Showing posts with label Siel. Show all posts
Showing posts with label Siel. Show all posts

Sunday, 21 January 2024

Ons woorde

Ons spoeg mekaar met hol klanke. Ons eet mekaar se woorde om ons onversadigbare siel se maag te vul.

'n Tweespraak is 'n ontmoeting gelei oor 'n brug van woorde - 'n intieme brug tussen twee, sonder slaggate of versperrings. So behoort dit te wees. Laat ons nie figurante of toneelspelers wees nie. Waarom moet ons woorde ons onverstaanbaar maak? Het ons dan vertalers nodig om deesdae met mekaar te praat? Jy praat altyd Grieks en ek Latyn, terwyl ons instemmend knik en glimlag asof ons dieselfde taal praat. Ons woorde is so vals soos ons harte.

So baie roggel waansinnig. So baie skreeu. Stiltes baar opstande en woorde brand geboue af. Ons woorde is ons skerms waaragter ons skuil. Hulle vorm die beeld wat ons wil voorgee ons is. Hulle is ons wapens. Hulle verkrag die skoonheid en verander ons moderne "fyn" samelewing in 'n spastiese dans. Die politieke leiers verskeur mekaar met woorde. Digters bring al die gal tot hulle beskikking aan ons oor. Intellektuele liberaliste, siek kunstenaars, ateïste en rigtinglose menigtes bring aan ons die boodskap van 'n dooie god. In hul woorde vind ons gemoed 'n sinnelose waarheid wat ons verder vereensaam en verwar.

Woorde wil alles tot simbole vereenvoudig. Selfs liefde staan vir iets.  

Deur ons woorde ontmoet ons mekaar en verloor ons mekaar. Deur ons woorde vermoor ons mekaar. Woorde is nie materie nie en tog is dit onvernietigbaar. Dit kronkel deur die nou strate van herinnering en sit aan by die tafels van verbeelding. Ons kan dit nie uitwis nie. Die pyn of geluk wat dit agterlaat, toon dikwels die voetspore van die woord. Nogtans speel ons met ons woorde soos roekelose kinders. Ons het geleer dat die wêreld rond is, die son kokend en die lewe 'n gedagte, maar ons het nog nie geleer om stil te bly nie. Woorde is vir mense bedoel wat weet wat om daarmee te maak en hoe en wanneer om dit te gebruik. kindertjies hoef nie te praat nie. Hulle kan lag of huil. Ons moet praat; ons met ons verlore onskuld; ons met ons maniere uit boeke. Wat het anders oorgebly vir ons?

Al die kringe wat ons geloop het, al die paaie wat ons gebou het, bring ons terug by ons onafwendbare afskeid. Ons is albei twee leë woorde. 'n Mens kan nie van woorde alleen lewe nie.

(Uit: Poort)

[Dankie vir die persoon wat hierdie naamlose skryfwerk in my poshokkie gesit het. Indien iemand hierdie skryfwerk herken, laat weet asb. sodat daar erkenning gegee kan word.]

Monday, 5 July 2021

Saturday, 23 May 2020

Die plek van liefde en lig ..

Elizma Steenkamp het 'n groepie mense toegespreek en haar boodskap is aangestuur sodat ons dit ook met Ons Huis se lesers kan deel. Haar onderwerp was: BE BRAVE - BODY, MIND  &  SOUL. 

Die belangrikste boodskap is dat ons moet hierdie tyd moet gebruik om stil te word. Ons moet in hierdie dae ’n geestelike reis onderneem na die plek waar jou liggaam, siel en gees mekaar ontmoet en waar jy in totale harmonie lewe. 'n Plek waar jy dapper genoeg is om die “stories” van skuld, angs, vrees, skande, woede en onvergenoegdheid uit jou kop te haal. Om buite jou kop te staan en in te kyk, al die negatiwiteit uit te werp en jouself te vul met God se waarheid van liefde en lig.

Die plek van liefde en lig waar jy elke dag opstaan en besluit dat die dag wonderlik gaan wees!

Die plek van liefde en lig waar jy vreesloos die einde kan sien waar jy wil wees.

Die plek waar jy goed doen aan ander, omdat jy kan.

Dié plek waar jy van jou slimpraatjies ontslae raak in ruil vir God se waarheid van liefde, lig en goedheid.

[Bron: Klik HIER vir verdere lees]

Monday, 2 September 2019