Showing posts with label Verhaal. Show all posts
Showing posts with label Verhaal. Show all posts

Friday, 8 August 2025

Verhaal: Skaduwees oor sy pad


Vir die eerste keer na 30 jaar kan hy oor sy lewe heen terugkyk sonder die ou bitter gevoel van verontregting. Die gevoel wat altyd 'n bitter smaak in sy mond gelaat het. Hy voel dankbaar teenoor almal wat vir hom lief en dierbaar is en wonder meteens waar hy sou gewees het as dit nie vir Sondag, 29 November 1959, was nie.  

Sy gedagtes is terug by sy kinderjare: kranige atleet, 'n baie goeie rugbyspeler, ja, hy was selfs rugbykaptein van die skool se eerste rugbyspan, maar sy akademie het ook nie agterweë gebly nie. Hy en Willem, sy grootste vriend, altyd om die eerste plek meegeding ... gesonde kompetisie, wat jou altyd op jou tone gehou het.

Na matriek is hy universiteit toe, waar hy hom as dokter sou bekwaam, 'n droom wat met keuring 'n werklikheid kon word. Tussen die ongelooflike volgepakte rooster, het hy nog tyd kon inruim om vir die universiteitspan uit te draf. Spoedig is hy vir die Springbokspan gekies. Dit was asof die dobbelsteen elke keer 'n 6 na sy kant toe gegooi het. Orals was hy suksesvol en toe die All Blacks in Suid-Afrika kom speel het, het hy die verrassende nuus van Springbokkaptein met sy ouers kon deel, minute voordat dit op die radio uitgesaai sou word.

Die nuusblaaie was vol foto's en berigte, maar spoedig het hierdie berigte en foto's van inhoud verander. Die dag voor die groot wedstryd was hy in 'n motorongeluk. Hy was bewusteloos. Hulle het hospitaal toe met hom gejaag, maar die publiek het geweet dat hy nie sy span op die veld sou kon lei nie. 

Almal het die nuusblaaie met valkoë dopgehou. Toe die skok ...!

Hy is verlam in sy onderlyf. Sy hele lewe is verwoes. Die toekoms was meteens oneindig donker en sy loopbaan as rugbyspeler vir altyd verby.

Hierdie donker skaduwees wat oor sy pad was, het al langer en donkerder geword. Hy kon nie sy graad aan die einde van daardie jaar kry nie. Sy dae in die hospitaal was baie meer as sy dae in die klas. Sy droomberoep moes hy laat vaar ... 'n dokter in 'n rystoel ... ondenkbaar.

Na vele oorwegings was selfmoord die enigste aanvaarbare uitweg, want hy kon geen toekoms vir hom sien nie.

Na 'n mislukte poging, het sy ouers hom nie vir 'n enkele minuut onder hulle oë laat uitgaan nie. Hulle was só bang ...

Toe gebeur dit! Sondag, 29 November ... Dit was sy ma se verjaardag, ook haar laaste verjaardag hier op aarde saam met hulle. Sy het hom gevra om saam met haar kerk toe te gaan. Hy wou eers nie, maar hy het tóg later, baie teen sy sin ingewillig, net vir sy ma se onthalwe.

Van die dominee se preek onthou hy nie veel nie, want die teksvers het soos 'n refrein deur sy gedagtes gemaal: "Vergeet dit wat agter jou is en strek jou uit na die dinge voor jou." Daardie woorde was die keerpunt in sy lewe.

Dit het die grondslag vir sy "nuwe lewe" gevorm, want hy het besef dat elke skaduwee op jou lewenspad van die Here af kom met 'n doel. 

Die nuwe hoofstuk in sy lewensboek het hy aan sy ma opgedra wat nie ophou glo het aan hom nie. Hy het besef dat hy nog steeds 'n bydrae in die mediese wêreld kan maak. Daar is só baie onbeantwoorde vrae oor die groot "K" - die onsigbare sluipende dief wat niemand ontsien nie. Daar is niks verkeerd met sy hande en sy verstand nie. En nou met sy hart op die regte golflengte ingestel, het hy skielik 'n toekoms. 

['n Graad 10-opstel in die sewentigerjare van een van die lesers.] 

Tuesday, 24 December 2024

Die Kersgeskenk

Dis die dag voor Kersfees.

