Friday 2 August 2024

Vrydag-terugflits: Groen hout kosbaar

Hierdie tyd van die jaar is dit tyd vir aanstellings doen. 

Die afgelope twee weke slinger ek van die een onderhoud na die ander met die oog op aanstellings.

Wat my elke keer opval ná 'n sarsie onderhoude is die gesprek oor wat kies ons nou: Leer ons jong talent of kies 'n mens iemand met ervaring?

Ervaring kan nie gekoop of oornag aangeleer word nie, daarom wen ervaring in die meeste gevalle.

Hoe wonderlik die heel laaste onderhoud waar ek was.

Een van die skole waarvoor ons raadgewend optree, het 'n vrou wat 'n ewigheid en 'n dag in die betrokke pos was.

Nadat almal in die paneel, 'n hele groep van sewe, hulle uitgespreek het oor hoekom ervaring gekies moet word bo 'n jong talent wat alles nog moet aanleer, begin die vrou met haar waardevolle mening.

Sy hanteer dit soos volg: Geagte paneel, ek sit en luister na jul mening oor elkeen wat ons nou te woord gestaan het. Wonderlike mense met wonderlike CV's. Elkeen anders en elkeen uniek. Ons kies nie vir hulle in persoon nie en ons kies nie teen hulle in persoon nie. Ons soek iemand wat pas in 'n bepaalde pakkie, ons pakkie.

"Ek merk dat julle baie praat oor ervaring. Ervaring is kosbaar en ervaring is wonderlik. Maar ek is vandag dankbaar vir groen hout. Groen hout wat nog nie deur die meule van die lewe is nie, goen hout wat nog kan leer."

"Ek is dankbaar dat ons ook kon gesels met hulle wat nog moet groei en nog moet leer, wat nog moet vorm. Hulle wat nog idealisties is en dink hulle weet alles en kan alles, terwyl ons weet hulle kan nie alles nie en weet nie alles nie."

"Hoekom is julle bang vir die groen hout? Hoekom gee ons nie die groen hout in ons samelewing 'n kans nie? Ons kritiseer hulle, vrees hul tydsgees, bewonder hul andersheid, maar ons is te bang om hulle te laat groei onder ons en by ons. Ek kies vandag die groen hout. Ek is danbaar vir groen hout wat nog daar is."

Treffend, né?  

[Bron: Noordkaap - Twyfelhoekie - Hannes Nöeth]

No comments:

Post a Comment