Friday 13 September 2024

Terugflits: Bly by die hoofsaak

Indien 'n mens wil, kan 'n mens darem baie by ander mense leer. Eintlik het elke mens soveel dinge om ander mense te leer. 

Ons dink nie altyd ons kan by almal iets leer nie, maar ons kan.

Ouers kan by hul kinders leer en kinders by hul ouers, 'n werkgewer by 'n werknemer, kollegas by die werk van mekaar en rykes by armes en armes by rykes, jong mense by ou mense en ou mense by jong mense.

Vandag vertel ek van iemand by wie ek 'n baie belangrike lewenswysheid geleer het. Om dit te kon leer was een ding; om dit prakties toe te pas, was iets heeltemal anders.

Vandag nog herinner ek my by herhaling aan 'n lewensles wat 'n saak heeltemal kan omgooi. Hy is 'n direkteur van maatskappye, 'n belangrike en vername man, sy hele lewe is 'n geslinger van vergadering tot vergadering - sy dag bestaan uit die deurwerk van agendas, die een ná die ander.

'n Nederige mens met 'n nugtere uitkyk op die lewe. Tog sal hy een sinnetjie gereeld herhaal. Op vergaderings, buite vergaderings, wanneer hy kuier of wanneer hy werk.

Een saak staan vir hom bo al die ander sake uit. Hy leer dit ook vir ander mense. Hy het dit vir my geleer.

Die hoofsaak van die hoofsaak is om by die hoofsaak te bly

Dit klink so belaglik. Tog is dit so wesenlik. Ons maak in gesprekke so baie Rooikappie-afdraaipaadjies op vergaderings, in die lewe, in ons besluite en in ons denke. Ons kan dit maar leer en onthou en leef. Bly by die hoofsaak van die hoofsaak.

Moenie jou laat mislei deur allerhande afdraaipaadjies nie.

Dit maak jou net deurmekaar en bemoeilik sake.

Of dit nou in jou lewe is en of dit op 'n vergadering is, of jy groot besluite moet neem of sommer kleintjies. Bly by die hoofsaak. Moenie fokus verloor nie, want deur nie te fokus nie, verloor jy tyd en vergeet jy waaroor dit gaan. So eenvoudig: Bly by die hoofsaak van die hoofsaak.

[Noordkaap - Twyfelhoekie - Hannes Noëth]

No comments:

Post a Comment