Showing posts with label Twyfelhoekie. Show all posts
Showing posts with label Twyfelhoekie. Show all posts

Friday, 13 September 2024

Terugflits: Bly by die hoofsaak

Indien 'n mens wil, kan 'n mens darem baie by ander mense leer. Eintlik het elke mens soveel dinge om ander mense te leer. 

Ons dink nie altyd ons kan by almal iets leer nie, maar ons kan.

Ouers kan by hul kinders leer en kinders by hul ouers, 'n werkgewer by 'n werknemer, kollegas by die werk van mekaar en rykes by armes en armes by rykes, jong mense by ou mense en ou mense by jong mense.

Vandag vertel ek van iemand by wie ek 'n baie belangrike lewenswysheid geleer het. Om dit te kon leer was een ding; om dit prakties toe te pas, was iets heeltemal anders.

Vandag nog herinner ek my by herhaling aan 'n lewensles wat 'n saak heeltemal kan omgooi. Hy is 'n direkteur van maatskappye, 'n belangrike en vername man, sy hele lewe is 'n geslinger van vergadering tot vergadering - sy dag bestaan uit die deurwerk van agendas, die een ná die ander.

'n Nederige mens met 'n nugtere uitkyk op die lewe. Tog sal hy een sinnetjie gereeld herhaal. Op vergaderings, buite vergaderings, wanneer hy kuier of wanneer hy werk.

Een saak staan vir hom bo al die ander sake uit. Hy leer dit ook vir ander mense. Hy het dit vir my geleer.

Die hoofsaak van die hoofsaak is om by die hoofsaak te bly

Dit klink so belaglik. Tog is dit so wesenlik. Ons maak in gesprekke so baie Rooikappie-afdraaipaadjies op vergaderings, in die lewe, in ons besluite en in ons denke. Ons kan dit maar leer en onthou en leef. Bly by die hoofsaak van die hoofsaak.

Moenie jou laat mislei deur allerhande afdraaipaadjies nie.

Dit maak jou net deurmekaar en bemoeilik sake.

Of dit nou in jou lewe is en of dit op 'n vergadering is, of jy groot besluite moet neem of sommer kleintjies. Bly by die hoofsaak. Moenie fokus verloor nie, want deur nie te fokus nie, verloor jy tyd en vergeet jy waaroor dit gaan. So eenvoudig: Bly by die hoofsaak van die hoofsaak.

[Noordkaap - Twyfelhoekie - Hannes Noëth]

Friday, 23 August 2024

Terugflits: As teerpad grondpad word

Ek het die voorreg om by mense te gaan kuier wat ek baie jare laas gesien het. 'n Mens sien mos altyd vreeslik baie uit na so 'n kuier - daar is so 'n opwinding in 'n mens - jy kan nie wag om daar te kom nie.

Hulle bly in die middel van 'n plattelandse dorpie. Nooit moeilik gewees om daar uit te kom nie.

Die besoek is egter 'n uitdaging: Waar ek altyd maklik sommer in 'n teerpad afgedraai het, tot daar is die teerpad opgelig.

Skielik ry jy in die middel van 'n dorpie - waar voorheen 'n baie belangrike teerpad was - op 'n grondpad tot by hulle huis. Hoe vreemd is dit?

Swak instandhouding en wanbestuur het ook in daardie dorp sy spoor gelaat. Die slaggate het ál meer geword, instandhouding al hoe moeiliker, die infrastruktuur het verval, en, werklikwaar, 'n teerpad het 'n grondpad geword.

Die pad was in so 'n toestand dat dit goedkoper geword het om die hele teerpad op te lig. Hoe skokkend is sulke agteruitgang. Ek wonder hoe gebeur dit dat 'n teerpad 'n grondpad word? Waar vooruitgang is, verwag 'n mens tog eerder alle grondpaaie sal mettertyd teerpaaie word - maar daar is 'n teorie en 'n praktyk. 

