Die gróótste geskenk wat ons aan ons dierbares kan gee, is die geskenk van óns gebede. Ons het hulle lief omdat ons dierbare Heer hulle aan ons leen en hulle kósbaar en úniek gemaak is deur die Vader se líéfdevolle hande.
Ons sê ook dankie vir die spesiale bydraes wat hulle vir ons én vir die wêreld maak. Hierdie positiewe gedagtes wat ons omtrent hulle koester, gaan sáám met ons gebede uit om hulle te seën en te drá in álles wat betrekking het tot hulle lewens.
Wanneer ons vir dierbares bid, beperk ons hulle nie tot dit wat ons dink wat tot hul hoogste heil sal wees nie. Ons plaas hulle ónvoorwaardelik in God se sorg, en ons weet *wáár* HÝ in beheer is, sal net dit wat reg en goed is met húlle gebeur. Ons gebede wys hoe *líéf* ons hulle het en hoe *dánkbaar* ons is vir die voorreg om óns lewens met húlle te kan deel.
In die stilte van ons gebed word ons óóp kanale waardeur die liefde van God in ons harte, soos 'n suiwer stroom deur ons kan vloei tot ons eie seën, maar ook vir húlle vir wíé ons bid.
.
Heer, laat Ú helder lig skyn in die lewens van elkeen vir wie ek bid. Dankie Jesus. Amen.

No comments:
Post a Comment