Ek en my wederhelf is op pad na die plaaslike ouetehuis. Sedert my pa, wat ‘n inwoner daar was en presies drie jaar gelede oorlede is, neem ons elke jaar Kersgeskenkies vir die inwoners.

Ons hou stil voor die gebou en elkeen haal ‘n groot sak vol geskenke uit die kattebak. Binne gekom, stap sy na die vrouevleuel en ek loop die blinkgepoleerde gang af na die mansafdeling.

By elke kamer gaan ek in en gee ‘n geskenkie af. Die inwoners is uitgehonger vir geselskap en dis eers laatoggend toe ek by die laaste kamer instap. Oom Nathan se kamer.

Oom Nathan en my pa was vriende en ek kuier altyd lekker by hom.

Sy oë blink toe ek sy pakkie oorhandig.

“Ek hoop dis tjoklits,” sê hy terwyl hy dit in die laai van sy bedkassie wegbêre.

Ek sit nog ‘n rukkie by hom en gesels.

Hy is weer op sy gunstelingonderwerp, sy wedervaringe gedurende die Tweede Wêreldoorlog toe hy in Noord-Afrika diens gedoen het. Dan vertel hy weereens van sy verloofde, Beth, wat hom vir ‘n ander man gelos het terwyl hy weg was. Hulle het albei in Londen gewoon en het ‘n maand voor die oorlog uitgebreek het, verloof geraak. Sy was ‘n winkelassistent en hy ‘n soldaat in die weermag

Soos alle verliefdes, het hulle ewige trou aan mekaar gesweer. In die begin was daar gereeld briewe, maar toe tref ‘n ramp hom. Sy tenk word deur ‘n mortier getref en hy is met ernstige beserings afgevoer na ‘n veldhospitaal toe, daarna na ‘n plaaslike hospitaal waar hy vir meer as drie maande aangesterk het. Namate sy gesondheid verbeter het, het hy begin navraag doen oor enige pos van Beth, altyd was die antwoord dieselfde. Briewe wat hy geskryf het was nooit beantwoord nie.

Hy het toe maar aanvaar dat sy liewe Beth moed opgegee het nadat sy vir so lank nie van hom gehoor het nie.

Hy is later ontslaan en in Londen aangekom, was hy geskok om te sien dat die buurt waar Beth gewoon het verpletter was deur die Duitsers se bomaanvalle. Ook die winkel waar sy werksaam was, is heeltemal vernietig. Na maande se vrugtelose gesoek het hy aanvaar dat Beth moes omgekom het in die aanvalle wat Londen nag na nag geteister het. Kort daarnan het hy verhuis Suid-Afrika toe om ‘n nuwe lewe te begin. Ons kuier lekker vir nog ‘n uur of so toe my vrou saggies aan die deur klop en aandui dat ons moet aanstaltes maak.

Op pad huis toe gaan die gesprek oor die spesifieke twee oumensies, Tannie Liz en Oom Nathan. Ons stem saam dat dit so tragies is dat die oorlog soveel mooi verhoudings tot niet laat gaan het. Ek vra uit oor Tannie Liz se omstandighede. My vrou vertel dat sy in Londen woonagtig was en pas verloof geraak het toe die oorlog uitbreek en haar verloofde, Jonathan weg is Noord-Afrika toe.

Ek voel hoe kry ek hoendervleis en gaan parkeer in die eerste en beste parkeerplek.

“En nou?” vra my vrou, “is daar iets verkeerd?”

“Ek weet nie, maar sê nou net ...” prewel ek.

“Hoe bedoel jy nou?” vra sy so half opgewonde, sy kan sien dat iets my geweldig pla.

“Tant Liz en Oom Nathan, kan jy dit nie sien nie? Dink jy dit kan moontlik wees?” ek is nou heel opgewonde, oortuig dat ek iets hier beet het.

“Hoe bedoel jy nou?” sy snap nog nie wat ek probeer sê nie.

“Dink net, Jonathan en Nathan, Beth en Liz, verloof, oorlog,” rammel ek my gedagtes af.

Sy staar my met groot oë aan: “Dis ongelooflik, maar ek dink jy kan reg wees, draai om, ons moet gaan seker maak.”

By die ouetehuis aangekom is ek dadelik na Oom Nathan toe en my vrou na Tannie Liz se kamer.

Ons plan is om soveel moontlik van die twee se verloofdes uit te vind en dan ons bevindinge te vergelyk. ‘n Halfuur later is ons in die sitkamer met ons “bewyse.”