Soms werk dinge andersom. Dit is eers toe ons deur Klerksdorp ry, verby iemand wat vir daaglikse brood vra, dat die hardheid van die lewe my tref.

Daar by die verkeerslig vra sy haar daaglikse brood - en een van my kinders maak 'n opmerking: "Die tannie se teerpad het ook 'n grondpad geword."

Die lewe is nie veronderstel om so uit te loop nie. Die lewe se draaie is nie altyd maklik nie, dit is nie altyd sag nie, dit is nie altyd vordering en beter as gister nie.

Soms versleg dinge, soms word ook by ons 'n teerpad 'n grondpad.

Die redes hoekom 'n teerpad soms 'n grondpad word, is legio. Partykeer is dit eie skuld, partykeer is dit omstandighede, partykeer is dit 'n sameloop van omstandighede.

Hou moed, daar is altyd weer 'n teerpad voor.

[Bron: Noordkaap Bulletin - Twyfelhoekie - Hannes Noëth]

Friday, 2 August 2024

Vrydag-terugflits: Groen hout kosbaar

Hierdie tyd van die jaar is dit tyd vir aanstellings doen. 

Die afgelope twee weke slinger ek van die een onderhoud na die ander met die oog op aanstellings.

Wat my elke keer opval ná 'n sarsie onderhoude is die gesprek oor wat kies ons nou: Leer ons jong talent of kies 'n mens iemand met ervaring?

Ervaring kan nie gekoop of oornag aangeleer word nie, daarom wen ervaring in die meeste gevalle.

Hoe wonderlik die heel laaste onderhoud waar ek was.

Een van die skole waarvoor ons raadgewend optree, het 'n vrou wat 'n ewigheid en 'n dag in die betrokke pos was.

Nadat almal in die paneel, 'n hele groep van sewe, hulle uitgespreek het oor hoekom ervaring gekies moet word bo 'n jong talent wat alles nog moet aanleer, begin die vrou met haar waardevolle mening.

Sy hanteer dit soos volg: Geagte paneel, ek sit en luister na jul mening oor elkeen wat ons nou te woord gestaan het. Wonderlike mense met wonderlike CV's. Elkeen anders en elkeen uniek. Ons kies nie vir hulle in persoon nie en ons kies nie teen hulle in persoon nie. Ons soek iemand wat pas in 'n bepaalde pakkie, ons pakkie.

"Ek merk dat julle baie praat oor ervaring. Ervaring is kosbaar en ervaring is wonderlik. Maar ek is vandag dankbaar vir groen hout. Groen hout wat nog nie deur die meule van die lewe is nie, goen hout wat nog kan leer."

"Ek is dankbaar dat ons ook kon gesels met hulle wat nog moet groei en nog moet leer, wat nog moet vorm. Hulle wat nog idealisties is en dink hulle weet alles en kan alles, terwyl ons weet hulle kan nie alles nie en weet nie alles nie."

"Hoekom is julle bang vir die groen hout? Hoekom gee ons nie die groen hout in ons samelewing 'n kans nie? Ons kritiseer hulle, vrees hul tydsgees, bewonder hul andersheid, maar ons is te bang om hulle te laat groei onder ons en by ons. Ek kies vandag die groen hout. Ek is danbaar vir groen hout wat nog daar is."

Treffend, né?  

[Bron: Noordkaap - Twyfelhoekie - Hannes Nöeth]

Friday, 10 May 2024

... begin net

Hannes skryf van die man wat duim gegooi het en wat hy in die truspieëltjie dopgehou het. Indien 'n motor van daardie kant af kom, staan hy daardie kant en duimgooi en as daar 'n motor van die ander kant af kom, gaan staan hy weer daardie kant. Jy kan tog nie in al twee rigtings op pad wees nie. 

So, toe hy weer sy duim uithou vir die aankomende voertuig na regs en ek links in die pad indraai, vra ek hom: "Watter kant toe gaan jy nou eintlik?"

