Showing posts with label Vreugde. Show all posts
Showing posts with label Vreugde. Show all posts

Wednesday, 14 January 2026

Hartsake oor 'n koppie tee: Waaroms verander in daaroms

Is daar geluk - bewaar dit.
Is daar 'n kruis - aanvaar dit.
Is daar onreg - stel dit reg.
Is daar teenslae - hou aan veg.
Is daar vreugde - deel dit.
Is daar 'n breuk - heel dit.
Skenk iemand jou liefde - beleef dit.
Doen iemand jou leed - vergeef dit.
Het jy geloof - wys dit.
Is daar moed - prys dit.
En laat die wêreld daarvan weet.
As jy glo sal al die waaroms 
eenmaal verander in daaroms!

Friday, 1 August 2025

My plekkie in Sy hemelhuis

Om ouer te word is nie maklik nie. 

Jy is soveel meer broos en kwesbaar as jonger mense. Jy mis familie en vriende wat nie meer daar is nie, sommige in ouetehuise en ander reeds na die Vaderhuis. Daar is so baie wat jy nog wou doen, maar die krag, energie en tyd ontbreek - want jy word al meer bewus dat jou jare vorentoe nie meer so baie is soos “agtertoe” in die verlede nie. 

Jou liggaam raak broser en jou hart kwesbaarder. 

Talle goedjies begin pla, soos jou balans wat nie meer is soos wat dit behoort te wees nie. Jou visie en gehoor wat al hoe meer en meer verswak. Al hoe meer medisyne kom by jou medisynelysie en jou eersehulptassie word vol goedjies wat belowe om jou energie te gee. Jy raak meer bewus van jou alleenheid - en vir sommige mense van hul eensaamheid. Jy word nie meer na plekke saamgenooi nie en jy vra ook nie self nie, omdat jy dalk al een of twee keer afgejak is. 

Dis nie meer vir jou so lekker om in jonger groepe geselskappe te wees nie, want jy word al meer bewus dat mense in die geselskap verby jou of bo-oor jou kyk - jy is maar net daar, maar nie deel van die geselskap nie. Daar word vir iemand anders in die geselskap gevra hoe dit met jou gaan, in plaas daarvan om direk die vraag aan jou te vra. Wanneer jy by ‘n geselligheid is, kry almal soms geskenkies - maar die jonger garde vergeet of dink nie dis nodig dat jy ook enetjie kry nie. 

Trane vloei soveel makliker - trane van vreugde, verlange of hartseer, maar sakdoekies daarvoor is nie nodig nie, want die Heer vee dit self af  - wanneer Hy afbuk na jou en sy arms om jou vou en in die mooiste woorde verseker van Sy Ewige Liefde vir jou. En wanneer Hy saggies uit Sy Woord met jou praat en jou vertel dat Hy 'n plekkie gereed kry vir jou in Sy Hemelhuis, weet jy dat jy niks meer nodig het as hierdie Vader van jou nie! 

En nuwe lewensenergie soos ‘n vars waterval bruis skielik in jou en jy weet jy móét vir ander híérdie storie van jou en jou Hemelvader vertel! 

[Dankie, Valerie!]

Sunday, 8 June 2025

DANKIE! In hoofletters!!

 Ons sien uit na 'n volgende kuier!!

Wednesday, 25 December 2024

Vreugde van Kersfees

Gaan voort en deel die vreugde van Kersdag -
nie net op 25 Desember nie,
maar vanaf 1 Januarie tot 31 Desember ...
en elke dag daarna. 
Juis oor hierdie feit, wil ek aan een en elk
hierdie 25 Desember tonne vol saamwees toewens.
Lag, wees bly ... koester familie, geliefdes en vriende.
Maak kontak met die waarmee jy slegte gevoelens het,
dit is die beste tyd ooit om te vergewe. 
Onthou, dood is ons konstante metgesel,
en volgende jaar sit jy dalk met verwyte aan die etenstafel.
Vergifnis kos niks nie, 
in teenstelling met al die rande wat op geskenke spandeer is.

[Dankie, Estelle]

Sunday, 15 December 2024

Dankbaarheidsgebed

Here, ons dank U vir die lig van hoop wat in Jesus kom. Mag ons harte vol vreugde wees terwyl ons u belofte van verlossing vier. Help ons om hierdie tyd van voorbereiding te gebruik om na U uit te sien met verwagting en hoop. Amen.

Monday, 4 November 2024

'n Uit-die-hart-dankie!


Aan ons Saterdag-engele
Dankie vir julle omgee, uitreik, liefde en heerlike bederfies.
Ons sien uit na julle besoeke en waardeer julle kuiers!
Vreugde en seën vir julle!
Ons Huis-inwoners!!

Sunday, 21 April 2024

Klein dingetjies - groot vreugde

Soms het iemand 'n behoefte om na geluister te word. Dit kan jou tafelgenoot of jou buurvrou of een van die personeellede wees. Sien ons daardie behoefte raak? Dit is belangrik om met jou ore te luister - nie met jou ego nie en ook nie om hulle behoefte af te maak as minder belangrik nie.

Dis die klein dingetjies wat die meeste vreugde bring. Die opregte belangstelling in die mense om jou. Daar is soveel inwoners wat net bestaan - wat ophou lewe het - gaan sit by hulle, luister, reik uit.

As jy bevoorreg genoeg is om 'n klein tuintjie te het, begin jou week deur blomme te pluk vir jou kombuis- of kamer of iemand in die versorgingsafdeling.

Begin jou week met iets wat mooi is in die lewe. En skielik is 'n klein gebaartjie die rede van groot vreugde in iemand anders se lewe.

Friday, 23 February 2024

Hoe sal ek dankie sê?

Ek sal dankie sê met liefde,
en ek sal dankie sê met vreugde,
Ek sal dankie sê met wysheid,
en ek sal dankie sê met vrede.
Ek sal my dankie sing,
Ek sal my dankie uitspreek.
Ek sal my dankie uitroep.
Ek sal my dankie bid.
Ek sal my dankie met psalms sê,
Ek sal my dankie met liedere sê,
Ek sal my dankie met verbeelding sê,
en ek sal my dankie met entoesiasme gee.
Ek sal my dankies diep in mywese opgaar,
en dit bind in die ongebondenheid van God.
Hoe sal ek my dankbaarheid gee?
Ek sal my dankbaarheid LEWE!

[Dankie, Elmari,dat jy dit met ons deel.]

Friday, 1 September 2023

Lentedagversekering: Die Here is ...

my Padwyser as ek verdwaal,
my Leidsman wanneer ek antwoorde soek,
my Trooster as my hart wil breek,
my Vriend as mense en vriende my verlaat,
my Hemelse Geneesheer wanneer ek siek is,
my Krag as ek steiltes moet klim,
my Kragbron as my kragte begin kwyn,
my Moed as ek hoop begin verloor en bekommerd raak,
my Lig as dinge donker om my raak,
en my Vreugde as ongeluk my wil oorweldig,
my Anker as die vloed my mee wil sleur.

Monday, 2 September 2019

Wednesday, 24 January 2018