Verbygangers het eers vir ‘n wyle stil gaan staan om haar pragtige tuin te bewonder.
Eendag daag ‘n verslaggewer van die plaaslike koerant op, om met haar ‘n onderhoud te voer om te hoor wat sy dan doen dat haar tuin so uitstaan bo al die ander tuine in die dorpie.
En toe vertel sy dié storie vir die verslaggewer:
“Jare gelede, het die dorpsraad besluit om die dorp te verfraai en mooi te maak, maar om elke inwoner by die poging te betrek (amper soos Kwela se dorp van die jaar). Die Burgemeester het ons almal genooi om saad en toerusting te kom haal sodat ons die dorp se tuine en sypaadjies mooi kan maak.
Omdat ek moeilik loop, as gevolg van my skewe voet, het ek laaste daar aangekom en laaste in die ry ingeval.
Almal was gretig en het sommer baie vroeg voor die munisipale gebou gaan toustaan. Die ry was besonder lank en almal het gelyk gepraat oor wat hulle alles wil en gaan doen. Almal voor my het die beste pakkies saad uitgesoek en die mooiste gieters gevat. Of só het ek destyds gedink.
Toe ek uiteindelik voor by die tafel kom waar die saad was, was daar nog net ‘n paar pakkies saad oor (die meeste daarvan gehawend en stukkend soos die mense na die mooiste saad en duurste blombolle gesoek en gegryp het) en ‘n stukkende gietertjie. Die gietertjie was gebuig en vol gate, maar dit het vir my kosbaar en mooi geword met die jare.
Ek het al die saadjies wat ek bymekaar kon kry in my tuin kom saai en dit getrou natgegooi met die stukkende gietertjie. Ek het agtergekom dat die gietertjie vol gate soos ‘n spreier gewerk. Dit kon terselfdertyd op verskillende plekke natmaak. Daar het ook gereeld ‘n straaltjie op my skewe voet geval, wat tussen my tone gekielie het. Dit het my laat skaterlag en my gemoed positief vir die dag ingestel. Onwillekeurig het ek my tone begin beweeg van die tinteling en daar het weer lewe in my voet gekom. Daardie gietertjie se goeie dade het wyd gesprei.
Dit was dus ‘n seën dat ek die verskeidenheid saadjies gekry het en die beste gietertjie kon gekry het.”
Werk dit nie maar in die lewe ook so nie?
Werk dit nie maar in die lewe ook so nie?
Ons almal probeer altyd die mooiste en beste in alles kies en wees. Die regop gietertjies met perfekte tuitjies, sonder duikies of merkies. Ons moet mos altyd goed vertoon, ‘n mooi straaltjie kan gooi, sonder om onnodige druppels te mors, sekuur gemik op die teiken. Niemand van ons wil tog, uit eie keuse, ‘n gebuigde ou gietertjie vol gate wees nie.
Maar dis juis daardie gietertjies vol gate, wat wyer kan sprinkel as die perfekte gieters.
Jesus self, was vol gate gemaak, daar waar Hy aan die kruis vir ons gehang het. En deur daardie wonde kon Sy liefde wyd oor die mensdom vloei. Hy was liggaamlik geknak - nie meer heel nie. Hy moes stukkend word, sodat ons geestelik heel kon word.
Die lewe knak ons ook soms. Bitter min van ons kom ongeskonde anderkant uit. Maar dis juis dan wanneer ons meer bruikbaar word vir God en ander.
Want as jy vol ‘gate’ is, kan Sy liefde wat deur jou vloei (wat die bron van lewende water is) beter sprei oor ander, maar ook oor jou eie binne-tuin.
Die Here kies soms die mees gebuigde gietertjies, met die meeste gate, om groot dinge vir Hom te doen. Want hulle is nie meer so ingestel op hoe hulle lyk nie, maar net op hoé diensbaar hulle kan wees.
“Here, dankie dat U nie na ons uiterlike kyk, of na die verwonding van ons innerlike nie. Dankie dat U elke hart raaksien. Dat U liefde dit vir ons moontlik gemaak het om diensbaar te kan wees. Dankie dat U stukkend geword het, sodat ons heel kon word. Gee dat ons met trots U liefde wyd sal sprei oor ander en onsself. Gebruik my, stukkende gietertjie om vir ander lewende water te gee wanneer ek nie meer kan nie, want ek weet in my swakheid word U krag volbring. Amen"
[Dankie, Ann, vir die deel hiervan.]

No comments:
Post a Comment