Thursday 24 August 2023

Ek weet my God bly in beheer ...

'n Gelowige boer het een perd besit waarmee hy ’n groot klomp werk op sy plaas gedoen het. Een stormagtige aand met rammelende donderweer en blitsende weerlig, ruk die perd los en hardloop weg. Toe die gelowige boer se ongelowige buurman dit hoor, sê hy: “Dit is nou slegte nuus. Ek wonder, waar was jou God? Hoekom het Hy dit nie gekeer nie?” Die gelowige boer het kalm geantwoord: “Sleg of nie. Dit het nou gebeur, maar ek weet my God bly in beheer.”

’n Paar dae later, tot almal se groot verbasing het die vermiste perd na die boer se plaas teruggekeer waar hy gewoond was om kos en water te kry - die keer het ’n groot trop wilde perde hom uit die berg gevolg. Die boer het die kamp agter die perde toegemaak en oornag ’n trop perde bygekry. Die ongelowige buurman het dit gesien en gesê: “Sjoe, dit is nou blote geluk.” Die gelowige boer het geantwoord: “Goed of sleg. Ek weet my God bly in beheer.”

Kort hierna besluit die gelowige boer se seun om een van die wilde perde in te breek. Hy het op die perd geklim, maar sy voet het gegly en in die val het hy sy been gebreek. Toe die ongelowige buurman daarvan hoor, het hy gesê: “Dit is nou slegte nuus. Ek wonder, waar is jou God? Hoekom het Hy dit nie gekeer nie?” Die gelowige boer het geantwoord: “Goed of sleg. Dit het nou gebeur. Ek weet my God bly in beheer.”

’n Paar dae later het gewelddadige, gewapende huursoldate aan die gelowige boer se deur geklop. Hulle het vereis dat hy sy seun saam met hulle moes stuur. Toe die huursoldate egter sien dat die seun se been in gips is, het hulle gesê: “Ag nee wat, hierdie seun sal vir ons niks beteken nie.” Hulle het omgedraai en weggestap. Stil het die gelowige boer sy oë gesluit en God vir sy beskerming geprys.

No comments:

Post a Comment