“Ek dink ons is reg,” my vrou is nou heel opgewonde, “Tannie Liz het haar verloofde Jonathan genoem!”

“En Oom Nathan het sy verloofde Beth genoem!” ek kan my opgewondenheid nie beteuel nie.

“En hier is die finale bewys,” kom dit triomfantelik van my vrou, “Liz het vir my ‘n foto van Nathan gegee.”

Met bewende hande vat ek die foto by haar, die foto van ‘n jong soldaat, onmiskenbaar Oom Nathan.

Ons kyk mekaar aan: “Weet jy wat dit beteken?”

Ek voel skoon aangedaan en die trane loop by my vrou se wange af.

Sonder om verder te praat drafstap ons in die gang af na Oom Nathan se kamer.

“My maggies, is jy alweer hier, ou seun?” glimlag hy ons toe.

“Ja, Oom, kom saam, ek wil Oom aan iemand gaan voorstel.” Ek help hom uit sy gemakstoel uit.

Stadig beweeg ons in die gang af na die aangrensende vleuel van die tehuis.

Ons sien Tannie Liz in die sitkamer in die sonnetjie op ‘n rusbank sit. In die sitkamer heers ‘n Kersatmosfeer. Die vertrek is versier met dle allermooiste versiersels met ‘n groot Kersboom met liggies wat flikker in die een hoek. Ons stap na haar toe. Sy kyk vraend op van haar hekelwerk.

“Kan ek Tannie aan iemand voorstel?” 

Haar gesig verstar as sy na Oom Nathan kyk, dit lyk of sy ‘n spook gesien het.

“Jonathan?” kom dit huiwerig van haar.

“Beth?” antwoord hy, die ongeloof duidelik in sy stem.

Huiwerig gaan sit hy langs haar. Met ‘n bewerige hand streel hy oor haar wang en neem haar dan in sy arms. Sy snik saggies.

My wederhelf pluk aan my mou en dui aan dat ons moet spore maak.

Net toe ons omdraai sê Tannie Liz met ‘n betraande gesig, “Dankie julle, vir die beste Kersgeskenk ooit.”

Presies ‘n week later is ons eregaste op die grootste troue wat nog by die ouetehuis plaasgevind het.

[Peter Thomas - dankie! Klik
HIER vir die oorspronklike storie - dankie, Anoniem, wat dit vir ons aangestuur het.]

Friday, 6 September 2024

Vrydag-terugflits: Geitjie in die Boeing

Wys my 'n meisiekind met sproete en oranjerooi hare en ek wys vir jou 'n geitjie, sê 'n mooi vrou met swart hare en bottelkuite in die vertreksaal van die lughawe.

Sy sê dit op 'n goedige manier, want die rooikop met die sproete na wie ons sit en kyk, is nie ouer as ses nie.

'n Geitjie - as iemand nie dié uitdrukking ken nie - is 'n parmantige meisiekind, soos die een wat haar verloofde in die woonstel bokant myne met die konfytkant van 'n sny brood geklap het.

Eintlik ken ek heelparty stories van rooikoppe, soos van die enetjie in Australië wat paljas op ons toebroodjies wou smeer omdat ons in haar eetplek Afrikaans gepraat het, maar dit is 'n lang storie.

Nietemin. Soos dit dikwels gebeur wanneer 'n mens in die vertreksaal na iemand sit en kyk, beland ek en die geitjie in die vliegtuig langs mekaar; ek met my koerant en sy met haar handsakkie van plastiek.

Sy ken die vliegtuigryery, want sy gord vas en kyk by die venster uit voordat ek kan aanbied om haar te help. Sy draai eintlik haar rug na my toe, asof sy daarmee wil sê sy het nie geselskap nodig nie.

Die Boeing trek al hier by 6000 meter toe sy terugdraai en 'n peperment uit die handsakkie haal. Toe kyk sy vir die eerste keer na my - na my hande, my das, my kraag, my bril en my hare en terug tot by die hande.

"Wanneer kom die koeldrank?" vra sy.

Op dié manier raak ons darem so half aan die gesels, al steur sy haar nie aan vrae nie en doen sy self die vrae-werk. "Waar's jou vrou?" wil sy weet. Hoekom vlieg sy nie saam nie? Hoeveel kinders het julle? Hoe oud is hulle? Wat's hulle name?"

