Saturday 29 June 2024

Saterdaglagmedisyne

Die vyfjarige John-Henry kuier by sy oupa en ouma. Hierdie is sy laaste jaar voordat hy skool toe gaan en ouma kon sy pa se arm draai dat hy vir 3 weke by hulle kan gaan kuier, al is dit nie skoolvakansie nie. Sy twee boeties is besig met eksamen, so hierdie is 'n dubbelvakansie. Hy hoef nie saggies te praat, saggies te loop en saggies TV te kyk nie, want by ouma-hulle is daar niemand wat stilte nodig het om te studeer nie.

Na 'n lang en besige dag saam met oupa in die vrugteboord, kom John-Henry by die kombuis ingehardloop en kla dat hy pyn op sy maag het.

Sy ouma lag: "Dit is omdat daar niks binne-in is nie. Kom eet gou jou middagete dat jy beter kan voel."

'n Paar minute later kom oupa die kombuis ingestap en terwyl hy sy hoed afhaal, kla hy dat hy 'n hoofpyn het.

John-Henry lag, want hy ken die antwoord: "Oupa, dit is omdat daar niks binne-in is nie!"

No comments:

Post a Comment