Hy antwoord ewe plegtig""Dit maak nie eintlik saak waarheen nie, Meneer, solank ek net hier wegkom."

Hy kon seker my verbasing sien, want voordat ek nog iets kan vra, antwoord hy self verder: "As die karre dié kant kom, gaan ek dié kant toe, as die karre daai kant kom, gaan ek daai kant toe, maar Meneer sien, as ek net dié kant toe of net daai kant toe gaan, staan ek vanaand nog hier."

Hy het geleer om iewers te kom, moet hy net eers wegkom van waar hy nou is. Dit kan beteken dat hy soms na twee kante toe moet kyk en duimry. Kyk hy net een kant toe, sit hy vanaand nog daar.

Nogal 'n interessante uitkyk hierdie van hom. Soms is 'n mens spesifiek op pad iewers heen, dan het jou lewe sin en loop jy doelgerig. Ander kere is die rigting soms 'n bietjie vaag en jy so 'n bietjie onseker. Dan is dit dalk 'n goeie ding om nie net te sit nie, maar net te begin beweeg. Soms weet 'n mens nie watter kant toe nie, moenie sit en wag nie, begin net iets doen.

Begin net.

[Bron: Noordkaap - Twyfelhoekie - Hannes Noëth - 10 Julie 2013 - gaan lees gerus die hele artikel op die internet.]

Thursday, 2 May 2024

Kniedruppels vir seer hart

Kinders kan vir ouers tot groot seën wees. Kinders kan egter ook ouers se grootste bron van kommer wees. 

Soms het jy vir 'n kind alles gedoen wat jy moes en kon en dan maak hulle nog net soos hulle wil wanneer hulle wil. 

Ek praat nou nie van jong kinders in die huis nie, ek praat van kinders wat al uit die huis is.

Die grootste vreugde by mene het ek oor die lewe van hulle kinders gesien. Die grootste hartseer het ek by mense oor die lewenswyse van hul volwasse kinders gesien.

Daardie fase wat hulle nie meer vir jou hoef te luister nie, jou nie glo in wat reg of verkeerd is nie en in elk geval ook nie juis veel omgee wat reg en verkeerd is nie. Daardie fase wat jy weet en sien en besef jou kind is besig om droog te maak en dit is net hy of sy wat dit nie sien nie - verder weet almal dit.

Dit is tydens so 'n hartseer-oomblik in 'n gesin se lewe dat ek hulle vra hoe hanteer hulle die seer wat hul kinders oor hulle bring.

Dit is nie die pa of ma wat antwoord nie. Dit is die ouma van 86 wat by hulle bly. "Ons gebruik kniedruppels, Dominee, kniedruppels."

Sy verduidelik so mooi: Wanneer jou oë seer is, gebruik jy oogdruppels, vir 'n oor oordruppels, vir elke liewe ding is daar 'n druppel of 'n pil. Vir 'n moeilike kind is daar net een ding wat help - kniedruppels.

Jy bid jou knieë vir hulle deur. Jy glo en vertrou dat daar uitkoms sal kom.

Soms kom daar. Soms nie. Soms moet hulle eers hul kop hard stamp.

Maar kniedruppels is wonderlik. Hierdie kniedruppels het vier voordele. Tannie Meraai verduidelik hulle een vir een: Jy hoef nie die vrag alleen te dra nie. Jy vind troos daarin dat die kind se lewe nie in jou of sy hand is nie. Daar kom hoop en geloof in jou los dat dinge tog sal verander. Dit laat jou huil voor Iemand wat verstaan. 

[Bron: Noordkaap - Twyfelhoekie - Hannes Noëth]

Tuesday, 22 August 2023

Twyfelhoekie: Moet nooit ophou opstaan nie

In elke mens se lewe kom daar fases van heel bo leef - op die top en kruin van jou lewe - en fases van heel onder wees - plat op jou maag en teen die bokskryt.

