Ek het die voorreg om by mense te gaan kuier wat ek baie jare laas gesien het. 'n Mens sien mos altyd vreeslik baie uit na so 'n kuier - daar is so 'n opwinding in 'n mens - jy kan nie wag om daar te kom nie.
Hulle bly in die middel van 'n plattelandse dorpie. Nooit moeilik gewees om daar uit te kom nie.
Die besoek is egter 'n uitdaging: Waar ek altyd maklik sommer in 'n teerpad afgedraai het, tot daar is die teerpad opgelig.
Skielik ry jy in die middel van 'n dorpie - waar voorheen 'n baie belangrike teerpad was - op 'n grondpad tot by hulle huis. Hoe vreemd is dit?
Swak instandhouding en wanbestuur het ook in daardie dorp sy spoor gelaat. Die slaggate het ál meer geword, instandhouding al hoe moeiliker, die infrastruktuur het verval, en, werklikwaar, 'n teerpad het 'n grondpad geword.
Die pad was in so 'n toestand dat dit goedkoper geword het om die hele teerpad op te lig. Hoe skokkend is sulke agteruitgang. Ek wonder hoe gebeur dit dat 'n teerpad 'n grondpad word? Waar vooruitgang is, verwag 'n mens tog eerder alle grondpaaie sal mettertyd teerpaaie word - maar daar is 'n teorie en 'n praktyk.
Soms werk dinge andersom. Dit is eers toe ons deur Klerksdorp ry, verby iemand wat vir daaglikse brood vra, dat die hardheid van die lewe my tref.
Daar by die verkeerslig vra sy haar daaglikse brood - en een van my kinders maak 'n opmerking: "Die tannie se teerpad het ook 'n grondpad geword."
Die lewe is nie veronderstel om so uit te loop nie. Die lewe se draaie is nie altyd maklik nie, dit is nie altyd sag nie, dit is nie altyd vordering en beter as gister nie.
Soms versleg dinge, soms word ook by ons 'n teerpad 'n grondpad.
Die redes hoekom 'n teerpad soms 'n grondpad word, is legio. Partykeer is dit eie skuld, partykeer is dit omstandighede, partykeer is dit 'n sameloop van omstandighede.
Hou moed, daar is altyd weer 'n teerpad voor.
[Bron: Noordkaap Bulletin - Twyfelhoekie - Hannes Noëth]
No comments:
Post a Comment