Vandag drink ons 'n koppie tee saam met Esna van der Merwe, 'n inwoner wat die afgelope jaar Ons Huis haar tuiste noem. In haar rooi bloes is sy nie bloot net aanwesig nie; sy lééf met passie. Esna gryp die lewe met albei hande aan en Galasiërs 5:22* is haar daaglikse riglyn.
Gebore en getoë in Upington, is sy 'n Noord-Kapenaar in murg en been. Upington is mos bekend vir sy moordende warm dae, en dié dorp ding mee met ander Noord-Kaapse plekke om die titel van warmste plek in die land, maar Esna sê toe hulle kinders was, was speel baie hoog op hulle lysie - die hitte ten spyt. Hulle het nooit besef hulle bly in só 'n warm deel nie en wat jy nie weet nie, pla jou nie - vir hulle kinders was die hitte normaal. Deesdae, met die druk van 'n knoppie, kan jy presies weet hoe warm dit waar is op 'n gegewe moment, so miskien sou hulle met vandag se kennis ook oor Upington se hitte gekla het ...
Nadat hul lewe 'n draai in Vryburg, die Texas van Suid-Afrika, gemaak het, het hulle in Kimberley kom aftree. Die stad wat bekend is vir sy vriendelike en gasvrye mense.
Een koppie tee is nie genoeg om die mens agter die teekoppie te leer ken nie. Daar sal nog baie koppies tee gedrink moet word ...
*Gal. 5:22 Die vrug wat die Gees voortbring, is: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing.

No comments:
Post a Comment