Friday 1 September 2023

Is krummels die energie werd?

'n Brood val uit 'n bewegende broodwa en rol 'n entjie verder.

'n Stukkie breek af van die brood en bly in die straat lê. Drie mossies peil af op die stukkie wat afgebreek het. 'n Hewige bakleiery breek los. En dit kwetter en skree dat jy hulle waar kan hoor. Na 'n vreeslike vlerkgeklap, kry een die oorhand en begin die krummels gretig oppik, terwyl die ander twee met luide protes in 'n boom gaan sit en voortgaan met die lawaai. Nie een van hulle het die groot brood 'n entjie verder raakgesien nie. Hulle was te besig om oor die krummels te baklei!

Ons maak rusie oor klein dingetjies in die lewe en ignoreer dit wat eintlik belangrik is. Ons baklei oor die krummels van wie maak huis skoon, en wie moet kook, maar die heel brood van die seën om 'n huis te hê, die sien ons nie raak nie.

Ons baklei oor die krummels van wie moet die motor was en wie moet die petrol gaan ingooi, maar die heel brood van seëninge oor ek 'n motor besit, dit sien ek nie raak nie.

Ons kwetter oor die krummels van die mense by die werk wat dit en dat doen, maar die heel brood van seëninge dat ek werk het, en die gesondheid om dit te kan doen, dit sien ons nie raak nie.

Oor die nietighede word ons vir mekaar so kwaad dat kosbare verhoudinge verbreek word.

Voordat ons oor die krummels twis, kom ons kyk eers rond en sien die brood raak! Die krummels is nie die gevolge van die twis werd nie!

Vader, laat ek vandag onderskei tussen krummels en die dinge wat werklik saakmaak.Laat my die heel brood raaksien, en nie die krummels nie.

[Dankie, Anoniem, vir hierdie waardevolle les waaraan ons vandag weer herinner word.]

No comments:

Post a Comment