Showing posts with label Storms. Show all posts
Showing posts with label Storms. Show all posts

Sunday, 25 February 2024

Gebed vir iemand wat deur 'n storm gaan ...

Dankie Here, dat U raaksien wanneer U kinders besig is om te spartel. Dankie dat U weet wanneer dit vir ons voel asof die water bo-oor ons koppe gaan spoel. Dankie dat U my verdrink-oomblikke raakgesien het. En dankie dat U in daardie oomblikke nie net vir my vasgehou het nie, maar ook vir my stukkies hout gestuur het waarmee ek vir my 'n ark kon bou ... elke oproep om te hoor hoe dit gaan, elke boodskap en blommetjie, 'n houer suurstof om die asemhaal makliker te maak, 'n bak macaroni en kaas voor my deur, 'n kaartjie, lysies met raad, medisyne, soveel omgee en liefde. Dit was stukkies hout wat U gestuur het, en waarmee ek vir my 'n ark kon bou. 'n Ark wat my herinner het dat ek nie alleen is nie, 'n Ark wat my vertel het van al U kinders wat saam met my in die storm is. 'n Ark wat vir my gewys het dat U liefde is. Altyd.
Ek weet nie wanneer hierdie storm gaan weggaan nie, Here. Ek wil my nie moegmaak met teorieë en voorspellings nie. Ek wil my lyf en my hart in U liefde kom neersit, soos wat Noag in U ark weggekruip het. Daar, waar U liefde om my vou, wil ek soos 'n klein kindjie net vir U kyk, my oë op U hou. Want Here, U is my lewe. En in U liefde, wil ek leef. Altyd. Dis vir my genoeg.
Amen
(Katrienkie@2020)

[Dankie, Anoniem, wat hierdie gebed aangestuur het waarvan die inhoud nog net so relevant is en altyd sal wees as in 2020.]

Tuesday, 26 December 2023

Raad: Storms in jou lewe


Soveel kere het mense al gevra hoe ek staande bly deur die storms van die lewe ... 

Dis dan wanneer ek opkyk, glimlag en met 'n jubelende hart antwoord: "My Vader is GROTER as die storms van die lewe. Hy gee my krag, wysheid en insig. Hy dra my wanneer ek nie kan nie en lê my saggies neer waar ek weer kan aangaan. Alles wat ek is en ooit sal wees, is alleen uit Sy liefde en genade. 

Gaan lees ook die Die storms van die lewe - deur Gary Kieswetter HIER.

[Dankie, Ria, vir die deel van hierdie stukkie.]

Friday, 13 October 2023

So mooi en waar

Wonderwerke gebeur daagliks rondom ons. Ons moet net ingestel wees om dit raak te sien.

"As jy net sou terugkyk op die pad wat jy al gestap het tot hier, sal jy elke wonderwerk sien wat Ek in jou midde gedoen het. Hou vas aan My, al vat die wonderwerk lank, onthou dit: Ek werk nog aan jou, My kind. Het jy agtergekom dat die aanslae en storms wat jou getref het, jou nader en nader aan My laat beweeg het? Die Here sê omdat jy My genader het, sal Ek na jou nader.

Dalk voel jy asof jy teen 'n muur vasbid, vra jy vir hulp, maar jy kry nie antwoord nie ... God sê: My skatkamers in die hemele is oop vir jou, Ek hou niks van jou terug nie. Hou op om te twyfel, en vat wat Ek vir jou wil gee. Ek stort oor jou uit: My salwing, My heerlikheid en My goedheid. Ek oorlaai jou met oorvloed, guns, voorspoed en beskerming ... vat wat jy nodig het, my kind.

[Dankie, Anoniem, vir hierdie gedagtes.]

Sunday, 2 August 2020

Staan jou huis?

Alle huise kry storms maar nie alle huise staan na die storms nie!
Mat 7:24  Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ‘n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het. 
Mat 7:25  En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm, en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die rots. 
Mat 7:26  En elkeen wat na hierdie woorde van My luister en dit nie doen nie, sal vergelyk word met ‘n dwase man wat sy huis op die sand gebou het. 
Mat 7:27  En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm en dit het geval, en sy val was groot. 
  • Staan jou huis nou in die storms wat in ons land en wêreld woed??