Tuesday 15 August 2023

Liewe, liewe Jesus

Ek hoop nie ek is te laat met my brief nie, want oupa is baie siek. Nou wil ek net vir Liewe Jesus gou-gou vertel wat oupa van hou en nie van hou nie, sodat as hy in die hemel kom als reg sal wees. 

Liewe Jesus, sê vir ouma sy moet die afval en doekpoeding reghou, want ek dink oupa sal baie honger wees as hy daar kom. Jy weet self hoe ver die hemel van die aarde af is en as mens so lank gery het, is mens baie honger. Sorg tog asseblief dat daar baie boeke is, want oupa het graag gelees toe hy gesond was. Hy hou nie van katte nie, want die kathare laat sy bors toetrek. Hy is mal oor honde, so dit sal goed wees as Liewe Jesus vir Brak wat verlede jaar dood is, daar kan hê.
O ja, Liewe Jesus, oupa snuif ... hy snuif net Singleton, dit sal nie help om ander snuif te koop nie, jy gaan net jou geld mors.

Dan net 'n laaste gunsie, my oupa het nooit van blink goeters gehou nie. Nou lees ek in die Bybel,  in die hemel is die strate van goud. Ag, Jesus, dis nie dat oupa ondankbaar is nie, maar hy sal meer daarvan hou om in die veld tussen die diertjies en voëltjies te bly. So, asseblief, as ouma daar by die blink strate bly, laat sy asseblief dadelik bos toe trek, want as oupa daar kom, moet sy by hom wees. Ek dink ek het nou als gesê wat ek moet.

Stuur hierdie drie xxx vir ouma.

Ek lief jou duisend Liewe Jesus.  

[Klik HIER vir inspirasiestories]

No comments:

Post a Comment