In ons gemeente kry gemeentelede een keer per maand die geleentheid om 'n kersie te laat aansteek.
Die lang ry kersies op die preekstoel is daar om voorbidding te doen of dankie te sê. Oor die jare heen is daar kersies vir 'n verskeidenheid beproewinge aangesteek. Tussen al die kersies is daar een wat herhaaldelik aangesteek word - 'n gebed vir reën.
Aangesien reën in ons streek skaars is, is daar meer geleentheid om daarvoor te bid as om dankie te sê vir dit wat wel geval het.
Nog 'n gebruik wat ons gemeente kenmerk, is die dankofferdiens wat die eerste Sondag in November gehou word.
Die meeste motors word tuis gelos en lidmate stap kerk toe, koevertjie in die hand.
Die oggenddiens word in die ope lug op die gras gehou. Gemeentelede kuier gesellig saam en die dankbaarheid in die atmosfeer kan oor 'n afstand aangevoel word.
Die koevertjies en stapskoene vir dié jaar se dankofferdiens is betyds reggesit.
Maar die oggend van die dankofferfees kon die meeste lidmate nie kerk toe stap nie.
Nie omdat hulle siek of swak of laat was nie, maar omdat dit die vorige twee dae gereën het en die belofte van meer reën swaar in die lug gehang het.
Die dankofferfees is vanjaar in die kerkgebou gehou, maar met 'n gevoel van groter dankbaarheid as voorheen. Al die gebede wat vir reën opgegaan het, is verhoor. En daar is geen groter dankbaarheid as vir dié ongelooflike seën nie.
[Dankie vir Anoniem wat die uitknipsel gestuur het. Besoek gerus Netwerk24 (Noordkaap Bulletin) se gereelde rubrieke - daar is baie stof tot nadenke in hierdie rubrieke.]
No comments:
Post a Comment