Sy vra 'n Sprite en twee pakkies grondboontjies toe die lugwaardin verbykom.

"Lees jy by die huis ook heeltyd koerant?" vra sy toe ek naderhand die agterstallige leeswerk probeer inhaal.

"Kyk jy saans televisie of speel jy met jou kinders?"

Toe ons oor die Grootrivier vlieg, wys ek haar die blink lint en sê dit is waar ek grootgeword het.

"Woon jou ma-hulle nog daar?" hervat sy haar ondervraging.

"Wanneer gaan jy vir hulle kuier? Gaan jou kinders saam? Is jou ma-hulle lief vir jou kinders?"

Toe die ete bedien word, weet ek nog nie eens wat haar naam is nie, en sy weet omtrent alles van my, behalwe my banknommer.

Sy hoop ons kry nie hoender nie, want die hoender in 'n vliegtuig is nie soos Kentucky nie, sê sy. As ek nie my kaas en sjokolade wil hê nie, sal sy dit vat.  Sy vat altyd vir haar ouma 'n stukkie vliegtuigkaas en die stukkie sjokolade.

Nou weet ek darem sy gaan by haar ouma kuier.

Nadat sy haar kaas en sjokolade geëet het en myne in die handsakkie gebêre het, waag ek dit om haar oor haar ouma uit te vra. Dié woon in Belville, wat nie ver van die see af is nie, maar te ver om te stap.

Eers toe die vliegtuig oor die Kaapse Vlakte sak, sê sy haar naam is Mariaan en sy word so vies wanneer haar ouma Marie-jaan sê. Haar ouma en oupa wat dood is, het ook so Marie-jaan gesê.   

Die Boeing hardloop al op die aanloopbaan toe ek verneem sy woon in Johannesburg by haar oupa en sy nuwe vrou, wat baie jonger as haar ouma is, maar nooit tyd het om te gesels nie. Dit is dié dat sy dikwels vir haar ouma in die Kaap gaan kuier.

Iets sê vir my, nou weet ek soveel van haar soos ek behoort te weet. Dit is die rede hoekom ek nie verder uitvra nie.

Toe die passasiers begin toustaan om af te stap, klim die geitjie oor my bene om in die paadjie te kom. Sy sê dankie vir die kaas en die sjokolade en sy hoop ek gaan gou terug huis toe, want my kinders sal verlang.

Ek sit en wag maar dat die mense begin uitstap terwyl die een vraag in my brand; die vraag wat ek te bang was om te vra.

Sy stap eers 'n entjie saam met die tou, maar toe draai sy om en kom fluister in my oor voordat sy wegskarrel: "My pa het my ma geskiet en nou sit hy in die tronk, want hy's 'n moordenaar."

Gerhard Burger

[Die Taalgenoot - Kortom - Gerhard Burger - Julie 1992] 

Klik HIER en word deel van Die Taalgenoot-familie. 

Tuesday, 25 June 2024

Terugflits: Kimberley Jim en die perde

Dit kan 'n liegstorie ook wees, maar 'n man wat grys sou gewees het as hy nie bles was nie, vertel nou die dag in 'n vliegtuig 'n interessante storie.

Agt maande gelede, sê hy, staan een van sy kollegas, wat Kimberley Jim genoem word, een môre voor 'n plek waar mense geld op die perde verwed.

Kimberley Jim, wat dikwels wens hy kan vinnig ryk word, soos die delwers by Kimberley, vroetel in sy voorsakkie en haal R14 uit.

Hy staan nog so met die R14 en wonder of hy moet of liewer nie, toe staan 'n ou tannie van maklik 75 langs hom.

Sy wil haar nie met sy sake bemoei nie, sê sy, maar as hy die winste met haar deel, sal sy die geld gaan verwed volgens 'n stelsel wat sy van haar oorlede man geleer het.

Kimberley Jim is die soort mens wat grys tannies vertrou, met die gevolg dat hy die geld aan haar gee en 'n afspraak maak om haar die middag ná die wedrenne op dieselfde plek te kry.

Dit is toe dat hy sy eerste R350 000 gewen het.

Die ou vroutjie was sesuur daar met die wedkaartjie in haar hand en hulle het saam-saam die R700 000 gaan opeis.

