Friday 16 August 2024

Terugflitsflentertjie: Slaap uit Big Ben se oë gevee

Londen - Nie enige hierjy kan sommer 'n 143-jarige reus sy vyfjaarlikse gesigwas gee nie. Spesiale "klim-tegnici" wat gewoonlik op oliebore werk, is ingeroep om die slaap uit Big Ben se oë te vee.

Gelukkig het hulle geen voël- of dou-skade in die ou grote se glasgesig aangetref nie.

"Net een of twee glasbarsies en dit sal herstel word," het mnr. Mike McCann, klokwagter, gesê.

Besoekers vergaap hulle die week kop agteroor aan die skoonmakers wat soos vlieë in Big Ben se 7,5 m breë gesig koes-koes uit die pad van sy 4,25 m lange minuutwyser bly.

Min mense weet van die Suid-Afrikaanse boeties van Big Ben, eintlik die naam van die 14 ton-klok in die St Stephen-toring.

Me. Joan Abrahams van Suid-Afrika, 'n kenner van oorlogstradisies, is in Londen vir die oorhandiging van haar boek, A Two Minute Silent Pause to Remember, oor die jaarlikse wêreldwye tweeminutestilte vir oorlogslagoffers, wat op 11 November om 11:00 deur Big Ben se eerste klokslag ingelui word.

Abrahams sê die enigste ander horlosie wat deur Lord Grimthorpe, ontwerper van Big Ben se horlosie, gebou is, is dié van die Kaapstadse stadsaal.

[Bron: Klasgids 37:1, Februarie 2002, bl. 26]

No comments:

Post a Comment