Een van die grootste uitdagings is sekerlik om te kom waar jy eens was, of selfs beter af te wees as waar jy was. Maar die geheim is om dit te bly glo. Bly hoop en vashou aan die wete dat jy weer sal kom waar jy was.

Hoe lank jy plat op die grond lê, word egter deur karakter bepaal. Sommiges lê lewenslank nadat hulle platgeslaan is. Ander kan dadelik weer opstaan. Wie jy ook al is, en wat die omstandighede ook al is, 'n mens kom weer op die punt waar jy was - selfs nog beter. Aan daardie stukkie hoop moet 'n mens vashou. Jy moet dit koester en laat groei.

Mense praat soms van hul tweede lewe, hul derde geleentheid, hul vorige krisis of hul ergste beproewing.

Deur dié dinge moet 'n mens altyd jou karakter wys en vorentoe beur. Dit is nie altyd ewe maklik of ewe gerieflik nie, maar om plat op die grond te bly lê, gaan jou niks help nie.

In tye van voorspoed beur 'n mens dankbaar vorentoe en in tye van teëspoed, dra 'n mens geduldig vorentoe - maar nooit mag 'n mens ophou vertrou nie. Nooit mag 'n mens ophou opstaan nie.

Reg voor my kantoorvenster hardloop twee seuntjies kaplaks in mekaar vas. Ek wag vir trane. Niks. Hulle lag, spring op en besluit om dit weer te doen. Kaplaks. Val weer en staan weer op. Dit is nie nodig om te bly lê nie.

Noordkaap 9 Augustus 2017 bl.4 - Hannes Noëth

[Dankie, Anoniem wat die uitknipsel gestuur het. Besoek gerus Netwerk24 (Noordkaap Bulletin) se gereelde rubrieke - daar is baie stof tot nadenke in hierdie rubrieke.]

Wednesday, 17 May 2023

Perspektief die verskil

Haar kostelike vierjarige uitkyk op hierdie saak het my net weer laat besef dat die lewe eintlik in wese 'n saak van perspektief is.

Sy word groot in die stad. In haar bestaan van vier jaar, ken sy net die stadslewe - 'n vinnige Gauteng-lewenstyl - en het sy reeds 'n bepaalde manier van dink. So, wanneer sy die vakansie by ouma en oupa op die plaas kuier, beleef sy soms dinge wat by ander sal verbygaan.

So het ek al vertel dat sy graag na die voëltjies sit en luister omdat sy hulle nie meer in die stad hoor nie. Desembervakansie kuier sy soos gewoonlik by oupa en ouma. Vandag gaan hulle dorp toe. Lysies word gemaak, beplanning word gedoen. Soos dikwels op die platteland is Vrydag almal se inkopiedag.

Op so 'n dorp-toe-gaan-dag is die dorp 'n bedrywigheid. Vir ons wat grootword op klein dorpies is 'n donkiekarretjie nie iets vreemds nie. Dit is ook dié eienaar se inkopiedag.

Met die sien van die donkiekarretjie het die wêreld vir haar gaan stilstaan. Sy gaan roep almal. Hulle moet dadelik kom kyk. Almal moet stilstaan. Almal moet sien: "Daar kom 'n koets! 'n Rêrige-êrige koets!" Vir die man wie se voertuig dit is, is dit sekerlik sy koets. Vir ons wat al 'n voertuig gehad het, kan ons moeilik daarna kyk as die gerief van 'n koets.

Vir haar wat vier jaar oud is, is daar net een werklikheid. Hierdie is 'n rêrige koets. Sy kan nie verstaan hoekom hy al die groot dorpe misry en hier kom rondry nie. Haar ma moet dadelik gebel word, haar boetie en sussie moet ingelig word. Hier, vandag, het sy 'n rêrige koets gesien.

Die lewe is 'n saak van perspektief, né? Ek hoop die donkiekarretjies in jou lewe is nog vir jou 'n koets.

[Ds. Hannes Noëth]