Die volgende twee weke het Kimberley Jim haar elke wedrendag daar in die straat gaan soek, maar dit was eers in die derde week toe hy met R250 in sy hand voor die wedplek staan, dat sy skielik weer langs hom opduik.

Sy het R25 geneem en hom gedwing om die ander geld in sy sak te steek. Toe hulle dié middag sesuur weer voor die wedplek staan, was hulle elk R400 000 ryker. 

Na nog ses weke, sê die bleskop, was Kimberley Jim 'n man met byna R2 miljoen in die bank, maar met geen benul van wie die ou tannie is nie.

Al wat sy wou sê, is dat sy die Booysens-bus huis toe haal en nie saam met vreemde mans in motors ry nie.

Eers ná hul tweede groot geluk het hy sy vrou van die ou vrou se rol in sy geldwennery vertel. Hy het toe al vir sy vrou 'n nuwe motor gekoop en 'n stapel R50,00-note in haar handsak gedruk terwyl sy geslaap het.

Die meeste vroue sou dankbaar gewees het, maar Kimberley Jim s'n is 'n agterdogtige, jaloerse vrou. Sy glo nie die storie van die ou tannie en die weddenskappe nie.

Die volgende maand het sy elke wedrendag saam met Kimberley Jim voor die wedplek gaan staan, maar die ou vroutjie het nie een keer opgedaag nie. Kimberley Jim se vrou het hom begin wantrou.

Verlede week, toe sy vrou nié saamgaan nie, loop Kimberley Jim weer die ou tannie raak en sy gaan verwed R18 000 op die perde waarmee hulle elk oor die R200 000 wen.

Toe hulle dié aand groet en van mekaar wegstap, maak Kimberley Jim 'n draai en volg haar tot by die busterminus.

Hy klim vinnig voor haar in die Booysens-bus en gaan sit heel agter. Na 'n rukkie klim sy ook in en gaan sit omtrent in die middel. So ry hulle toe saam-saam Booysens toe.

Soos 'n regte speurder klim Kimberley Jim skelmpies by die bushalte af waar die ou tannie afklim en stap 'n hele ent agter haar straat af.

Uiteindelik gaan staan sy voor 'n geboutjie wat jare gelede 'n huis was, maar nou deur 'n loodgieter gebruik word. Sy sluit die deur oop en stap binne.

Kimberley Jim wag 'n paar minute en gaan klop toe aan. Hy klop en klop totdat sy vinger seer is, maar niemand kom maak oop nie.

Die volgende dag was Kimberley Jim vroeg by die geboutjie waar die loodgieter eers agtuur opgedaag het.

Toe Kimberley Jim hom oor die ou vroutjie uitvra, het die loodgieter gevra of hy koffie wil drink terwyl hy na die storie luister.

In Booyens weet almal van die ou tannie, het hy vertel. Sy het tot in 1952 in die huis gewoon wat nou die loodgieter se werkplek is.

Haar man is in 1950 aan myntering dood en sy het nie 'n sent geërf nie omdat hy alles op die perde uitgespeel het. Sy is twee jaar later in 'n armmansgraf begrawe.

Nou word vertel sy word nog soms in ons dorp, wat Johannesburg genoem word, gesien waar sy mans oorreed om haar met hul geld te laat perde speel.

Die mense vertel van mans wat al duisende rande gewen het, sê die loodgieter, maar daarna alles verloor het wat hulle ooit gehad het - huis, vrou, kinders, werk, motor en selfs hul verstand.   

- Gerhard Burger

[Die Taalgenoot - Kortom - Gerhard Burger - Mei 1992]

Wie van ons lesers kan hierdie storie onthou?? 
Laat weet gerus!!

Friday, 11 November 2022

Die mynspook

As 'n halflyf-spook jou beveel om iets te doen, dóén jy dit. Veral as hy die belofte van 'n kissie vol goue ponde soos 'n wortel voor jou neus hou. Maar wie sou kon raai dat die ware skat uiteindelik nie in die kissie sou wees nie ...?

Oupa het sy beste spookstorie só begin: "Nog voor die tyd van  Casino's, het ek al die jackpot geslaan ..."

Dit was lank, lank gelede. Ek was nog jonk en sterk, maar brandarm, soos almal van daardie tyd. Bedags was ek 'n grofsmid en snags 'n vroeënagskof-werker by die Nigel-myn, ten spyte van die stories wat geloop het dat dit daar spook.

