In jou twintigs is dertigs soos ’n berg voor jou, want dan voel dit of alles jou laaste kans is (vir vrouens wat nog nie getroud is nie, beteken dit jy gaan moontlik op die rak bly en was die etiket van oujongnooi om jou nek gehang.) Gedurende die jare word alles gedryf deur hormone - doen eers en dink later. Dit is woeste jare wat baie letsels kan laat agterbly vir die onverskilliges onder ons ... Miskien die waaghalsiges ook ... Dis die jare van alles probeer - been there, done that.
In jou dertigs besef jy dié ouderdomstydgleuf is nie so sleg nie, want alles raak gevestig en daar is meer standvastigheid. Die gejaag van die twintigs is besig om te bedaar en plek te maak vir meer kalmte. Maar saam met die kalmte is daar ook soms stormwolke op die horison, veral wanneer die paartjie so tien jaar getroud is. Dis opmerklik hoe baie huweliksprobleme ontstaan wanneer mense so sewe of tien jaar getroud is en hoeveel van hulle nie die storm kan oorleef nie. Daar is seker ’n paar faktore soos die kinders wat gebore is, verg aanpassings in die verhouding. Die slypwerk aan mekaar begin in alle erns, veral met kinders in die prentjie en die druk om ’n suksesvolle loopbaan te vestig. Die verlange na die vryheid van die ongetroude lewe sonder verantwoordelikhede speel ook ’n belangrike rol, want die gevoel kan ontstaan dat dit nou of nooit is - nou om uit te klim of om vir die res van jou lewe aan die verhouding te werk. En daar is dikwels in so 'n verhouding een wat meer verantwoordelik as die ander een is en dan word die druppende kraan waarvan ons in die Bybel lees eerstehands ervaar.
Veertigs raak amper weer ’n nagmerrie, amper soortgelyk aan die twintigs met die verskil - die twintigs wil alles doen voordat hulle rustig raak en begin settle, die veertigs wil alles weer probeer doen voordat hul dood of oor die wal is. Die veertigs word ook gedryf deur hormone - met die verskil - hul laaste stuiptrekkings wat dit veroorsaak. In die tyd is daar ook baie wat hul vryheid soek, want hulle verlang na wat hulle nie kon bereik of vind nie. Die ironie is dat sodra hulle die vryheid het om te gaan soek dan besef hulle dit was net ’n mirage wat hul najaag en dit wat hulle vang is slegs die wind wat niemand kan vashou nie. Dis ook ’n baie selfsugtige tyd want mense dink net aan hom- of haarself en glad nie aan die wederhelfte of die gesin nie.
Die jare word geken deur EK - ek wil hê, ek wil doen, ek wil ...
Die vyftigs raak weer rustig, daar is ’n kalmte en fokus wat saam met die jare kom. (Die op en af van jou ouderdomsgrafiek, is soortgelyk aan jou hart se grafiek.) Jy weet wie en wat jy is en jy begin vrede te maak met jou eie tekortkominge. In die huwelik het die meeste slypwerk reeds plaasgevind en die twee klippies lyk al amper dieselfde. Dis net so nou en dan wat daar ’n sandkorreltjie of wat in die mengsel inkom en so 'n effense growwigheid veroorsaak, maar die twee gladde klippe rol die sandkorreltjie gou fyn. Daar is ook ’n groter klem op die geestelike welsyn as op die materiële.
Die besef is gevestig, ... ek is oor die helfte van my lewe ..., die jare wat oorbly is hoogs waarskynlik minder as dit wat verby is. ’n Brandende behoefte begin in die hart te ontstaan om God beter te leer ken, om Sy wil op te soek, ... om reg te maak vir die onvermydelike en my deel vir die kerk te doen.
Hierdie jare, soos wat baie ook verwys na die goue jare kan voorwaar goue jare wees as jy bereid is om te luister na die Stem van die Almagtige wat voortdurend roep en daarna smag om saam met jou maaltyd te kom hou. Daar is ’n diepe besef dat ons soveel jare verspil het om die materiële na te jaag en dat ons ons Hemelse Vader afgeskeep het. Waar sou ons al in ons geestelike groei nie gestaan het as ons die soeke al jare gelede begin het nie. Vyftig plus jaar is 'n lang tyd.
Ons het onsself te kort gedoen aan die mees wonderlike seëninge wat daar op ons gewag het, al wat ons moes doen was om te vra en te dien. Ons het kosbare jare verspeel.
Daar is soveel mense wat kla oor die ouderdom en dat hulle nie oud wil word nie, hulle kla oor die skete en kwale wat daarmee saamgaan. Hulle is ongelukkig omdat hulle nie meer so lekker kan sien nie of ook nie meer so goed kan hoor nie, in plaas daarvan dat hulle dink hoe geseënd was hulle om vir 60 jaar goed te kon sien en maklik te kon loop - seëninge wat ons aanvaar het terwyl ons deur die eerste 50 of 60 jaar van ons lewe gehardloop het by wyse van spreke.
Hoekom dank ons nie eerder Vader vir die wonderlike geleentheid dat ons die goue jare kan beleef nie, dat ons ’n tyd ingaan wat daar vir ons geleentheid is om reg te maak voor dit te laat is?
Hoeveel sou die een wat voortydig gesterf het, nie gee vir net een dag ekstra om die saak met God reg te maak nie?
Wees dankbaar vir die ouderdom want dit is aan jou geskenk, elke dag is ’n geleentheid om tot Vader te keer, moenie die tyd wat daar nog is, verspil met die wêreldse dinge en klagtes nie. Min kinders wil oud word as hulle na die voorbeeld kyk wat die bejaarde dikwels projekteer.
Daar is ’n gesegde: Met grysheid kom wysheid. Maar dit is nie in alle gevalle waar nie, maar die dankbare gryses het altyd wysheid.
Laat ons vandag in die dankbaarheid leef dat die ouderdom 'n genadegawe is wat nie almal beskore is nie en dat ons meer bevoorreg as baie ander is wat nie die kans het om hulle Ewigheidsaak reg te maak nie.
Dis nie aldag maklik om die ouderdom te hanteeer nie, maar ons kon die voortvarendheid en onbekendheid van ons vroeër jare beleef, die finansiële onstabiliteit, ons kon ons tieners se nukke en grille oorleef, waarom verkies ons om dan in ons goue jare in 'n hoek te gaan sit en te kla?
Die probleem lê nie by sit nie, maar wel by kla ...
No comments:
Post a Comment