Hierdie is spesiaal vir julle wat dit saam met my beleef het ...
Plaaskind ...
Trekkertjies speel onder die naartjieboom.
Op die harde mat van grondboontjies op die wa lê en droom.
Groen vrugte "steel" uit die vrugteboord en tuin,
die skelm eet daarvan en ja later ... die maagpyn.
Die ry op 'n slap-oopswaai-plaashek.
Kruiwa-stoot en verken van elke vreemde plek.
Die terg van die knorrige bul met sy wrede horings
en dan die gillende, giggelende weghol kaalvoet deur die dorings.
Jou asem word weggewaai agter op die bakkie,
terwyl jou hande brand en sny met die gryp na elke verbygaande gras en takkie.
Op en af teen die melkstal se trappe met voete vol beesmis.
Resies hardloop om te kyk wie eerste op die rondomstoep is.
Die kalwers wat die tiet skoon uit jou hande ruk;
terwyl hulle gulsig hul melk opsluk.
Die speel en soms nerwe verloor in die kuilvoergat.
Is die sproeiers oop; is jy verseker papnat.
Oral in-en-op klouter en verken waar jou ouers jou belet.
'n Reuse voorreg om herinneringe te bou op die plaas,
vol plesier, lag en pret.
Rosetta

No comments:
Post a Comment