Een donker wintersnag sukkel ek met my fiets oor die growwe mynsand. 'n Skielike, ysige wind waai sand in my oë en ek gaan staan. Voor my op die grond sit 'n man sonder bene. Hy draai op sy stomp lyf en kyk vir my. Hy het 'n wilde baard en is gewapen met geweer en bandelier. 'n Oudkryger! Nee, sien ek, hy is jonk, maar met 'n leeftyd se smart op sy gesig. My hare staan penorent toe ek skielik besef: ek kan dwarsdeur hom sien ... Dit is die mynspook!

Ek wil weghardloop, maar die halwe man se brandende oë hou my vasgenael. Daar is iets dringends in sy blik. Ek onthou skielik dat 'n mens 'n spook moet aanspreek; skraap my moed bymekaar en vra: "Waarom rus jy nie?"

"Daar is ongedane sake wat my hinder," antwoord die spook in 'n hol stem. "Doen wat ek sê en jy sal ryklik beloon word."

Toe ek hoor die spook praat van 'n beloning, onderdruk ek my vrees en staan 'n bietjie nader om mooi te hoor.

"Net hier, waar ek nou al vir sewentien jaar wag, lê die res van my bene begrawe. Dis afgeskiet deur 'n Kakie-kanon tydens die oorlog. Grawe dit op en herbegrawe dit saam met die res van my beendere in die kerkhof in Heidelberg, onder die houtkruis wat gemerk is, Geliefde broer. Jou beloning sal jy kry, maar jy moet dit deel met my broerskind, of die ongeluk sal jou ry." 

Met dié woorde verdwyn die spook.

Dieselfde nag nog het ek die oorblyfsels van die spook se beendere uitgegrawe, net daar waar hy gedraai het. Dit was maar 'n paar beenskerwe en twee verslete, halfverrotte leerstewels. By die kerkhof in Heidelberg het ek gou die houtkruis gevind en begin grawe. Ek was baie bang - ek was immers besig om grafskending te pleeg, maar die belofte van 'n beloning het my aangespoor. Nee, eintlik was dit nie die enigste rede nie. Die bondeltjie bene het my hartseer gemaak - oor die oorlog en oor my mense. Dit het 'n saak van eer geword om die spook se wens uit te voer.

Ek het die kis gevind en die deksel oopforseer. Binne het hy gelê, 'n halwe geraamte en die oorblyfsels van 'n tabaksak. Ek het die spook se bene versigtig in die kis neergelê. Toe ek die tabaksak skuif, sien ek 'n brief uitsteek. My hart het skielik vinniger geklop terwyl ek dit versigtig oopgevou het - dit was al geel en bros van die ouderdom.

My naam is Christiaan van der Heever. Ek en my broer, Pieter, is op pad om by die Heidelberg-kommando aan te sluit. Ek het my kissie goue ponde begrawe onder die middelste bloekom van die drie wat by die Nigel-stasie staan. As ek die oorlos nie oorleef nie, laat ek die kissie ponde na aan my broer, Pieter, se babadogtertjie, Miemie. God behoed ons en ons dierbare Vaderland.

Ek het die brief versigtig toegevou en teruggesit, die kis toegemaak en die graf toegegooi. Toe het ek 'n paar veldblomme vir die graf gaan pluk.

Ek het vir 'n paar dae lank gehuiwer, diep gedink voordat ek die kissie met goue ponde gaan soek het. Iemand het van die anderkant die graf met my gepraat en teen dié tyd het Christiaan van der Heever vir my gevoel soos 'n ou bekende, 'n vriend. Uiteindelik kon ek genoeg moed bymekaar skraap om die kissie te gaan soek, en ek het dit gekry presies op die plek wat in die brief aangedui is. Die inhoud daarvan het my asem weggeslaan: daar was genoeg goue ponde om my lewenspad vir altyd te verander. Tot vandag toe versorg ek die graf, en die woorde op die kruis het ek verander om te lees:

Christiaan van der Heever
Geliefde broer
Gesneuwelde vriend en weldoener           

Die mynspook het nooit weer geloop nie.

"Oupa," het ons gevra, "Wat het geword van die broerskind, Miemie? Het jy ooit die skat met haar gedeel?" Oupa het aan sy pyp gesuig en sag na ouma gekyk.
"Vra vir ouma Miems."

Kristina Krohn

[Taalgenoot- September 2002]