Tuesday 22 August 2023

Twyfelhoekie: Moet nooit ophou opstaan nie

In elke mens se lewe kom daar fases van heel bo leef - op die top en kruin van jou lewe - en fases van heel onder wees - plat op jou maag en teen die bokskryt.

Een van die grootste uitdagings is sekerlik om te kom waar jy eens was, of selfs beter af te wees as waar jy was. Maar die geheim is om dit te bly glo. Bly hoop en vashou aan die wete dat jy weer sal kom waar jy was.

Hoe lank jy plat op die grond lê, word egter deur karakter bepaal. Sommiges lê lewenslank nadat hulle platgeslaan is. Ander kan dadelik weer opstaan. Wie jy ook al is, en wat die omstandighede ook al is, 'n mens kom weer op die punt waar jy was - selfs nog beter. Aan daardie stukkie hoop moet 'n mens vashou. Jy moet dit koester en laat groei.

Mense praat soms van hul tweede lewe, hul derde geleentheid, hul vorige krisis of hul ergste beproewing.

Deur dié dinge moet 'n mens altyd jou karakter wys en vorentoe beur. Dit is nie altyd ewe maklik of ewe gerieflik nie, maar om plat op die grond te bly lê, gaan jou niks help nie.

In tye van voorspoed beur 'n mens dankbaar vorentoe en in tye van teëspoed, dra 'n mens geduldig vorentoe - maar nooit mag 'n mens ophou vertrou nie. Nooit mag 'n mens ophou opstaan nie.

Reg voor my kantoorvenster hardloop twee seuntjies kaplaks in mekaar vas. Ek wag vir trane. Niks. Hulle lag, spring op en besluit om dit weer te doen. Kaplaks. Val weer en staan weer op. Dit is nie nodig om te bly lê nie.

Noordkaap 9 Augustus 2017 bl.4 - Hannes Noëth

[Dankie, Anoniem wat die uitknipsel gestuur het. Besoek gerus Netwerk24 (Noordkaap Bulletin) se gereelde rubrieke - daar is baie stof tot nadenke in hierdie rubrieke.]

No comments:

Post a Comment