Tuesday 29 August 2023

Dinsdag-denke: Stukkende hartmens

Die pyn van ons hart het meer spesiale aandag nodig. Dit het die liefdevolle Teenwoordigheid en deernis van ons groot Geneesheer nodig.
 
As ons hoofpyn het, sluk ons 'n pil, as ons ons nerfaf geval het, plak ons 'n pleister en as iets ernstig fout is gaan ons hospitaal toe.

As ons hart stukkend is, weet ons dikwels nie waarheen om te gaan nie. Soms is die pyn eenvoudig te groot vir pille, pleisters en ander se pamperlang.

In sulke tye is dit nie jou beste maat, die mees ervare berader of die grootste hartdokter wat jou pyn kan verlig nie. Hulle kan luister, troos en raadgee. 'n Bietjie salf aan jou wonde smeer, maar niks kan daardie diep seer sommer net laat verdwyn nie.

Wanneer jou hart so bloei, is daar net een plek waar jy verligting kan kry - by die voete van jou Vader.

Wanneer jy jou lewe voor Hom uitstort, sal jy ervaar hoe vrede in jou hart invou.

Hoe dieper die wond, hoe meer tyd het jy by Hom nodig. Hoe groter die seer, hoe ryker is Sy genade en ruimer Sy liefde.

Mag jy altyd onthou waarheen om te gaan wanneer jou hart pyn en mag jy die eenheid met Hom vind dat jy mettertyd heel word - en weer met hart en siel kan leef.

Vader, soms is my hart regtig flenters-seer, wanneer ek myself in 'n kokon wil toespin.
Dankie dat U in sulke tye die woorde hoor wat ek nie kan uitspreek nie en die groot seer sien.
Dankie vir U sagte hand van liefde wat my dra tot ek weer die wêreld kan begroet.
Dankie dat U by uitstek 'n Vader vir mense met stukkende harte is.
Amen

No comments:

Post a Comment