ...
  • Koos van der Merwe? Dit sou ek nooit kon wees nie, want indien dit my naam was, was dit lankal verander.
  • As ek 'n onderwyser was, sou ek na ander wys.
  • As ek 'n visserman was, vang ek net dié visse wat ander laat wegkom.
  • Was ek 'n landdros, dan dros ek saam met die drosters.
  • As ek 'n president was, sou ek seker wens ek was nie!
  • As 'n lid van die vrouegeslag was, dan was ek die leidster van Womens Lib.
  • As ek Jan van Riebeeck was, het ek nog steeds in Tafelbaai geland.
  • Was ek 'n Voortrekker, dan het ek teruggetrek.
  • As ek 'n baas was, sou slim my gevang het.
  • As ek Langenhoven was, dan was al die eerbetoon te laat.
  • As ek 'n dokter was, het ek seker self gewonder wat my makeer.
  • Was ek 'n predikant, dan was ek aan die regte kant.
  • Was ek 'n rugbyspeler, sou ek soms die skeidsregter wou afstuur.
  • As ek 'n huurmotor was, sou mense in my sit, op my sit en my besit.
  • As ek 'n vorm was, wat ingevul moes word, dan het ek my pensioen by die staatskantoor getrek.
  • Was ek 'n spook ... dan sou ek seker in spoke moes glo!
  • As my van Botha was, ag, dan stig ek sommer my eie parlement!
  • As ek Tarzan was, het mense nog steeds gedink ek is 'n groot aap.
  • As ek 'n Skot was, kon my vrou my rokke dra.
  • As ek die son was, dan was ek seker al onder.
  • As ek 'n berg was, sou ek wonder wie het die molshoop so verander.
  • Was ek die Ontvanger van Inkomste, dan was mý leuse: dis beter om te gee as om te ontvang.
  • As ek die minister van finansies was, wonder ek of my eie maandelikse begroting sou klop.
  • Was ek 'n goeie atleet, sou ek ten minste vir my vrou kon weghol!
  • As ek 'n skaap was ... daar's mense wat dink ek is!
  • As ek 'n bottel tien-jaar-oud-brandewyn was, gits ek sou nie juis ouer word nie!
  • As ek 'n druiwekorrel was, sou mense my dalk as 'n alkoholis kon bestempel?
  • En nou ja, as ek 'n onnosele nikswerd, idioot was dan ... dan sou ek net aanhou om te doen wat ek nou doen.
Bron: Die Taalgenoot * September 1985 * Eben de Jager 

No comments:

Post a Comment